Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ontknoping: Eers FirstRand, dan Discovery?

Die aankondiging verlede week deur RMB Beherend (RMH) en Remgro dat hulle hul belange in die FirstRand-groep aan aandeelhouers gaan ontknoop, laat die vraag ontstaan watter beleggingsbeheermaatskappy op die JSE in dié voetspore gaan volg.

“Die reaksie van die mark soos gesien kan word die styging in die aandeelprys van Rand Merchant Investment Beherend RMIH (nog ’n beleggingsbeheermaatskappy) dui op ’n verwagting van korporatiewe optrede daar,” sê Victor Mupunga, navorsingsontleder van Old Mutual Wealth.

Discovery se hoofkantoor in Sandton, Johannesburg.Foto: Elvira Wood

Dié aandeelprys het Woensdag met 5% gestyg nadat RMH en Remgro die vorige aand hul plan aangekondig het.

RMIH is in 2011 van RMH ontknoop en op die JSE genoteer. Dit hou belange in Discovery, Momentum Metropolitan en Outsurance.

Remgro hou ’n belang van 30,6% in RMIH.

Casparus Treurnicht, ’n portefeuljebestuurder van Gryphon Batebestuur, het aan Bloomberg gesê RMH en Remgro se aankondiging “kan beleggers moontlik aanmoedig om druk te plaas op beheermaatskappye om hul voorbeeld te volg”.

Hy meen beheermaatskappystrukture is iets van die verlede. “Dit het ekstra lae van gelde en dit skep beleggerswaarde af, wat veroorsaak dat die diskonto’s van die aandeelprys tot die waarde van die onderliggende bates met verloop van tyd al hoe groter word.”

Dit hou verband met die koste van die strukture en dat baie van die beheermaatskappye bestuurs- en prestasiegelde hef om die beleggingsportefeulje te bestuur.

Adrian Cloete, portefeuljebestuurder van PSG Wealth, sê al die beheermaatskappye op die JSE se diskonto’s het die afgelope jaar of twee groter geraak en beleggers wil eerder aandele regstreeks koop.

Die batebestuurder Vestact sê in ’n nuusbrief weens die veranderende standaarde vir korporatiewe beheer en die toenemende druk van aandeelhouers, word hierdie beheerstrukture afgebreek.

’n Goeie voorbeeld is dié van Pick n Pay in 2016.

LEES OOK: Pick n Pay breek sy ou struktuur af

“As aandeelhouers maak dit sin om die ekstra vlak van koste en bestuur te verwyder,” sê Vestact.

Nog moontlike ontknopings

Standard Bank Sekuriteite meen ook die vraag ontstaan of daar verdere ontknoping van genoteerde beleggings uit Remgro gaan wees.

“Daar is geen twyfel dat die ontknoping (van FirstRand) vrae gaan laat ontstaan oor die res van die portefeulje nie, veral ten opsigte van Mediclinic, omdat sy gewig in die portefeulje nou wesenlik gaan styg.

“Dieselfde kan ook oor RCL, Distell en van die ongenoteerde bates gesê word. Is hierdie dalk ’n voorloper tot iets groter wat kan gebeur?” vra nog 'n aandeelmakelaar.

Treurnicht meen ander moontlike ontknopings benewens RMIH is ook Reinet se aandeelhouding in British American Tobacco (BAT) en die Standard Bank-groep se aandeelhouding in Liberty.

Hy verwag ook binnekort ’n transaksie met Grand Parade Investments en sy casino-bates.

Daar is maatskappye op die JSE wat reeds besig is met die ontknoping of die verkoop van onderliggende bates. Dit sluit in Brait, Zeder en Capital & Counties Properties.

Ander beleggingsmaatskappye en belange wat kwalifiseer vir ontknoping wat “heel onwaarskynlik” is, is volgens Treurnicht die volgende:

  • PSG se belegging in Capitec omdat Capitec nog in ’n groeifase is met sy sakebank en huislenings; en
  • Naspers en Prosus se aandeelhouding in Tencent.

Treurnicht meen die probleem met baie van die beheermaatskappystrukture is dat die onderliggende bates hul eie bestuur het en dat daar weinig “aktiewe insette van die beheermaatskappy” is.

“Die beheermaatskappy vra in sommige gevalle bestuursgelde vir die totale bates, hoewel dit ’n passiewe aandeelhouding is.”

’n Voorbeeld van baie duur bestuursgelde wat voorheen kritiek van beleggers gelok het, is dié van Zeder.

Meer oor:  Remgro  |  Rand Merchant Bank  |  Jse  |  Discovery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.