Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Onwettig’ om SAL-plan te finansier
’n Regsmening van die parlement se amptelike regsadviseur het in 2017 bevind dit sou onwettig wees om ’n reddingsboei aan die SAL te verskaf deur middel van art. 16 van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies. Foto: Getty Images

Indien Tito Mboweni, minister van finansies, sou toegee en probeer om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se reddingsplan te finansier, sou hy ’n “onwettige” metode moes gebruik.

So waarsku die DA Woensdag in ’n ope brief aan Mboweni wat hom aanraai om nie toe te gee aan sy party se wense dat die lugdiens gered word nie.

Die SAL kort R10 miljard se bykomende finansiering om weer uit die as te verrys, luidens die sakeredders Les Matuson en Siviwe Dongwana, wie se sakereddingsplan Dinsdag deur krediteure goedgekeur is.

Mboweni het al op verskeie geleenthede gal gebraak oor die gedurige reddingsboeie aan staatsondernemings.

Die tesourie het ook vroeër vandeesmaand aan die parlement se staande komitee oor finansies herhaal hy glo die lugdiens moet gesluit word en geen bykomende reddingsboeie sal aan die SAL verskaf word nie.

Geordin Hill-Lewis, DA-LP, sê in sy brief aan Mboweni, dat die minister sy “voet moet neersit” en summier weier om die departement van openbare ondernemings se versoek vir finansiering goed te keur.

Anders sou Mboweni se posisie in die regering “gekompromitteer” word.

In 2017 het die parlement regsadvies van adv. F.S. Jenkins bekom oor Malusi Gigaba, toe minister van finansies, se versoek om ’n nuwe reddingsboei aan die SAL toe te ken.

Dié regsopinie van die parlement se eie regsadviseur het bevind dat die gebruik van art. 16 van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies (PFMA) om “buitengewone” toedelings aan die SAL te doen, onwettig sou wees.

Die opinie sê dat art. 16 net voorsiening maak vir so ’n toedeling buite die grense van die begroting indien dit aan drie vereistes voldoen, naamlik dat dit buite die begroting is, dit nie verskuif kan word na ’n volgende begroting nie, en dat dit ’n buitengewone nood is wat in die openbare belang is om na te kom.

Dis op laasgenoemde wat Jenkins gewaarsku het dat daar nie gronde is vir die gebruik van art. 16 om die SAL te red nie.

Hill-Lewis sê die sakereddingsproses was al van stapel gestuur voordat die begroting vir 2020 opgestel is, en die finansiering daarvan is doelbewus uitgesluit. Boonop is dit nie in die openbare belang om die lugdiens te red nie in ’n tyd waar die staatskas reeds so beleër is en die land elke sent nodig het vir die Covid-19-pandemie.

Die SAL het al bykans R50 miljard se reddingsboeie en staatswaarborge op sy skuld ontvang sedert 1999.

Die lugdiens se totale netto verlies vir die afgelope 13 jaar beloop nou al meer as R34 miljard.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.