Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Onwettige sigarette: Die strop trek stywer

Informele handelaars is nou betrek by die stryd teen die sluikhandel in sigarette.

Die onwettige handel in sigarette in Suid-Afrika ná die rookverbod het buitensporig gegroei en ontneem nou die fiskus van miljarde rande per jaar. Foto: Unsplash

Die waghond- en drukgroep Tax Justice South Africa (TJSA) het onlangs ’n geheime studie met versteekte kameras gedoen om te bepaal in watter mate onwettige sigarette ’n houvas op die land het – en dus van hoeveel miljarde rande die fiskus aan verlore aksyns ontneem word.

Hy het bevind dat plaaslike sigaretvervaardigers waarskynlik besig is om op ’n enorme skaal belasting te ontduik en die onwettige handel in sigarette aan te moedig.

Sowat R8 miljard se aksyns word jaarliks van die fiskus ontneem.

Twee uit elke drie sigarette wat in Suid-Afrika verkoop word, is nou onwettig.

Die TJSA het bevind dat pakkies sigarette landwyd beskikbaar is vir R20 per pakkie of minder, hoofsaaklik vanaf plaaslike vervaardigers wat deel is van die bedryfsliggaam Fita.

LEES OOK: Sigarette: Fita-lede ‘ontduik taks op enorme skaal’

Die TJSA het bevind dat pakkies sigarette bykans oral waar hy gegaan het, beskikbaar was vir minder as die minimum verhaalbare belasting (MVB) op ’n enkele pakkie.

Die MVB van ’n pakkie van 20 sigarette is R20,01 weens die R17,40-aksyns en die belasting op toegevoegde waarde (BTW) van R2,61 wat verhaalbaar is. Die aksyns moet deur die vervaardiger betaal word.

Die TJSA sê die implikasie is dat vervaardigers nie al die sigarette wat hulle vervaardig, aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verklaar nie en dus nie aksyns daarop betaal nie.

LEES OOK: Sigaret-skandaal: Fita kap ‘ondersoek’

Die Suid-Afrikaanse Alliansie van Informele Handelaars (Saita), wat straathandelaars verteenwoordig, het nou sy gewig agter die TJSA se veldtog gegooi om die verkoop van onwettige sigarette te bekamp.

In ’n verklaring sê Saita dat hy “onbewus was” dat pakkies sigarette wat vir R20 of minder verkoop is, onmoontlik alle belasting sou kon delg.

Hy was “geskok” om daarvan te verneem op ’n webinaar met Business Leadership South Africa (BLSA) en die TJSA.

Nou het Saita beloof om te verseker dat geen van sy lede langer onwettige sigarette verkoop nie.

Hy sê dit is noodsaaklik dat die onwettigheid en misdaad wat aan onwettige sigarette gekoppel is, hokgeslaan word.

“Saita is al lank daartoe verbind om ons regering te help om die onwettige handel te bestry, en bestee baie tyd en middele om ons lede daaroor te leer,” sê Rosheda Muller, president van Saita.

“Die verkoop en koop van sulke onwettige sigarette is strydig met die wet, dit is ’n misdaad, en hoewel daar ’n belangrike rol vir wetstoepassers in die bekamping van hierdie misdaad is, erken ons as Saita ook dat ons almal as individue ’n belangrike rol in hierdie stryd kan speel.

“Ons sal voortgaan om ons lede in hierdie verband op te voed.”

Fin24 berig dat die TJSA Woensdag ’n beroep gedoen het op die SAID om beamptes by alle plaaslike sigaretvervaardigers se fabrieke te ontplooi om “24 uur per dag te monitor wat vervaardig word, te monitor wat verkoop word en te verseker dat belasting betaal word”.

Dit het die ondersteuning van die BLSA geniet.

Meer oor:  Blsa  |  Tjsa  |  Sigarette  |  Tabak  |  Covid-19  |  Sluikhandel  |  Rampokkery  |  Aksyns  |  Tabak-Verbod  |  Onwettige Sigarette  |  Belastingontduiking  |  Staat Van Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.