
Vraghouers opgestapel in die hawe van Kaapstad. Dit was nie net by Ngqura in die Oos-Kaap waar daar die afgelope paar weke arbeidsprobleme en swakker produktiwiteit was nie, maar ook in die Kaapse en Durbanse hawe.
Dis nie net die hawe van Ngqura buite Port Elizabeth wat die afgelope tyd onder ’n sloerstaking gely het nie.
In ’n e-pos wat Mike Fanucchi, hoofkliëntbeampte by Transnet, aan die Suid-Afrikaanse Vereniging van Skeepsoperateurs en -agente (Saasoa) gestuur het, gee Fanucchi toe die hawens van Kaapstad en Durban is ook in die afgelope paar weke deur onwettige stakings geraak.
Die vragbedryfnuusdiens Freight and Trade Weekly het oor Fanucchi se e-posboodskap aan Peter Besnard, uitvoerende hoof van Saasoa, berig.
Volgens Fanucchi het “afwesigheid van die werk en ontwrigting van bedrywighede deur kwaadwillige versteuring van radioseine” veroorsaak dat produktiwiteit by die betrokke hawens van so swak as 53% tot 82% gewissel het.
Elf werknemers van Transnet Port Terminals is voorverlede week deur Transnet uit kritieke poste geskors. Sedert hul skorsing het die versteuring van radiokommunikasie opgehou en het bedryfsprestasie by al die houereindpunte van die drie hawens verbeter, sê Fanucchi.
Van die planne wat Transnet ingestel het om produktiwiteit by die hawens te verbeter om verlore tyd en vraghantering in te haal, is onder meer om skofte te verleng, hulpbronne te herontplooi, en dringende vrag te prioritiseer.
Beheersentrums is by Ngqura, Durban en Transnet se hoofkantoor opgerig om die vloei van vraghouerverkeer te monitor.
By Ngqura is veral die sitrus- en motorbedryf deur die sloerstaking geraak. Sitrusuitvoerders moes ekstra koste aangaan vir vervoer na ander hawens, en omdat vrugte langer moes wag voordat dit op die mark kom, is die vruggehalte swakker, wat tot laer pryse kan lei en die uitvoerder se reputasie by kopers aantas.
Transnet het vroeër gesê dit kan twee weke duur om die agterstand by Ngqura alleen in te haal. Transnet het op 14 Julie ’n dringende hofbevel by die arbeidshof gekry teen die onwettige sloerstakers. Die protes was weens ontevredenheid oor bonusse en lone.