Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ook Consol halt massiewe projek weens drankverbod
Die glasvervaardiger Consol het planne laat vaar om nog 'n fabriek in Nigel op te rig. Foto: Consol

Consol, ’n vervaardiger van glasbottels en ander glasprodukte, gaan nie meer ’n massiewe glasfabriek naby Nigel, suidoos van Johannesburg, oprig nie.

Dit is weens die impak van die Covid-19-pandemie, maar veral ook as gevolg van die swak vraag na glasprodukte weens die verbod op die verkoop van alkohol, sê die maatskappy.

Consol het beplan om tot R1,5 miljard te bestee aan ’n nuwe fabriek wat ’n bykomende 130 000 ton glas per jaar sou kon produseer.

Dit sou die maatskappy help om minder te steun op ingevoerde glas vir ander maatskappye soos Coca-Cola, Heineken en AB Inbev deur eerder die glasprodukte plaaslik te vervaardig.

Weens die verbod op die verkoop van alkohol het die vraag na glasbottels drasties afgeneem en Consol verwag dat die vraag na glas met soveel as 15% in die jaar gaan afneem.

Die fabriek sou na verwagting 120 direkte werksgeleenthede geskep het met ’n bykomende 2 600 rolspelers soos elektrisiëns, operateurs, vullisverwyderaars en sorteerders.

Consol besit en bedryf reeds ’n fabriek in Nigel hoofsaaklik vanweë die dorp se ideale ligging naby aan die myne waar die roumateriaal wat nodig is, bekom kan word.

Die verlies aan die nuwe fabriek beteken ook dat die myne hierdie bykomende inkomste kwyt is.

Ross Mould, Suid-Afrika se grootste vervaardiger van gietvorms, het nou ook die beplande uitbreiding van sy bedrywighede laat vaar omdat Consol nie meer die fabriek gaan bou nie. Ross Mould was van plan om sy aantal hoogs opgeleide werkers met tot 25% te vermeerder om aan Consol se bykomende vraag na gietvorms te voldoen.

Dié planne is nou heeltemal van die baan.

“Die voortgaande verbod op die verkoop van alkohol en die beperkings op die verbruik daarvan op persele lei tot massiewe probleme met die toekomstige vraag na glas,” sê Consol.

Die maatskappy het ook nie veel hoop dat die mark vir glas binnekort gaan herstel nie. Derhalwe is planne om sy bestaande brandoonde in sy Nigel-fabriek teen ’n koste van R800 miljoen te vergroot, ook eers geskrap.

LEES OOK: Drankreuse laat vaar miljarde se beleggings

Mike Arnold, uitvoerende hoof van Consol Glass, plaas die blaam onomwonde op die regering en sê as dit nie was vir die verbod op die verkoop van alkohol nie, sou die projek waarskynlik kon voortgaan.

“As daar soos in die meeste ander lande nie ’n drankverbod was nie, dui ons modelle daarop dat die vraag na glas net effe sou verminder. In daardie geval sou die uitbreiding in Nigel beslis nog nodig gewees het,” sê hy.

Die tweede verbod op die verkoop van alkohol beteken die toekoms van die bedryf is “in groot onsekerheid gedompel”, veral omdat daar geen aanduiding is van wanneer die regering die verbod gaan lig nie.

Consol se aankondiging volg op soortgelyke aankondigings deur Heineken en SAB wat albei beleggings van miljarde rand gekanselleer het weens die impak van die staat van inperking.

Meer oor:  Heineken  |  Consol  |  Drankverbod  |  Maatskappye  |  Glas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.