Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Oor dié bank kla SA die meeste
banke, bankbedryf

Platsak Suid-Afrikaners probeer enigiets om geld in die hande te kry.

Hulle gaan kla selfs by die bankombud sonder dat daar enige meriete vir hul klag is, in die hoop dat hulle geld sal kan terugkry.

Reana Steyn, die Bankombud.Foto: Verskaf

Die ombud het in 2018 die meeste klagtes oor Absa ontvang.

“Mense is desperaat om geld in die hande te kry. Hulle kan nie meer hul motor- of huislenings betaal nie en raak agterstallig met hul paaiemente.

“Dan raak hulle gewikkel in ’n geskil met hul bank. In plaas daarvan om die skuldprobleem op te los, beroep hulle hul dan op die Bankombud,” sê Uzille Gugushe, bemarkingsbestuurder van die bankombud.

En dan verwag hulle boonop dat die bank hulle moet terugbetaal.

Sy sê hoewel die statistieke wat die Bankombud Woensdag in Rosebank, Johannesburg, bekend gemaak het nie wys dis hul platsakstatus wat verbruikers na die ombud jaag nie, is dit ’n duidelike tendens wat die ondersoek na klagtes aan die lig bring.

  • Luidens die bankombud se jongste jaarverslag het 74,3% (5 328) van die klagtes in 2018 geen meriete gehad nie. Daar is dus in dié gevalle ten gunste van die bank bevind.
  • Die ombud het wel in 4,56% (327) van die klagtes gedeeltelik met die verbruiker saamgestem en in 18,25% (1 309) van die gevalle ten gunste van die verbruiker beslis.
  • In die oorblywende gevalle het die verbruiker die klagtes of teruggetrek, of was daar nie genoeg inligting beskikbaar nie.

Die ombud het in 2018 altesame 7 172 klagtes hanteer. Dit is 12% meer as in 2017.

Oor dié bank word die meeste gekla:
  • Die bank wat verbruikers die meeste die harnas injaag, is Absa met 1 776 klagtes in 2018 (teenoor 1 125 klagtes in 2017).

  • Standard Bank, waaroor verbruikers in 2017 die meeste gekla het (met 1 669 klagtes), was in 2018 in die vierde plek met 1 203 klagtes.
  • Die ombud het 1 560 klagtes oor FNB, 1 265 oor Nedbank en 1 001 oor Capitec ontvang.

Waaroor kla verbruikers dan die meeste?

Probleme met internetbankdienste is verreweg die grootste bron van klagtes. In 2018 is 1 459 klagtes hieroor ontvang, waarvan 1 349 opgelos is.

Dit is die tweede opeenvolgende jaar dat verbruikers die meeste hieroor kla. Dit beloop 22% van alle klagtes.

“Ons kry daagliks klagtes oor internetbankdienste,” sê Reana Steyn, die bankombud.

Sy sê dit lyk asof verbruikers steeds vir allerhande bedrogskemas val, ondanks al die waarskuwings wat banke daaroor aan hul kliënte stuur.

Klagtes oor internetbankdienste is egter nie altyd weens bedrog nie. Gugushe sê mense kom dikwels agter hulle kan iets nie meer bekostig nie, en kla dan by die ombud oor die diens in ’n poging om hul geld terug te kry.

Probleme by kitsbanke is steeds die tweede grootste probleem en behels 14% van klagtes.

Die bank wat verbruikers die meeste die harnas injaag, is Absa met 1 776 klagtes in 2018.

Gautengers kla die meeste (42% van alle klagtes), gevolg deur die Wes-Kaap (15%) en KwaZulu-Natal (13%).

Steyn sê die bankombud het besef daar is ’n behoefte om sy stelsels op te dateer.

“Ons het ’n nuwe stelsel ontwerp wat verseker klagtes word op die regte wyse hanteer,” sê sy.

Meer oor:  Banke  |  Bankdienste  |  Bankbedryf  |  Klagtes  |  Bankombud
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.