Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Optrede ná skorsing kos Old Mutual-hoof ’n skikking

Peter Moyo se optrede ná sy skorsing op 24 Mei het bygedra tot Old Mutual se besluit om hom af te dank eerder as dat die maatskappy en sy uitvoerende hoof se weë met ’n skikking skei.

Trevor Manuel, oudminister van finansies en voorsitter van Old Mutual se direksie. Foto: Felix Dlangamandla

Old Mutual verduidelik nie Moyo se nuwe oortredings nie, maar sê hy het nie sy “fidusiêre verpligtinge” nagekom nie, en het die voorwaardes van sy dienskontrak en van sy skorsing oortree.

Navrae is aan Old Mutual gerig oor presies wat die afdanking, eerder as ’n skikking, beteken en dit sal bygewerk word indien Old Mutual Netwerk24 se vrae beantwoord.

’n Strydlustige Moyo het in Mei in onderhoude volgehou hy is onskuldig aan die belangebotsings wat tot sy skorsing gelei het en sal sy afdanking teenstaan.

Op die dag van sy skorsing het Moyo aan Reuters voorgehou dat hy “niks verkeerd gedoen het nie”.

Old Mutual het Dinsdagoggend vroeg die besonderhede van dié botsings uiteengesit – insluitend hoeveel geld betrokke is.

LEES OOK: Peter Moyo finaal by Old Mutual afgedank

Dit behels dat Moyo die voorsitter was van direksievergaderings van die beleggingsbeheerfirma NMT waarop gewone dividende van altesame R115 miljoen goedgekeur is. Moyo en familietrusts waaruit hy regstreeks voordeel trek, het R30,6 miljoen se dividende ontvang.

Dié dividende is ’n probleem omdat NMT agterstallige voorkeurdividende aan Old Mutual verskuldig is, asook die R291 miljoen se finansiering wat Old Mutual deur sy filiaal Old Mutual Life Insurance verskaf het, onder meer vir die aankoop van voorkeuraandele deur die trust.

Dié transaksies is beklink voor Moyo se aanstelling as uitvoerende hoof van Old Mutual en die finansiëledienstegroep was bewus daarvan; spesiale protokolle is in sy dienskontrak vervat om seker te maak die belangebotsings word bevredigend bestuur.

Moyo het tot en met die tweede helfte van 2018 nog sy belang in NMT goed bestuur en die riglyne gevolg wat deur Old Mutual in sy dienskontrak geplaas is, luidens die Sens-verklaring.

Die direksiekomitee wat oor dié soort belangebotsings toesig hou, het egter einde verlede jaar sy kommer uitgespreek oor verskeie moontlike probleme met Moyo se bestuur van sy belang in NMT.

Old Mutual het Dinsdag gesê daar was ’n wesentlike “versuiming van sy regte”.

NMT het steeds nie sy skuld aan Old Mutual terugbetaal nie.

Nadat ’n ondersoek in Februarie voltooi en ’n verslag saamgestel is, is die komitee oor belangebotsings in Maart in kennis gestel en het gesprekke tussen die betrokke partye begin.

Teen Mei was Old Mutual steeds ontevrede met Moyo en NMT se verduidelikings, en het toe besluit om Moyo in die belang van Old Mutual se aandeelhouers te skors.

“Die direksie is nie voorsien van ’n aanvaarbare verduideliking waarom gewone dividende verklaar is terwyl skuld aan Old Mutual uitstaande was nie,” sê Old Mutual.

Iain Williamson, Old Mutual se bedryfshoof, is tans as waarnemende hoof aangestel, maar die maatskappy het Dinsdag bevestig dat ’n formele soektog vir ’n nuwe permanente hoof nou aan die gang is.

Dinsdag teen 10:00 (90 minute nadat die Sens-verklaring rakend Moyo se afdanking uitgereik is) het Old Mutual se aandeelprys 1,9% hoër gestaan op R22,10.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.