Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Organisasie moet opdok oor Life Esidimeni

Nog ’n nieregeringsorganisasie wat in die Life Esidimeni-tragedie betrek word, gaan moet opdok vir geld wat van die Gautengse departement van gesondheid geëis is nadat die pasiënte uit sy sorg verwyder is.

Oudregter Dikgang Moseneke, wat ná die Life Esidimeni-tragedie die vergoeding vir familielede van oorledenes moes bepaal.. Foto: Deon Raath

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het in ’n verklaring ’n uitspraak deur die hooggeregshof in Pretoria wat vroeër vandeesmaand uitgereik is, verwelkom.

Die hooggeregshof het The Precious Angels Home for the Intellectual Disabled beveel om R681 112 terug te betaal.

Die nieregeringsorganisasie moet ook die regskoste betaal.

Die SOE het die hofaansoek gebring ná ’n ondersoek wat onreëlmatighede, wanadministrasie en wanpraktyke aan die lig gebring het met betrekking tot eise wat deur verskeie nieregeringsorganisasies ingedien is wat pasiënte van Life Esidimeni oorgeneem het.

Rapport het in September 2016 berig hoe die familie van gestremde staatspasiënte van hospitaal tot hospitaal in Pretoria moes ry om hul geliefdes te soek.

LEES OOK: Skandaal oor gestremdes

Minstens 144 psigiatriese pasiënte is dood nadat die Gautengse departement van gesondheid in 2016 sowat 1 700 pasiënte van Life Esidimeni na organisasies onder lisensies en voldoende geriewe verskuif het.

Netwerk24 het in Oktober 2017 berig die meeste sterftes het by Precious Angels plaasgevind.

LEES OOK: NRO-hoof getuig huilend oor Life Esidimeni

Prof. Malegapuru Makgoba, gesondheidsombud, het in ’n ondersoek bevind 20 pasiënte in die sorg van Precious Angels is weens honger en koue dood.

Die stigter van Precious Angels het op ’n arbitrasieverhoor twee jaar gelede gesê hulle is aan natuurlike oorsake dood.

Die SOE het in 2017 opdrag gekry om Gauteng se departement van gesondheid se kontrakte en betalings met 28 nieregeringsorganisasies te ondersoek.

Die wetgewing wat die SOE beheer vereis dat siviele gedinge namens staatsinstellings gebring moet word.

In Julie is die eerste uitspraak in die hooggeregshof gegee teen The Anchor Center for the Intellectually Disabled en sy direkteur Dorothy Evangeline Franks om R663 275 plus koste op te dok.

Die SOE het in sy ondersoek bevind die diensverskaffers het voortgegaan om fakture aan die departement te verskaf lank nadat die pasiënte uit hul sorg verwyder is.

Die geld wat teruggevorder word, gaan aan die Gautengse provinsiale departement van gesondheid betaal word.

Die ondersoek van die SOE oor Life Esidimeni duur nog voort en na verwagting gaan verdere siviele sake kom om geld terug te vorder.

Die SOE het in Augustus aangekondig behalwe vir dié aansoek teen The Anchor Center is hy in die proses om siviele sake teen die eienaars van nege nieregeringsorganisasies te bring ter waarde van R5 miljoen.

Die SOE het ook beloof hy sal seker maak daar sal opgetree word teen die amptenare wat betrek word.

Hy beoog om sy ondersoek in November af te handel voor ’n finale verslag aan die president oorhandig word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.