Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ou hoof moet SA Express weer kom help
Siza Mzimela in 2009 in die dae toe dit nog goed gegaan het by SA Express. Sy is nou ingeroep om die lugdiens reg te ruk.

“Siza” is die Zoeloewoord vir “help”. Die regering verwag dalk Siza Mzimela, nuutaangestelde waarnemende hoof van die sukkelende streeklugdiens SA Express, doen haar naam gestand.

Mzimela het meer as 20 jaar se lugdienservaring en was voorheen uitvoerende hoof van SA Express toe dié staatsbeheerde lugdiens nog as een van die suksesverhale in die lugdiensbedryf beskou is.

Sy was later ook vir ’n kort tydperk uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL).

Die direksie van SA Express en die departement van openbare ondernemings het Woensdagaand aangekondig Mzimela sal binne die volgende twee weke as hoof oorneem by die huidige waarnemende hoof, Matsietsi Mokholo, wat ’n nuwe pos in die presidensie gaan beklee.

Siza Mzimela se ervaring
  • Sy was uitvoerende hoof van die SAL van 2010 tot 2012, waarna sy ’n nuwe onafhanklike lugdiens Fly Blue Crane begin het. Dié lugdiens het egter in 2017 gevou.
  • Voor haar beurt as hoof van die SAL was sy vir sewe jaar van 2003 tot 2010 aan die stuur van SA Express.
  • Voor dit was sy ook by die SAL, onder meer as uitvoerende visepresident van internasionale passasiersdienste en van internasionale verkope en Voyager (die SAL se lojaliteitsprogram).
  • Sy het ’n BA-graad in ekonomie en statistiek van die Universiteit van Swaziland, en het ’n uitvoerende bestuursprogram vir vroue by die GIBS Sakeskool by Tukkies voltooi.

Mzimela was tot nou deel van die ingrypingspan wat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, in Mei aangestel het om SA Express se bedrywighede en finansies te stabiliseer.

Die span moes ook opsies identifiseer om SA Express te herkapitaliseer gegewe sy korttermyn likiditeitsprobleme, lui ’n verklaring van die departement van openbare ondernemings.

SA Express se vlugte is in Mei gestaak nadat die Burgerlugvaartowerheid sy lugdiensbedryfsertifikaat, asook die lugwaardigheidsertifikate van nege van sy 21 vliegtuie teruggetrek het.

Verlede week is twee van die nege vliegtuie se lugwaardigheidsertifikate herstel en het die Burgerlugvaartoweheid vir SA Express toestemming gegee om vlugte te hervat.

    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.