Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Oud-KWV-belegger maak geskiedenis toe hy saak wen

’n Belegger in die voormalige KWV het Donderdag geskiedenis gemaak deur die eerste saak in Suid-Afrika te wen kragtens beskerming wat die Maatskappywet aan minderheidsaandeelhouers gee.

“Dit is korporatiewe geskiedenis hierdie. Dit is ’n belangrike hofsaak,” sê die belegger, Albie Cilliers.

Albie Cilliers (regs), die aandeelhoueraktivis van Robertson, in 2016 op die vergadering waar aandeelhouers die transaksie goedgekeur het. Sy pa, Abraham (links) het al in die 1970’s ’n lid van die voormalige wynkoöperasie KWV geword wat later in ’n maatskappy omgeskakel is. Saam het hulle is Chris Logan, ’n batebestuurder. Foto: Nellie Brand-Jonker

Cilliers is al as ’n soort boere-aandeelhoueraktivis beskryf. Sy pa was dekades lank ’n lid en later aandeelhouer van KWV. Cilliers woon op hul familiewynplaas naby Robertson.

Cilliers het die hofsaak reeds in 2016 aanhangig gemaak. Lees hier Aandeelhouer vat KWV hof toe.

Dit was kort ná ’n transaksie waarin KWV se bedryfsbates, handelsname en voorraad verkoop is, en dit wat oorgebly het, tot La Concorde herdoop is.

KWV se minderheidsaandeelhouers het hierna aandele in La Concorde gekry, wie se bates bestaan het uit die geld wat hy vir KWV se bedryfsbates gekry het, ’n paar geboue en ’n kunsversameling.Die respondente sluit in La Concorde Beherend Beperk, sy volfiliaal KWV South Africa en nog ’n filiaal, KWV Intellectual Property.

Cilliers wou nie meer ’n minderheidsaandeelhouer in La Concorde Beherend Beperk wees nie en het gevra dat sy aandele uitgekoop word. Hy is R13,47 per aandeel aangebied, wat hy meen te min is. Hy is dus hof toe kragtens art. 164 van die Maatskappywet, wat aan aandeelhouers sogenaamde waardasieregte gee.

Dit is die eerste keer sedert die wet in 2011 in werking getree het dat ’n aandeelhouer die hof nader om sy waardasieregte daarvolgens uit te oefen.

Hoe werk waardasieregte?

Die wet sit ’n lang prosedure uiteen wat deur ’n aandeelhouer gevolg moet word wanneer ’n maatskappy ’n groot transaksie doen en aandeelhouers nie daarmee tevrede is nie.

Dit behels onder meer dat die aandeelhouer die maatskappy skriftelik in kennis moet stel as hy sy waardasieregte wil uitoefen, en die maatskappy moet dan ’n aanbod vir sy aandele maak.

As die aandeelhouer die aanbod verwerp, kan hy die hof nader om ’n billike waarde vir sy aandele te bepaal.

Regter Taswell Papier het Donderdag in Cilliers se guns beslis dat die wet inderdaad aan die minderheidsaandeelhouers van beheermaatskappye waardasieregte gee wanneer ’n filiaal sy bates verkoop.

La Concorde het aangevoer ’n minderheidsaandeelhouer van ’n beheermaatskappy het nie ’n waardasiereg wanneer ’n filiaal ’n transaksie doen om al of die meeste van sy bates te verkoop nie.

Volgens Cilliers het die respondente die hofsaak twee jaar lank uitgerek deur die vertolking van die wet te bevraagteken.“Dit was ten spyte daarvan dat dit baie duidelik in die wet staan dat die aandeelhouers van die beheermaatskappy ook regte het.”

Papier het opgemerk La Concorde het self aanvanklik in sy omsendbrief oor die transaksie en op ’n algemene vergadering aandeelhouers ingelig dat hulle waardasieregte het, maar hy het later sy siening verander.

La Concorde moet vir die koste van die hofsaak opdok.

Cilliers sê hy het nie die transaksie in twyfel getrek nie.

“Al wat ek gesê het, is dat die Maatskappywet aan my as minderheidsaandeelhouer regte gee om uit ’n transaksie te tree en ’n billike waarde vir my aandele betaal te word.“Ek wil nie bly in ’n maatskappy wat met net geboue en skilderye sit nie.”

Die hof moet nou die waarde van dié aandele bepaal. Cilliers, sy pa en suster het hul regte uitgeoefen. Hy sê daar is nog drie ander aandeelhouers waarvan hy weet wat dit gedoen het.Hy sê die Maatskappywet verleen ekstra beskerming aan minderheidsaandeelhouers.

“Dit is een van die mees progressiewe Maatskappywette ter wêreld rakende van die beskerming aan minderheidsaandeelhouers.”

Cilliers is deur adv. Roy Gordon verteenwoordig, wat ondersteun is deur Barbara Vaughn. Sy prokureur was Adam Pike van Pike Law.

Die respondente is deur Eduard Fagan verteenwoordig, ondersteun deur P.J. Olivier. Hul prokureurs is ENS. La Concorde het nog nie reageer op die navraag of hy gaan appelleer nie. 

Meer oor:  Kwv  |  Transaksie  |  Hofsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.