Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ouditeur van Deloitte oor Steinhoff gestraf

Die gewese ouditvennoot van Deloitte in Nederland met verwysing na Steinhoff is in ’n tugverhoor op die klagte teen hom rakende die 2016-oudit van die groep skuldig bevind.

Die tugverhoor voor die Rekenmeesterskamer van Nederland het in April plaasgevind. Die klagte is deur die Nederlandse owerheid vir die finansiële markte (AFM) gebring.

Netwerk24 het voorheen na ’n berig van Het Financieele Dagblad (FD) verwys oor hoe emosioneel Patrick Seinstra in die tugverhoor was.

LEES OOK: ‘Verslane’ Deloitte-ouditeur in trane oor Steinhoff

Terwyl hy teen die trane geveg het, het hy vertel dat hy in ’n stadium in Suid-Afrika vir sy lewe gevrees het nadat daar besluit is dat die 2017-jaarstate van Steinhoff nie afgeteken gaan word nie.

Oud Deloitte ouditvennoot in terugverhoor. Foto: Reuters

Seinstra het die eerste oudit vir die boekjaar tot einde September 2016 gedoen. Hy het op 6 Desember 2016 ’n ongekwalifiseerde ouditverslag uitgereik. Die voorbelaste wins in die jaarstate was 1,68 miljard.

’n Jaar later het die skandaal by Steinhoff plaasgevind. Op 13 Desember 2017 het die maatskappy se bestuur in ’n verklaring gesê daar kan nie op die 2016-jaarstate staatgemaak word nie. Op dieselfde dag het Seinstra die ongekwalifiseerde ouditmening deur hom as ongeldig verklaar.

PwC, wat later aangestel is om ’n forensiese ondersoek te doen, het in ’n opsomming van sy verslag gesê van 2009 tot 2017 het die jaarstate meer as 6,5 miljard se fiktiewe en andersins onreëlmatige transaksies bevat. Daar is bevind dat die bates jare lank oorwaardeer was met die doel om winste hoër te laat lyk. Die verslag het verwys na die rol wat ’n klein groepie bestuurders in die bedrog gespeel het.

Ses klagte is teen Seinstra ondersoek. Volgens die AFM het hy in stryd met die gedrags- en professionele reëls opgetree wat op hom van toepassing is.

Ses klagtes ondersoek

Die AFM het Seinstra van die volgende beskuldig:

  • dat hy die konsolidasie van die onderliggende dele van die groep onvoldoende beoordeel het;
  • dat hy die moontlike gevolge van die ondersoeke deur Duitsland se owerhede onvoldoende beoordeel het;
  • dat hy nie ’n transaksie van €460 miljoen met ’n maatskappy wat op ’n eiland opgerig is, voldoende geëvalueer het nie;
  • dat hy die verkoop van €525 miljoen se ontasbare bates
  • onvoldoende geëvalueer het; en
  • dat hy nie bepaal het of ’n Duitse ouditfirma die regulasies nagekom het nie.

Luidens die uitspraak het Seinstra in sy verweer benadruk dat hy in 2017 ’n belangrike rol gespeel het in die ontdekking van die bedrog by Steinhoff en dat hy onder moeilike omstandighede sy werk moes doen. Hy het onder meer aangevoer dat hy in 2017 sterk moes staan ondanks groot druk van die bestuur, direksie en die ouditkomitee om ’n ongekwalifiseerde ouditverslag oor die 2017-jaarstate te kry.

Die Rekenmeesterskamer sê in antwoord hierop dat die ontdekking van die bedrog in 2017 en die beweerde rol wat Seinstra gespeel het nie vir die beoordeling van die klagte van belang is nie.

“Die klagte hou immers nie met die vraag verband oor of die bedrog ontdek is nie. Die klagte is beperk tot die wyse waarop hy, as eksterne ouditeur, die oudit van die 2016-jaarstate gedoen het,” sê hy.

Wesenlik misluk

“Meer spesifiek hou die klagte verband met die oudit (en evaluering van die bevindinge van onderliggende rekenmeesters) van die groep se filiale.”

Al die klagte teen hom is as grondig bevind.

Vir sy straf word hy vir ’n tydperk van drie maande van die register van rekenmeesters in Nederland verwyder.

Luidens die uitspraak het Seinstra wesentlik met die uitvoering van die groepoudit misluk. Hy het ook nie voldoende en toepaslike ouditbewyse bekom nie.

“As groepouditeur was hy nie genoegsaam professioneel krities in die beoordeling van die werksaamhede en die bevindinge van die rekenmeesters van die onderliggende dele van die groep nie. Hy het dus strydig met die fundamentele beginsels van professionele bekwaamheid en sorgvuldigheid opgetree.”

Die Rekenmeesterskamer glo dit was des te belangriker omdat dit ’n genoteerde maatskappy met baie aandeelhouers, skuldbriefhouers, ander skuldeisers en werknemers was.

“Die feit dat hy, soos hy gesê het, ’n belangrike rol gespeel het om die bedrog aan die lig te bring in die konteks van die oudit van die 2017-jaarstate, verander nie die tekortkominge in die oudit van Steinhoff nie en lei nie tot ’n laer maatstaf nie.”

Teleurgesteld

Die FD.nl berig Deloitte sê hy voel die uitspraak is teleurstellend en dat die Rekenmeesterskamer glad nie die kompleksiteit van die oudit in ag geneem het nie.

Deloitte het aan dié dagblad gesê dit lyk asof die regter vergeet het die ouditeur het die bedrog ontdek. Volgens Deloitte is hy “doelbewus mislei”.

’n Versoek om kommentaar wat aan Deloitte Suid-Afrika gestuur is, wat dit op sy beurt na die oorsese firma gestuur het, was teen Woensdag nog onbeantwoord.

Die AFM het aan FD.nl gesê hy is tevrede met die uitspraak.

Die dagblad berig Seinstra is nie meer ’n ouditeur nie en het Deloitte verlaat. “Dié trippel-A-bedrog het my my beroep gekos,” het hy voorheen gesê.

Dit was belangrik vir hom om te beklemtoon hy het die bedrog in 2017 ontdek.

Meer oor:  Steinhoff  |  Deloitte  |  Bedrog  |  Ouditfirmas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.