Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Didata vir R441 m. gedagvaar oor ‘rassisme’
Andile Ngcaba Foto: Convergence

Die voormalige voorsitter van Dimension Data (Didata) se direksie dagvaar die maatskappy vir R441 miljoen.

Andile Ngcaba sê Didata was “rassisties” en het hom minder as sy wit kollegas betaal.

Ngcaba was Didata se voorsitter van 2004 tot 2017, toe hy bedank het.

Hy is die stigter en meerderheidsaandeelhouer van die beleggingsgroep Convergence Partners.

Volgens hofdokumente wat by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien is, bestaan Ngcaba se eis uit drie dele:

  • R261 miljoen plus rente vir die langtermynbonusse wat hy nie ontvang het as deel van Didata se langtermyn-aansporingskema en sy skema vir aandeelwaarderingsregte nie;
  • R170 miljoen as skadevergoeding omdat Didata volgens hom sy plig versuim en teen hom gediskrimineer het; en
  • R10 miljoen omdat Ngcaba se “gevoelens en waardigheid aangetas is”.

Die drie verweerders in die saak is Didata, die Nippon Telegraph & Telephone Corporation en Jeremy Ord, huidige voorsitter van Didata.

Didata is ’n filiaal van die Japanse Nippon.

Ngcaba verduidelik in die hofdokumente, wat Netwerk24 onder oë gehad het, dat Didata hom op 29 Maart 2004 as voorsitter aangestel het.

Sy beleggingsmaatskappy Convergence het later dié jaar ’n belang in Didata bekom as deel van ’n ooreenkoms vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB).

Ngcaba sê hy is kort daarna deur Brett Dawson, toe uitvoerende hoof van Didata, verseker dat hy “altyd dieselfde of beter vergoed sal word as ander senior direkteure van die maatskappy”.

Ngcaba sê hy het egter in April 2016 – 12 jaar later – agtergekom dat ander senior direkteure, “wat hoofsaaklik wit is”, meer betaal is as hy.

Die betalings is glo gedoen in die vorm van bonusse as deel van die maatskappy se langtermynaansporingskema en sy skema vir aandeelwaarderingsregte, waarvolgens werknemers kontant of aandele ontvang gegrond op die maatskappy se aandeelprys.

Dit is nie die eerste keer dat Ngcaba vir Didata van rassisme beskuldig en probeer om geld uit die maatskappy te kry nie.

ITWeb berig dat ’n soortgelyke klag wat hy in 2017 by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) ingedien het, tersyde gestel is.

Ngcaba het ook toe aangevoer dit kom op rassisme neer dat hy nie, soos die res van sy kollegas, deel was van die skemas nie.

Ngcaba word deur adv. Dali Mpofu en adv. Tembeka Ngcukaitobi verteenwoordig. Hulle is ook in Peter Moyo, voormalige uitvoerende hoof van Old Mutual, se regspan.

Moyo was ook onlangs by ’n regsgeding teen die versekeraar betrokke omdat hy meen dat hy onregmatig afgedank is.

Moyo het die saak verloor en die appèlhof het sy aansoek om verlof tot appèl in Maart vanjaar met koste van die hand gewys.

Didata ‘teleurgesteld’

Didata sê in ’n verklaring hy is teleurgesteld oor die verloop van gebeure en dat Ngcaba besluit het om hom op die hof te beroep.

Die maatskappy sê een van Ngcaba se verantwoordelikhede as voorsitter was sy oorsig oor kwessies wat verband hou met die vergoeding van alle werknemers.

“Dit is verwarrend waarom hy rassisme as betoog sou gebruik teen ’n maatskappy wat hy so lank as voorsitter gelei het.”

In Didata se beëdigde verklaring wat ook by die hof ingedien is, sê die maatskappy hy skuld Ngcaba niks, en dat die eis lank reeds verjaar het.

Luidens die Verjaringswet van 1969 moet so ’n eis binne drie jaar ingedien word.

Didata sê Ngcaba was nie deel van die onderskeie skemas nie omdat hy – via Convergence – reeds deel was van ’n langtermynvoordeleskema in die vorm van die SEB-ooreenkoms.

Oor die belofte wat Dawson glo oor Ngcaba se vergoeding gemaak het, sê Didata in die verklaring dat hy glad nie die mag gehad het om dit te doen nie.

Didata sê Dawson het in elk geval verwys na Ngcaba se basiese salaris, voordele soos mediese fonds en korttermynbonusse, en nie na ander langtermynbonusse nie.

Die saak word Dinsdag aangehoor.

Meer oor:  Dimension Data  |  Old Mutual  |  Peter Moyo  |  Andile Ngcaba  |  Dali Mpofu  |  Hof  |  Rassisme  |  Salaris
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.