Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ouers al meer skugter vir duur private skole
School, skool
Ter illustrasie. Foto: Pixabay

Suid-Afrikaners wat óf emigreer óf nie meer private skole vir hul kinders kan bekostig nie, bly ’n doring in Advtech se vlees.

Dié maatskappy, wat nou 103 private skole en 29 tersiêre instellings besit, sê die “uitdagende Suid-Afrikaanse ekonomiese klimaat en onseker maatskaplik-politieke omgewing in die land het steeds ’n invloed op die organiese groei van sy leerlinggetalle”.

Al hoe meer ouers haal hul kinders uit dié skole óf omdat hulle emigreer óf omdat hulle dit bloot nie meer kan bekostig nie.

Die maatskappy – wat Maandag sy resultate vir die jaar tot einde Desember bekend gemaak het – het al in November gewaarsku dié twee probleme plaas druk op sy skole-afdeling.

Lees ook: Private skole voel ekonomiese druk aan hul bas

Skole

Luidens ’n verklaring op die JSE se nuusdiens Sens, het die maatskappy se skole-afdeling se inkomste wel met 15% tot R2 miljard gestyg.

Dit is teenoor ’n jaar gelede. Sy bedryfswins het met 5% tot R330 miljoen gestyg.

“Die sterk groei in inkomste is hoofsaaklik vanweë verkrygings en goeie groei by skole wat ’n laer tarief vra,” sê die groep in die verklaring.

“Die aanvraag na gehalte-onderwys duur voort en ons is in ’n goeie posisie om hieraan te voldoen,” sê Roy Douglas, uitvoerende hoof van Advtech.

“Advtech hou aan om selfs in ’n moeilike handelsomgewing goed te presteer.”

Skoolgroepe wat aan Advtech behoort, sluit in Crawford Schools, Trinityhouse, Maravest, Junior Colleges en Abbotts College in Suid-Afrika.

Private skoolgroepe se skoolgelde is beduidend hoër as dié van staat- of semistaatskole. Die Crawford-skool in Sandton se skoolgelde vir 2019 is R142 790 per jaar vir ’n gr. 12-leerling.

’n Ouer wie se kind by een van Advtech se “goedkoper” Maragon-skole in 2019 in gr. 12 ingeskryf is, sal R99 900 vir die jaar moet betaal.

’n Staatshoërskool (die ou model C-skole) in dieselfde omgewing se skoolgelde vir ’n gr. 12-leerling is R43 200 vir die jaar. Advtech het veral op sy skole buite Suid-Afrika se landsgrense gefokus.

Hy het sy eerste nuwe skool in Kenia gebou.

Verder het hy die sewe Makini-skole gekoop wat ook getalle laat groei het.

Tersiêre instansies

Wanneer dit by sy tersiêre instansies kom, blyk dit nie of die ekonomie dieselfde negatiewe invloed op studentegetalle het nie.

Advtech sê dié afdeling se inkomste het die afgelope jaar met 10% tot R1,7 miljard gegroei.

Sy bedryfswins het met 23% tot R395 miljoen gegroei. Die afdeling se 29 instansies bied nou 201 kursusse by verskeie instellings aan.

Advtech besit onder meer Rosebank College, Varsity College, Vega School, The Private Hotel School, Oxbridge Academy en Capsicum Culinary Studio.

Hy het aan die einde van 2018 ook Monash Suid-Afrika gekoop. Dié transaksie is egter nog nie gefinaliseer nie en die syfers is dus nog nie by Advtech se resultate ingereken nie.

Groep

In die algemeen het die groep se totale inkomste vir die jaar tot einde Desember met 11% tot R4,4 miljard gegroei.

Sy bedryfswins is 14% hoër op R725 miljoen.

Basiese verdienste per aandeel is 8% hoër op 81,1c.

Die groep het ’n finale dividend van 15c per aandeel verklaar. Advtech het Maandag teen R12,58 op die JSE begin verhandel.

Meer oor:  Advtech  |  Opvoeding  |  Onderwys  |  Skole  |  Resultate  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.