Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Outa: Boikot SAL!

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners en ondernemings om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te boikot.

Die land moet sy stem dik maak en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) boikot, reken Outa. Foto: Getty Images

Die organisasie het ’n veldtog begin om die land aan te moedig om sy kollektiewe stem dik te maak oor die “belaglikheid” van nog ’n reddingsboei vir die bankrot lugdiens.

“Ons het verskeie verslae aan die regering oorhandig wat bewys dat die SAL nie lewensvatbaar is nie, maar die regering vee hom af aan die burgers van hierdie land deur nog R10,5 miljard aan hierdie ydelheidsprojek toe te wys terwyl hierdie geld in ’n tyd van nood van broodnodige projekte weggeneem word,” sê Julius Kleynhans, uitvoerende bestuurder van Outa se afdeling oor regeringsake.

“Ons sukses teen e-tol het bewys as almal saamstaan, kan ons die regering maak luister. Daarom doen ons nou ’n beroep op elke Suid-Afrikaner om vas te staan en ’n boikot van die SAL te ondersteun. Ons vra dat almal saamwerk en in hul persoonlike en sakehoedanigheid nie van die SAL gebruik te maak nie.”

Die SAL het nog nie vlugte heringestel sedert dit met die aanvang van die Covid-19-krisis gestaak is nie. Die lugdiens se sakeredders wag steeds vir die toegewese R10,5 miljard.

Al 41 departemente en talle projekte se begrotings is besnoei om die reddingsboei aan die SAL te verskaf.

Dit sluit in dat die polisiediens R1,2 miljard verloor, hoër onderwys R1,1 miljard, gesondheid R694 miljoen, vervoer R681 miljoen, menslike nedersettings R345 miljoen, basiese onderwys R276 miljoen, en justisie en konstitusionele ontwikkeling R195 miljoen.

“Outa is baie bekommerd oor die toewysing van R10,5 miljard om ’n onuitvoerbare sakereddingsplan by die SAL in werking te stel en is van mening dat dit uiters onverantwoordelik is,” sê Wayne Duvenhage, uitvoerende hoof van Outa.

“Ons verstaan dat skuld vereffen moet word, maar ons kan nie toekyk hoe kosbare belastinginkomste vermors word om ’n sterwende onderneming te laat herleef nie. Suid-Afrikaners het wel ’n stem.”

Outa is van mening dat die SAL gelikwideer moet word op ’n manier wat die minste impak op die land het. “Die personeel moet billike afleggingspakkette kry, maar hierdie lugdiens moenie meer ondersteun word nie.

“Suid-Afrika het baie groter prioriteite as ’n lugdiens in staatsbesit.”

Die departement van openbare ondernemings bereken likwidasie kan die staat R18,5 miljard kos, terwyl ’n bedrag van selfs R40 miljard al daarvoor genoem is. Dis onder meer weens staatswaarborge vir SAL-skuld.

Likwidasie sal ook meebring dat personeellede nié billike skeidingspakkette sal ontvang nie.

Meer oor:  Outa  |  Sal  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Lugdienste  |  Maatskappye  |  Lugdiens  |  Staatsondernemings  |  Sakeredding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.