Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Outa kan voortgaan met saak teen Myeni
Dudu Myeni. Foto: Argief

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) mag voortgaan met sy aansoek om Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), as misdadige direkteur te laat verklaar.

Regter Ronel Tolmay het Donderdag weer eens ’n aansoek van Myeni in die hooggeregshof in Pretoria van die hand gewys.

Boonop het sy beveel dat Myeni nie net al die koste moet dra vir haar drie onlangse aansoeke nie, maar ook die koste wat aangegaan is omdat sy voorheen die hof versoek het om die saak uit te stel.

In die saak waarin Tolmay Donderdag uitspraak gelewer het, het Myeni aangevoer dat Outa nie die reg gehad het om sy aansoek te bring nie.

Volgens haar moes Outa eers ’n aansoek by die hof ingedien het om toestemming te vra dat hy die saak teen haar kan bring.

Tolmay sê nadat sy die wet asook ander uitsprake deeglik bestudeer het, is haar bevinding dat Outa, as nie-winsgewende organisasie wat die publiek verteenwoordig, alle reg het om ’n saak teen Myeni te bring. Dit is juis omdat sy aan die stuur van ’n staatsonderneming was wat inherent deur die publiek as belastingbetalers gefinansier word.

Sy sê omdat die SAL-vlieëniersvereniging, wat saam met Outa die saak teen haar bring en presies dieselfde regsverteenwoordigers het, sonder twyfel geregtig is om die saak te bring, wys ook dat daar geen verskil sal wees oor of Outa toegelaat word om deel van die aansoek te wees al dan nie.

’n Week gelede het Tolmay in die ander twee sake Myeni se aansoeke ook van die hand gewys.

Myeni wou toe haar pleit verander in die saak om haar as misdadige direkteur van die SAL te laat verklaar en sy wou almal wat gedurende haar ampstermyn as direkteur van die SAL gedien het, by haar saak insluit.

LEES OOK: Hof gooi Dudu Myeni se aansoeke uit

Wat betref die regskoste wat Myeni moet dek weens die uitstel van die saak, gaan dit oor haar versoek in Oktober dat die saak vir drie maande uitgestel moet word.

Dit was glo om haar meer tyd te gee om haar vir die saak voor te berei en omdat sy glo nie geld gehad het om behoorlik voor te berei nie.

LEES OOK: Myeni: Hof sê tot hiertoe en nie verder

Dié aansoeke is egter nie die enigstes wat Myeni gebring het nie.

Luidens ’n foto van hofdokumente van 2 Desember 2019 wat op Twitter die ronde doen, dagvaar Myeni Outa ook oor ’n twiet wat op 3 Oktober geplaas is.

Sy beweer dit is lasterlik.

Daar is nog nie meer inligting beskikbaar oor dié saak nie.

Die hof sal Outa se aansoek op 27 Januarie aanhoor.

Meer oor:  Dudu Myeni  |  Maatskappye  |  Outa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.