Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Outa dien strafregtelike klag in teen BnP Capital-baas
Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het Donderdagoggend ’n kriminele klag teen Daniel Mahlangu, die alleeneienaar van BnP Capital gemaak wat voorheen ’n kontrak vir die voorsiening van R5 miljard se finansiering aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens ontvang het.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het Donderdagoggend ’n strafregtelike klag teen Daniel Mahlangu, alleeneienaar van BnP Capital, ingedien.
Dit het in Julie aan die lig gekom die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het ’n kontrak aan BnP Capital toegestaan waarvolgens Mahlangu as tussenganger sou optree tussen die lugdiens en finansiers vir ’n lening van R15 miljard aan die SAL.
Luidens ’n verklaring deur Outa het hy in Julie dié onwettige tenderkontrak tussen die SAL en BnP Capital blootgelê en die betaling van R256 miljoen aan Mahlangu gekeer.
“Ons ondersoek na ongerymdhede by die SAL duur nou al ’n paar maande en gebaseer op ons inligting het ons besluit om ’n strafregtelike klag teen Mahlangu in te dien. Dis die eerste in ’n reeks regstappe teen al die betrokkenes hierby,” sê Outa in ’n verklaring.
Die klagte is by die polisiekantoor op die O.R. Tambo-lughawe ingedien deur Ivan Herselman, direkteur van regsdienste by Outa.
Luidens ’n verklaring van Outa is sy klag teen Mahlangu op die volgende gegrond:
* Dat hy nagelaat het om die SAL in kennis te stel dat sy maatskappy se lisensie by die Raad op Finansiële Dienste opgeskort is, al het hy vooraf geweet dit is ’n voorvereiste vir ’n suksesvolle tender.
* Dat hy net voor die tenderproses kontak gehad het met ’n direkte mededinger vir dieselfde tender, inligting wat hy op bedrieglike wyse van die SAL weerhou het.
* Dat hy die SAL op bedrieglike wyse onder die indruk gebring het dat ander partye deel sal vorm van sy projekspan, terwyl die betrokke partye nog nooit van BnP Capital gehoor het nie.
* Dat Mahlangu die SAL op bedrieglike wyse onder die indruk gebring het dat sy projekspan iemand met ervaring van lugvaart sal insluit, terwyl die betrokke persoon in werklikheid motorvoertuie verkoop, onbewus was van die bestaan van BnP Capital en nooit deel was van Mahlangu se span nie.
* Dat Mahlangu die SAL ook op bedrieglike wyse probeer oorreed het om kansellasiegelde van R49,9 miljoen te betaal vir sogenaamde koste wat deur ’n internasionale finansier aangegaan is. In werklikheid het die finansier geen koste aangegaan nie en ook nie ’n faktuur vir sulke gelde ingedien nie.
“Ons besluit om ’n strafregtelike klag teen Mahlangu aanhangig te maak, moet ’n duidelike boodskap stuur aan maatskappye wat hulle skuldig maak aan twyfelagtige transaksies. Hulle moet weet dat hulle ook aanspreeklik gehou sal word as hulle die regering se finansiële stelsels korrupteer en belastingbetalers se swaarverdiende geld wanbestee,” sê Herselman.
Ons ondersoek na ongerymdhede by die SAL duur nou al ’n paar maande en gebaseer op ons inligting het ons besluit om ’n strafregtelike klag teen Mahlangu in te dien.
Hy sê verder sy span is oortuig dat Mahlangu nie alleen opgetree het nie. “Ons weet hy was nie die baasbrein agter hierdie transaksie nie, en ons hoop dat hy hierdie kans sal gebruik om die waarheid te praat oor die ander partye wat die klaarblyklik korrupte transaksie beplan het en daarby sou baat vind.
“Ons het bewyse dat hierdie ’n georkestreerde poging was om Suid-Afrikaanse belastingbetalers uit miljoene rande te bedrieg. Ons doen ’n dringende beroep op almal wat betrokke was om na vore te kom en die waarheid te praat.”
Outa het ook gewaarsku dat diegene binne die SAL wat betrokke was by die korrupte transaksie allesbehalwe gerus moet voel. “Regstappe teen hulle sal binnekort begin. Ons ondersoek gaan voort, maar ons het reeds voldoende bewyse.”
Outa het reeds in Julie gedreig om die SAL hof toe te vat nadat besonderhede van die kontrak bekend geword het. Die SAL het kort daarna weens druk uit verskeie oorde die kontrak gekanselleer.
Pravin Gordhan, minister van finansies, het verlede Vrydag aangekondig die staatswaarborg van R5 miljard wat die SAL nodig het, word toegestaan, maar met 11 streng voorwaardes, wat insluit “meer aggressiewe” kostebesnoeiing by die lugdiens.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.