Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Outa sê ‘nee’ vir regstryd met Christo Wiese

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) sê hy gaan nié self toetree tot die regstryd om Christo Wiese en ander hooggeplaastes vir beweerde "ontoelaatbare belastingvermyding", soos die belastinggaarder dit stel, te vervolg nie.

Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van Outa.

Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van Outa, sê die organisasie se ondersteuners het hom op Twitter en Facebook gevra om betrokke te raak om “teen Wiese op te tree en te verseker dat geregtigheid geskied”.

Duvenage sê so ’n private vervolging sou die staat se vermoë om sy werk te doen, verswak.

“Outa is hier om die bestaande openbare stelsels te versterk en die regering aan te moedig om sy werk te doen.

“Die privatisering van sake teen groot (beweerde) belastingontduikers kan die staat se vermoë om sy werk te doen, verswak, en ons kan opeindig met wanfunksionele openbare stelsels wat nie gewone burgers dien nie.

“Ons verantwoordelikheid by Outa is om te verseker die regering gebruik ons belastinggeld doeltreffend om (beweerde) belastingontduikers te vervolg.”

Duvenage doen egter wel ’n beroep op die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) dat groot sake van beweerde belastingbedrog meer deursigtig gemaak word, veral nadat dit beslis is. “Mense wat belasting op groot skaal vermy, moet in die openbaar by die naam genoem word sodat regeringsdepartemente en maatskappye kan vermy om in die toekoms met hulle saam te werk.”

Outa sê hy glo belastingvermyding en belastingontduiking in die private sektor en deur welvarende mense “bedreig die ekonomie” en is ’n “misdaad teen die mense”.

“As dit waar is dat Christo Wiese sy persoonlike ryk uitgebrei het op die rug van hardwerkende Suid-Afrikaners deur sy belastingverpligtinge aan die samelewing te ontduik, moet hy die volle mag van die gereg verduur en Outa raai die SAID en Valke ten sterkste aan om teen hom en ander individue wat (na bewering) die staat bedrieg het, op te tree.”

Dis met verwysing na die amaBhungane-berig dat Wiese en nog drie individue die SAID na bewering R216,6 miljoen skuld vir ingewikkelde lenings- en dividendetransaksies wat met die firma Tullow Oil se verkoop van sy filiaal Energy Africa te make het.

Wiese se Titan-groep het Energy Africa ’n ruk lank besit. Die regsfirma ENSafrica was by van die transaksies betrokke.

Wiese het aan amaBhungane gesê hy het hoegenaamd geen voordeel uit enige van die transaksies getrek nie.

Wiese het aan Netwerk24 bevestig hy is “in die ope hof” in ’n geskil met die SAID betrokke.

“Dit is ’n formele dispuut en die hof sal besluit wat is reg. Dit gebeur met alle belastingbetalers. Ek steek niks weg nie. Daar is niks sinisters daaraan nie.

“Ons het topregsadvies wat sê ons is 100% reg.”

Die saak kom op 22 Augustus in die hooggeregshof in Kaapstad voor.

Kommentators het ná publikasie van die amaBhungane-berig op Twitter te velde getrek teen sogenaamde “witmonopoliekapitaal” en die “Stellenbosse mafia”, met verwysing daarna dat dit lyk asof welvarende wit mense makliker hul belastingplig ontduik.

Daar is ook ’n beroep dat die belastingsake van Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, en van voormalige direkteure van VBS Mutual Bank, wat in kuratele is, ondersoek word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.