Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Outa vra: Wie samel nou e-tol in – en is dit wettig?

Wie gaan vanaf 3 Desember e-tol in Gauteng insamel – en gaan hulle dit wettiglik doen?

Dis die vraag wat die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) vra nadat die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) se kontrak met Electronic Toll Collections (ETC) op 2 Desember tot ’n einde gekom het.

Sanral se kantore in Midrand, Gauteng, van waar die e-tolstelsel bedryf word. Foto: Elvira Wood

Stefanie Fick, Outa se regsverteenwoordiger, sê in ’n verklaring dat Sanral nie net die kontrak met ETC kan hernu nie.

Buiten dat die kontrak reeds twee keer met ’n jaar verleng is – een keer in Desember 2018 en toe weer ’n jaar later, in Desember 2019 – is daar ook tans ’n regsgeding aan die gang oor die tenderproses vir die kontrak.

Sanral het reeds twee keer ’n tenderproses van stapel gestuur om nuwe diensverskaffers te kry om e-tol namens hom in te samel.

Die proses wat hy in Augustus 2019 begin het, is gekanselleer. Daar is nou ’n hofgeding aan die gang oor die tweede tenderproses wat in Julie 2020 begin is.

’n Maatskappy genaamd Kusa Kokutsha het ’n aansoek by die hooggeregshof in Pretoria gebring waarin hy versoek dat die tenderprosesse hersien moet word.

Hy vra dat die eerste tender van Augustus 2019 aan hom toegeken moet word, en dat die tweede tender gestop moet word.

Hoewel Sanral onderneem het om op 2 Desember die nuwe kontrak toe te ken, het hy ingestem om eers vir die hofuitspraak te wag.

Fick verduidelik dat die hooggeregshof die aansoek op 11 en 12 November aangehoor het, maar dat uitspraak voorbehou is.

In die tweede ronde van die proses het Sanral tenders vir twee kontrakte uitgereik. Kusa Kokutsha, Phambili JV Gijima en South African E-Toll Operator (SAeTO) is op die kortlys geplaas vir die eerste en SAeTO en die Phambili-vennootskap vir die tweede ronde.

Fick sê wat hulle bekommerd maak, is dat hulle geen bewys van registrasie kon kry vir SAeTO of Phambili nie.

Dit het ook aan die lig gekom Kusa Kokutsha is eintlik ETC wat net onder ’n nuwe naam aan die proses deelneem.

Fick sê gegewe die regsgeding en die feit dat Sanral reeds die kontrak met ETC vir ’n maksimum van twee keer verleng het, beteken dit in praktyk dat Sanral van Donderdag 3 Desember geen wettige reg het om e-tol in Gauteng te hef nie.

Louw Kannemeyer, hoofingenieur van Sanral, het aan Moneyweb bevestig dat die kontrak met ETC wel vir nog ’n jaar, tot 2 Desember 2021, verleng is.

Kannemeyer se verweer is dat Sanral die kontrak tot ’n maksimum van agt jaar mag verleng, wat nou die geval gaan wees.

Sanral het nie op Netwerk24 se versoek om kommentaar gereageer nie.

Meer oor:  Outa  |  Sanral  |  Paaie  |  Infrastruktuur  |  E-Tol  |  Gfip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.