Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Outa wil reddingsboei aan SAL-filiale stopsit

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) gaan skrywes by die parlement inhandig om beswaar te maak teen die oorbetaling van geld vanuit die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se reddingsboei aan sy filiale.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik wil nie hê ’n deel van die R10,5 miljard se reddingsboei aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens moet na sy filiale soos Mango gaan nie. Foto: News24

Volgens Outa is die R2,7 miljard van die R10,5 miljard-reddingsboei wat vir die SAL se filiale geoormerk is, eintlik nie regmatig toegeken as deel van die oorspronklike sakereddingsplan van die SAL nie.

Volgens Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van Outa, is die R2,7 miljard-toekenning aan Mango, SAL Tegnies en AirChefs “gebrekkig” en “ongeregverdig” ingevolge die SAL se sakereddingsplan.

“Die kwessie van die herkapitalisering van hierdie drie filiale is nie oorweeg as deel van die R10,5 miljard-toewysing aan die SAL in die sakereddingsplan nie, en is eers ná die inwerkingstelling van die plan genoem,” sê Duvenage.

Die doel met die spesiale bewilligingswetsontwerp wat deur die parlement goedgekeur moet word, is om geld wat vir die SAL geoormerk is, direk na die filiale of deur die SAL te kanaliseer sonder dat die filiale die behoorlike proses volg soos vereis deur die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, sê Outa.

“Ons wil hê dat hierdie geld weerhou moet word totdat voorleggings aan die parlement gedoen is en die staande komitee oor bewilligings dit aangehoor, oorweeg en daaroor besluit het,” sê Duvenage.

Die land het baie groter probleme om te hanteer, soos die stryd teen korrupsie.
Wayne Duvenage

Outa het skrywes en ’n formele versoek aan Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, asook Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie, en Geoffrey Qhena, die voorsitter van die SAL se tussentydse direksie, gerig en sy kommer hieroor uitgespreek.

Outa sal vandeesweek sy beswaar by die staande komitee oor bewilligings inhandig. Hierdie komitee moet finaal die spesiale bewilligingswetsontwerp goedkeur voordat enige geld aan die filiale oorbetaal kan word.

Maar Outa kyk ook na die moontlikheid dat Mango en SAL Tegnies eintlik besig is om roekeloos handel te dryf.

Hierdie filiale is tegnies insolvent, maar hou aan handel dryf sonder om vir likwidasie of sakeredding aansoek te doen, volgens Outa.

Mango het wel sy aansoek vir sakeredding verlede maand by die departement van openbare ondernemings ingedien toe sy vliegtuie gehok was weens wanbetaling van sy skuld aan onder meer die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa).

Dit is onduidelik of Mango nog die aansoek oop het nadat hy wel ’n gedeeltelike betaling aan Acsa gemaak het, wat beteken het hy kon weer vlieg.

“ ’n Mens moet vra of die direksies van Mango en SAL Tegnies hul onderskeie organisasies se solvensie oorweeg en in die beste belang van hul maatskappye opgetree het terwyl hulle verliese gely het voor en tydens die pandemie en ekonomiese ineenstorting.

“Weer eens doen Outa ’n beroep op die staat om op te hou om sy beperkte middele te vermors vir die redding van staatsondernemings wat nie van kernbelang is nie.

“Die land het baie groter probleme om te hanteer, soos die stryd teen korrupsie. Dit is uiters frustrerend vir die samelewing om te hoor dat die begrotings en finansiering vir belangrike instellings soos die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die spesiale ondersoekeenheid (SOE) besnoei word, terwyl mislukte nienoodsaaklike staatsondernemings miljarde rande toegeken word. Dit is eenvoudig nie aanvaarbaar nie.”

Meer oor:  Mango  |  Outa  |  Sal Tegnies  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Lugdienste  |  Staatsondernemings  |  Parlement  |  Reddingsboeie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.