Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OUTsurance moet ‘misleidende’ advertensie verwyder
Die advertensie.

OUTsurance moet een van hul advertensies van die lug af haal of verander, het die Advertensiebeheerraad (ARB) besluit.

Dit kom nadat ’n lid van die publiek, Bryan Jones, gekla het dat die advertensie waarin ’n OUTsurance-kliënt, “Ricky”, ’n reusebesparing op sy motorversekering kry, misleidend kan wees.

Die televisieadvertensie is deel van OUTsurance se “Switch and Save”-veldtog. Ricky Moodley (42) ry in ’n wit VW Golf saam met die sanger/aanbieder Katlego Maboe. Hulle gesels oor Ricky se besluit om sy versekering na OUTsurance te skuif. Volgens die advertensie het hy voorheen R1 667 per maand vir versekering betaal en nou is dit by OUTsurance net R362 per maand.

Aan die einde van die advertensie verskyn ’n boodskap wat lui dat die premie afhang van die kliënt se risikoprofiel en dat voorwaardes geld.

Jones sê OUTsurance moet kan bewys dat die mededinger se premie eg is en dit duidelik maak vir watter motormodel die premie is. Hy voer aan dit sou maklik gewees het om byvoorbeeld ’n mededinger se premie vir ’n Golf 2 GTi te gebruik en dit te vergelyk met ’n OUTsurance-premie vir ’n Golf 2 1.6.

Hy vra ook hoe die kyker kan weet of die premies vir dieselfde kliënt met dieselfde risikoprofiel bereken is.

OUTsurance het gesê die advertensie is gegrond op Moodley se werklike geval, maar hulle het toegegee dat Moodley se vrou, en nie hyself nie, as die gereelde bestuurder van die voertuig op die huidige polis aangedui is. Sou hyself as die gereelde bestuurder aangedui wees, sou die verskil net R23,46 wees, sê OUTsurance.

Albei premies was wel vir dieselfde motor, ’n 2002-VW Golf 4.

Maar, het die ARB vasgestel, die twee polisse is nie identies nie. Op OUTsurance se polis is die standaardbybetaling sowel as die bybetaling vir ’n stukkende voorruit groter as by Dial Direct, terwyl Dial Direct se polis nie dekking vir die motorradio of klankstelsel insluit nie, terwyl OUTsurance dit wel dek.

Dis egter nie vir die ARB ’n ernstige probleem nie omdat die twee mekaar verreken.

Maar oor die feit dat Moodley nie die gereelde bestuurder is nie, het die waghond sy voet dwars gesit.

’n Redelike verbruiker sou verwag het die polisse is wesenlik soortgelyk, en dit is nie die geval nie, het die ARB bevind.

Die ARB meen die besparing is inderdaad indrukwekkend en van belang vir verbruikers, maar dan moet die adverteerder die wesenlike verskille duidelik maak deur dialoog of vrywarings wat op die skerm verskyn.

Die advertensie moet so vinnig as wat spertye dit toelaat verwyder of gewysig word.

Meer oor:  Outsurance  |  Arb  |  Advertensie  |  Versekering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.