Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pandemie bring groot onsekerheid in konstruksie

Donker tye lê voor vir Suid-Afrika se sukkelende konstruksiesektor. Aan die vooraand van die denotering van twee konstruksiegroepe van die JSE, lyk dit ook nie of daar veel werk is vir dié wat nog in bedryf is nie.

 

Die koronavirus-pandemie is net nog een van die uitdagings wat die konstruksiebedryf wurg. Foto: Pixabay

Groot onsekerheid heers nie net oor watter projekte daar gaan wees om maatskappye in bedryf te hou nie, maar ook oor hoe maatskappye regulasies oor die koronavirus gaan hanteer.

Konstruksie-maatskappye kon weer in vlak 3 van die inperking begin werk, onderhewig aan verskeie regulasies.

Hoewel die pandemie nie die rede is hoekom die land se konstruksiesektor in sak en as is nie, is dit waarskynlik die spyker in die doodskis van veral kleiner ondernemings.

Nie net het werk tot stilstand gekom gedurende die strenger vlakke van die inperking nie, maar nou moet konstruksiemaatskappye uitgawes – waarvoor nie begroot is nie – aangaan om werkplekke teen die virus te beveilig.

“Noudat werkers wel kan teruggaan na konstruksiepersele, is dit in ’n omgewing wat niemand kon voorsien nie,” sê Brad Boertje, stigter van die raadgewende maatskappy BorCon.

Hy het onlangse deelgeneem aan ’n webinaar oor die uitdagings wat die pandemie aan konstruksiemaatskappye bied wat deur Meesterbouers Suid-Afrika se tak in die Wes-Kaap aangebied is.

Boertje sê konstruksiemaatskappye sal waarskynlik kontrakte in geheel moet hersien weens die vertragings en bykomende koste wat met die pandemie verband hou.

Hoewel konstruksiemaatskappye force majeure kan verklaar, sê hy dit is nie noodwendig ’n goeie stap nie.

Force majeure verwys na ’n gebeurtenis wat nie een van die partye se skuld is nie en nie voorsien kon word nie.

Hy maan konstruksiemaatskappye om eerder saam met klante te werk om die situasie te beredder.

Paaie

’n Groot bron van inkomste vir konstruksiemaatskappye is padkonstruksie vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral).

Nie net het baie van dié projekte tot stilstand gekom gedurende die staat van inperking nie, maar ook die proses om vir tenders te bie is vir ’n tydperk gestop.

Dumi Nkabinde, bedryfs- en instandhoudingsbestuurder van Sanral, het onlangs op ’n webinaar van die Vervoerforum gesê die goeie nuus is dat Sanral honderde tenders het wat hy oor die volgende paar jaar wil uitreik.

Hy het genoem dat daar tussen nou en 2023 altesame 1 209 projekte is wat Sanral beplan. Dié projekte wissel van roetine-instandhouding tot nuwe infrastruktuur.

Nkabinde sê die probleem is om dié tenders deur die stelsel te kry tot waar dit goedgekeur is.

“Ons kry tipies 65 dokumente per tender wat uitgereik word. Die dokumente moet dan verby nege punte beweeg voordat ’n finale besluit geneem word. Dít is hoekom dit lank neem.”

Die sogenaamde konstruksiemafia se impak op padbouprojekte is ook ’n bron van kommer. Maatskappye kla dat geweld op boupersele onhoudbaar word.

Dit was juis as gevolg hiervan dat Aveng en sy Duitse vennoot, Strabag, in 2019 besluit het die kool is die sous nie werd toe hulle force majeure op die Mtentu-brug-projek in die Oos-Kaap verklaar het nie.

Dié projek was R1,6 miljard werd. Die Mtentu-brug is een van die groter konstruksieprojekte waarvoor Sanral dus nou weer ’n tender sal uitreik.

Maatskappye

Selfs al sou daar ’n oplewing wees in konstruksieprojekte, is die groot vraag wie dit gaan doen.

Die eens magtige Group Five verdwyn Maandag 15 Junie van die JSE, terwyl Esor op 22 Junie dieselfde roete volg.

Ander konstruksiemaatskappye soos Stefanutti Stocks (StefStocks), WBHO en Murray & Roberts (M&R), waarsku dat die pandemie ’n ongekende negatiewe invloed op bedrywighede het.

StefStocks het op 29 Mei in ’n handelsverklaring gesê hy onderneem ’n grootskaalse herstrukturering weens die pandemie en die gebrek aan projekte. Hy is onder meer in gesprek met banke om R430 miljoen te leen, waarvan R270 miljoen spesifiek is om die invloed van die pandemie op sy bedrywighede teen te werk.

M&R waarsku ook in ’n handelsverklaring hy verwag sy verdienste vir die jaar tot einde Junie gaan “beduidend meer” as 20% laer wees as in die vorige boekjaar.

WBHO sê gedurende die staat van inperking kon hy in ’n stadium net met werk by Eskom se Kusile-kragstasie en die tenk-opgaarskema in Saldanha voortgaan. Die eerste tien weke van die staat van inperking “gaan ’n beduidende invloed op die konstruksie-afdeling se prestasie hê”, waarsku hy.

Basil Read het nog geen aanduiding gegee van die invloed van die pandemie op sy bedrywighede nie. Basil Read is egter reeds lank voor die pandemie in sakeredding geplaas.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.