Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pandemie-eise: Santam wil eers appelleer
Santam se hoofkantoor in Bellville, Kaapstad. Foto: Estate Living

Santam gaan amptelik aansoek doen om verlof tot appèl teen die hooggeregshof in Kaapstad se uitspraak dat hy wel pandemie-eise ter waarde van miljarde rande moet uitbetaal.

In ’n verklaring sê die versekeraar dat hy amptelik nie saamstem met die uitspraak nie.

Die hof het Dinsdag met koste in die guns van Ma-Afrika Hotels en Stellenbosch Kitchens beslis.

Hulle het die eis saam met Insurance Claims Africa, ’n spesialisfirma wat versekeringseise namens ondernemings hanteer, ingedien.

’n Volbank regters het in ’n uitspraak van 42 bladsye beslis dat die versekeraar Ma-Afrika se eis moet betaal vir die tyd wat die hotelgroep se deure weens die inperking gesluit was omdat hy dekking teen die ontwrigting van sy sakebedrywighede weens aansteeklike siektes by Santam gehad het.

“Die aansoekers het bewys dat hulle ingevolge die bepalings ten opsigte van aansteeklike siektes ’n bestaande kontraktuele reg het,” lui die uitspraak.

Santam betwis die uitspraak op grond van onder meer die periode waarop die dekking van toepassing is.

Volgens Santam is versekering vir sake-onderbrekings net vir drie maande geldig. Die hof het egter beslis dat weens die uitwerking van die staat van inperking en die verwoesting van die pandemie, is die periode waarvoor geëis kan word eintlik 18 maande.

Dit vermenigvuldig die eise van ondernemings met ses en bring die totale eise van die ICA se kliënte teen alle versekeraars nou op tussen R36 miljard en R42 miljard te staan, volgens ICA se raming. Santam betwis dié raming heftig as “oningelig en foutief”.

Santam sê hy is nog besig om die werklike invloed van die uitspraak se verlenging van die periode op sy blootstelling te kwantifiseer.

Santam betwis ook steeds die verband tussen die pandemie en die staat van inperking.

Santam en ander versekeraars het aangevoer hulle hoef nie pandemie-eise te betaal nie, want hoewel die koronaviruspandemie die “onmiddellike oorsaak” was waarom die ondernemings se bedrywighede tot stilstand gedwing is, was die staat van inperking die “tussenkomende oorsaak”.

’n Tussenkomende oorsaak verbreek die regstreekse verband tussen die onmiddellike oorsaak en die sluiting van ondernemings tydens die inperking.

Santam hou nou vol dat die inperking veroorsaak het dat aktiwiteite landwyd gestaak is, ongeag of ’n onderneming bevestigde koronavirusgevalle gehad het, en dat dit daarom ’n ekonomiese verlies is.

Santam sê in sy verklaring dat sy herversekeraars met hom saamstem dat dit nodig is om regsekerheid van ’n hoër hof te verkry.

Santam het sy voorsiening vir die eise tot R3 miljard verhoog ingeval hy eindelik wel die eise moet uitbetaal, maar het in ’n Sens-verklaring beklemtoon baie onsekerheid heers nog oor die waarde van die eise.

Volgens Ryan Woolley, uitvoerende hoof van die ICA, kan herversekeraars, wat oorsee gebaseer is, hulle bloot nie steur aan die howe in Suid-Afrika nie, wat sal beteken dat Santam en ander versekeraars self sal moet opdok vir die eise van etlike miljarde rande wat hom nou in die gesig staar.

Die berig is ná publikasie bygewerk nadat Santam verdere kommentaar gelewer het. Onder meer het Santam beklemtoon:

  • Dat die tydsduur van die eise slegs een van verskeie probleme is wat hy met die hofuitspraak het, nie die vernaamste een nie;
  • Dat hy die totale waarde van eise teen die bedryf as opgeblase beskou;
  • Dat sy herversekeraars nie, soos dit aanvanklik bewoord is ‘eis’ dat Santam regsekerheid by ’n hoër hof kry nie, maar dat die herversekeraars met Santam saamstem dat dit nodig is; en 
  • Dat die frase dat Santam “nog net” R3 miljard bymekaar gekry het ingeval hy self die eise moet betaal, die indruk wek dat Santam rondskarrel om geld te kry. Die meer neutrale bewoording is dat Santam sy voorsiening vir die eise tot R3 miljard verhoog het.
Meer oor:  Santam  |  Koronaviruspandemie  |  Eise  |  Geldsake  |  Korttermynversekering  |  Pandemie  |  Covid-19.  |  Versekering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.