Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pandemie-eise: Santam gaan betaal, maar...

Santam is nou bereid om pandemie-eise uit te betaal, maar die versekeraar bied nou net ’n sesde van die tydperk van kliënte se dekking aan en dring daarop aan dat elke onderneming wat dit betwis, hom self hof toe sal moet sleep.

Santam se hoofkantoor in Bellville, Kaapstad. Foto: Estate Living

Santam het verlede week aangekondig dat hy nou wel begin om pandemie-eise vir die gasvryheidsbedryf te assesseer.

Insurance Claims Africa (ICA), ’n spesialisfirma wat versekeringseise namens die gasvryheidsbedryf behartig, en homself verbind het tot die veelvoudige hofsake teen Santam en ander versekeraars, sê egter dat Santam besig is met ’n “Stalingrad”-taktiek en dwing desperate sakeondernemers nou net om te pleit vir sente.

Santam sê dat hy net drie maande se dekking vir sakeonderbrekings weens die pandemie sal assesseer.

Dit terwyl meeste kliënte dekking vir tot 18 maande het en die hooggeregshof in Kaapstad bevind het dat hulle geregtig is op 18 maande se vergoeding.

“Hoewel ons bemoedig is daardeur dat Santam erken dat regsekerheid nou vasgestel is, gaan hulle voort om te kies en te keur wat vir hulle in die hofuitsprake pas,” sê Ryan Woolley, uitvoerende hoof van die ICA.

“Santam se Stalingrad-strategie van vertraging, ontkenning en verdediging het sy kliënte onder ontstellende finansiële druk geplaas. Die ware tragedie is dat indien hierdie ondernemings gedwing word om hul bedrywighede te stop as gevolg van die wanbetaling van Santam, hul eis teen die versekeraar nie geld nie. Die aanbod van ’n volledige en finale skikking van drie maande op ’n geldige kontrak van 18 maande is onaanvaarbaar.

“Aandeelhouers moet hulle afvra wie hierdie strategie aan Santam gegee het, aangesien dit ’n totale gebrek aan respek vir hul kliënte, die Suid-Afrikaanse regbank en die FSCA toon, en ’n mate van arrogansie dat dit nie saakmaak hoe sleg ’n mens jou kliënte behandel nie; hulle sal lojaal bly.”

Santam en ander versekeraars het aangevoer dat dit die staat van inperking, en nie Covid-19 is nie, wat die verliese van talle ondernemings met versekering vir sakeonderbrekings veroorsaak het, maar die howe het bevind dat die twee gebeure met mekaar verband hou; ’n inperking sou nooit plaasgevind het sonder Covid-19 nie.

In November 2020 het die hooggeregshof in Kaapstad Santam beveel om Ma-Afrika Hotels en Stellenbosch Kitchens vir die volle 18-maande-periode van hul kontrak te betaal, maar Santam het nou gesê hy sal aanspreeklikheid erken en die kwessie van die periode waarvoor ondernemings dekking het, in die hoogste hof van appèl bespreek. Hy sal op 16 Februarie 2021 betoog om verlof tot appèl.

Meer oor:  Ica  |  Santam  |  Sake-Onderbreking  |  Gasvryheidsbedryf  |  Pandemie-Eise  |  Toerisme  |  Versekeraars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.