Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pandemie-eise van R21 mjd. moet nou betaal word

Versekeraars word in die gesig gestaar deur pandemie-eise ter waarde van tussen R18 miljard en R21 miljard noudat die hooggeregshof in Kaapstad in die guns van kliënte beslis het.

Restaurante moes maande lank hul deure sluit met slegs wegneemetes wat vanaf Mei afgelewer kon word. Foto: Deaan Vivier

Só sê Ryan Woolley, uitvoerende hoof van Insurance Claims Africa (ICA), ’n spesialisfirma wat versekeringseise namens die toerismebedryf behartig.

Die hooggeregshof het Dinsdag met koste in die guns van Ma-Afrika Hotels en Stellenbosch Kitchens beslis.

Hulle het die eis saam met die ICA ingedien.

’n Volbank regters het in ’n uitspraak van 42 bladsye beslis dat die versekeraar Ma-Afrika se eis moet betaal vir die tyd wat die hotelgroep se deure weens die inperking gesluit was omdat hulle dekking teen die ontwrigting van hul sakebedrywighede weens aansteeklike siektes by Santam gehad het.

“Die aansoekers het bewys dat hulle ’n bestaande kontraktuele reg het ingevolge die bepalings ten opsigte van aansteeklike siektes,” lui die uitspraak.

Maar in ’n skraps verklaring Woensdag sê Santam nie dadelik hy gaan die uitspraak eerbiedig nie.

Dis omdat hy op sy beurt basies as gyselaar aangehou word deur sy herversekeraars, verduidelik Woolley Woensdag.

Santam se reaksie

Santam gaan eers die “gedetailleerde en komplekse” uitspraak oor pandemie-eise noukeurig oorweeg voordat hy ’n “omvattende antwoord” daaroor uitreik.

Santam sê dat hy ook eers al die implikasies van die uitspraak met al sy belanghebbendes wil bespreek. Dit sluit herversekeraars in.

Volgens Woolley gaan dié gesprekke “taai” wees. Daar is ’n groot kans dat herversekeraars – groot multinasionale maatskappye – hulle bloot nie sal steur aan die presedent wat die howe in Suid-Afrika gestel het nie.

Maar dit is Santam se probleem, meen die ICA. “As hulle uit hul eie sak uit moet opdok, dan moet hulle.”

Santam sê die polisse geniet tans wêreldwyd aandag en is in sommige lande onderhewig aan appèlaansoeke by howe.

“Die reaksie van die wêreldwye herversekeraars, wat in werklikheid versekeraars is vir die versekeraars, is belangrik om ons te help om finaliteit oor hierdie saak te bereik,” sê Santam in die verklaring.

Die ICA sê hy verwag dat Santam sal appelleer.

Nog ’n uitspraak Maandag verwag

Maandag word daar egter ’n appèlhofuitspraak verwag nadat die hooggeregshof Guardrisk beveel het om Café Chameleon se eis uit te betaal.

Indien die uitspraak in die restaurant se guns is, sal dit die presedent versterk dat versekeraars wel moet uitbetaal.

Maar regstegnies was daar verskeie probleme met die Café Chameleon-saak wat Guardrisk in sy appèl uitgewys het.

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA), wat tot dusver in die guns van uitbetaling was, se hande sal afgekap wees indien die saak in Guardrisk se guns beslis word.

Hoekom eise geweier is

Santam en ander versekeraars het aangevoer hulle hoef nie pandemie-eise te betaal nie, want hoewel die koronaviruspandemie die “onmiddellike oorsaak” was waarom die ondernemings se bedrywighede tot stilstand gedwing is, was die staat van inperking die “tussenkomende oorsaak”.

’n Tussenkomende oorsaak verbreek die regstreekse verband tussen die onmiddellike oorsaak en die sluiting van ondernemings tydens die inperking.

Santam het aangevoer die inperking het veroorsaak dat aktiwiteite landwyd gestaak is, ongeag of ’n onderneming bevestigde koronavirusgevalle gehad het, en dat dit daarom ’n ekonomiese verlies is.

“Die aansoekers het bewys dat hulle ’n bestaande kontraktuele reg het ingevolge die bepalings ten opsigte van aansteeklike siektes,” lui die uitspraak.

Maar die uitspraak maak dit ook duidelik dat ondernemings net geregtig is op uitbetalings as daar binne 40 km van die onderneming ’n bevestigde brandpunt van die pandemie was.

Woolley sê dit beteken wel dat talle ondernemings in vergeleë areas nie in aanmerking sal kom vir uitbetalings nie.

Verder is dit waarskynlik die einde van pandemie-dekking by versekeraars, meen Woolley.

Hy kan nie sien hoe versekeraars ooit weer sulke dekking sal aanbied nie, en verskeie het reeds die dekking gestaak.

Meer oor:  Ica  |  Santam  |  Guardrisk  |  Sake-Onderbreking  |  Korttermynversekering  |  Versekeraars  |  Ondernemings  |  Versekering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.