Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pandemie help Barloworld spaar
Ondanks die Covid-19 pandemie het goudmyne in die Eurasiese gebied nie opgehou om by Barloworld nuwe mynboumasjinerie te koop nie.

Die Covid-19-pandemie was nie net sleg vir die gediversifiseerde nywerheidsgroep Barloworld nie.

Hoewel sy omset met 17% tot R49,7 miljard gekrimp en sy bedryfswins met 54% tot R1,8 miljard gedaal het, het die pandemie en inperking hom genoop om ernstige kostebesparings in te stel.

Nuwe maniere om dinge te doen, bedryfsinergieë, besuiniging en doeltreffendheidsmaatreëls is ingestel waarvan die groep verwag om in die komende tydperk die vrugte te pluk. Personeel moes salarisse inboet en sommige het hul werk verloor, vir ’n besparing van R286 miljoen. ’n Sny aan kapitaalbesteding en veranderings aan sy eiendomskontrakte het gehelp om nog sowat R630 miljoen te spaar.

Die groep het ’n netto verlies van R2,5 miljard vir die boekjaar gely, vergeleke met die netto wins van R2,477 miljard in 2019. Sy aandeelprys het in reaksie hierop Maandag op die JSE met meer as 2,8% tot onder R70 gedaal.

Barloworld het nie ’n slotdividend vir die boekjaar tot einde September verklaar nie. Die pandemie het ’n vernietigende impak gehad op die ekonomieë en bedrywe waarvan sy onderliggende bedrywighede afhanklik is, het die groep in sy kommentaar by sy jongste resultate gesê.

Dit wissel van die lugdiensbedryf tot toerisme, mynbou en voorsieningskettings.

Ondanks die pandemie en geopolitieke uitdagings het sy Equipment Eurasia-afdeling sy verkope met 22% verbeter danksy sterk mynboubedrywighede in veral die goudsektor.

Wie is Barloworld?

Barloworld bestaan uit drie afdelings:

Barloworld Equipment wat mynboumasjinerie van die Caterpillar-maatskappy verkoop;

Barloworld Automotive wat die motorhuurmaatskappy Avis insluit asook vlootbestuur en motorhandelaars; en

Barloworld Logistics, wat vervoerdienste en logistieke dienste aan kliënte soos Illovo, Nike, PPC, BP, Toyota, Unilever en Corobrik lewer.

Sy motorafdeling het wel 15% swakker gevaar weens die druk op verbruikers se besteebare inkomste, en die vloot huurmotors van Avis, sy motorhuur-afdeling, wat meestal stilgestaan het.

Die verkope van tweedehandse voertuie het wel beter gevaar as in 2019.

In die logistieke afdeling het omset egter met 27% gekrimp weens kontrakte wat nie hernu is nie en die algemene mark vir vervoer en voorsieningskettings wat swakker was weens die swakker vraag na goedere en dienste tydens die inperking.

Barloworld het steeds ’n sterk balansstaat van R6,7 miljard, en sy netto skuld het tot R2,6 miljard van die vorige jaareinde se R1,1 miljard gestyg ná die verkryging van Equipment Mongolia in die boekjaar.

Barloworld het wel aansienlike beweegruimte om tot R15,6 miljard te kan leen as hy dit sou nodig kry.

Hy verwag sakevertroue en verbruikers sal steeds onder druk bly.

In die boekjaar moes die groep hom berus by die besluit dat sy oorname van Tongaal Hulett Starch wel moet voortgaan. Dit was nadat Barloworld aanvanklik wou kop uittrek. Die onderneming is vir R4,9 miljard oorgeneem en is herdoop tot Ingrain SA.

Meer oor:  Barloworld  |  Logistiek  |  Covid-19  |  Resultate  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.