Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pandemie is soet en suur vir Brimstone

Die koronaviruspandemie het die swartbeheerde beleggingsgroep Brimstone positief én negatief geraak, wys sy jongste jaarresultate.

Mustaq Brey, uitvoerende hoof van Brimstone.

Danksy kosverskaffers wat as noodsaaklike dienste geklassifiseer is, kon die visserygroepe Sea Harvest en Oceana, waarin Brimstone ’n groot aandeelhouer is, ongestoord voortgaan met hul bedrywighede. Sy belegging in gesondheidsdienste, Obsidian Health, het ook goed gevaar.

Manspakke verkoop swak

Maar die volfiliaal House of Monatic se verliese het net verdiep, veral omdat mense meestal van die huis af gewerk het tydens die inperking en nie veel kon uitgaan nie.

House of Monatic vervaardig formele kleredrag, soos manspakke, waarna die vraag skerp gedaal het.

House of Monatic het gevolglik begin om maskers en ander artikels vir persoonlike beskerming te vervaardig, maar dit was nie genoeg om die onderneming volhoubaar te hou nie. ’n Ander klerevervaardiger het ingestem om House of Monatic se klerefabriek en sy personeel teen April vanjaar oor te neem.

Brimstone het ’n verlies van R43,8 miljoen gely in die boekjaar tot einde Desember, teenoor ’n wins van R75,3 miljoen ’n jaar gelede. Die verlies spruit grootliks uit waardasie-afskrywings by sy genoteerde beleggings, soos die eiendomsfonds Equites en die betaaltelevisiegroep MultiChoice, asook die groter handelsverliese by House of Monatic en ekstra afskrywings, voorsienings en onderskrywingsverliese by die versekeraar Lion of Africa.

Lion of Africa sluit

Brimstone is steeds in die proses om Lion of Africa te sluit. Toe begin is met die sluit van die onderneming in November 2018 het hy nog 7 000 uitstaande polis-eise gehad en dit het sedertdien afgeneem tot 471, het Mustaq Brey, uitvoerende hoof, Woensdag verduidelik.

Daar is nie meer enige aktiewe polisse nie en daar kom dus nie enige nuwe premiebetalings in nie. Die personeel van 15 is einde Desember afgelê, maar hulle is oorgeneem deur ’n ander versekeringsmaatskappy waarmee Brimstone ’n ooreenkoms gesluit het, het Brey gesê.

Visserye

Brimstone verwag om op 12 April ’n dividend van R71,8 miljoen van Sea Harvest te ontvang waarin hy ’n belang van 54,2% het.

Van Oceana, waarin hy ’n belang van 25,1% besit, het hy ’n dividend van R128,2 miljoen ontvang.

Hoewel sy belang in Sea Harvest teen einde Desember op R2,3 miljard gewaardeer is en sy belang in Oceana teen R2,1 miljard, is die dividend uit Oceana groter omdat hul onderskeie dividendbeleide verskil, sê Brey.

Groeikapitaal

South African Enterprise Development (Saed), ’n onderneming wat groeikapitaal aan klein en middelslagondernemings bied en waarin Brimstone ’n 25%-belang het, het R17,1 miljoen bygedra tot Brimstone se verlies.

Brey sê dit was weens een afskrywing wat gedoen moes word toe Saed se belegging in die alternatiewe beursonderneming ZAR-X verkoop is.

Brey meen Saed het nog baie groeipotensiaal vanweë die sterk vraag na kapitaal van jong en belowende ondernemings.

Obsidian

Obsidian Health, waarvan Brimstone 80% besit, het aanvanklik tydens die inperking gesukkel. Hoeveel hy as ’n noodsaaklike diens geklassifiseer is, het die inperking gelei tot ’n afname in nie-dringende teaterprosedures.

Daar was perke op perseelbesoeke. Namate die inperking verlig is, kon Obsidian begin voordeel trek uit die uitbreiding van sy portefeulje na teenliggaamtoetse vir Covid-19, MIV-toetse en persoonlike beskermende toerusting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.