Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pandemie knou Gautrein en kos M&R miljoene
Die Gautrein op die Pretoria-stasie. Foto: Elvira Wood

Die Covid-19-pandemie het Murray & Roberts (M&R) R622 miljoen gekos. ’n Groot deel van dié bedrag hou verband met die verliese wat M&R as vennoot in die Bombela-konsessiemaatskappy gely het.

M&R besit ’n 50% -belang in Bombela wat die Gautrein bedryf.

In ’n aanlyn voorlegging Donderdag van die maatskappy se resultate vir die jaar tot einde Junie het Henry Laas, uitvoerende hoof van M&R, gesê dat die pandemie ’n geweldige negatiewe impak op die Gautrein gehad het. Beduidend minder mense het gedurende die staat van inperking met die trein gery omdat die Gautrein 38 dae lank weens die strenger vlakke van die inperking gesluit was.

Laas het verduidelik dat die staat ’n deel van die Gautrein subsidieer, mits die aantal pendelaars bo ’n sekere getal is. Weens die nasionale inperking het dit tot onder dié vlak gedaal en het die staat nie die subsidie betaal nie.

Dit het M&R R194 miljoen gekos.

Laas het gesê in Augustus bly die aantal pendelaars op die Gautrein laag, en daar is geen aanduiding wanneer dit sal toeneem om aan die vereiste vir die subsidie te voldoen nie.

Nuwe afdelings

Laas het gesê omdat M&R glad nie meer by die konstruksiesektor in Suid-Afrika betrokke is nie en die fokus van sy afdelings verander het, het hy besluit om al drie die afdelings se name te verander.

Sy olie-en-gas-afdeling sal voortaan as energie, hulpbronne en infrastruktuur bekend staan.

“Kom ons wees eerlik, ons was nooit regtig by die oliesektor betrokke nie. Dit is dus gepas om van die woord olie in die naam ontslae te raak,” sê hy.

Aton-aanbod

Van ’n Duitse beleggingsmaatskappy se planne om M&R oor te neem het dadels van gekom.

M&R sê dat Aton het nou heeltemal sy oornamepoging laat vaar.

Aton het in 2018 met ’n vyandige oornameproses begin.

Daar is veral bespiegel dat Aton in M&R se mynbouafdeling belangstel, gegewe dat Aton Redpath Mining besit.

Aton bly steeds die grootste aandeelhouer in M&R met ’n belang van 49%.

Die inkomste van dié afdeling het met 3% tot R6,7 miljard gestyg.

Die impak van die pandemie op die afdeling se bedrywighede, beloop R179 miljoen.

Die bestelboek beloop R34,4 miljard. Dit is teenoor die R23,1 miljard van ’n jaar gelede.

Die afdeling vir ondergrondse myne sal voortaan net as die mynafdeling bekend staan.

Laas het gesê dié afdeling sal voortaan op ondergrondse sowel as oppervlak-mynbedrywighede fokus.

Dié afdeling se inkomste vir die jaar het met 10% tot R12 miljard gestyg.

Die impak van die pandemie op dié afdeling beloop R206 miljoen.

Die bestelboek beloop R19,4 miljard teenoor die R22,8 miljard van ’n jaar gelede.

Die water-en-krag-afdeling sal voortaan as die krag-, nywerheids-en-waterafdeling bekend staan.

Dié afdeling se hooffokus was baie jare lank die konstruksie van Eskom se Medupi- en Kusile-kragstasies. Laas het gesê met dié dat konstruksie nou uiteindelik tot ’n einde kom, is dit belangrik dat die afdeling op ander projekte, en selfs sektore, fokus om te verseker dit bly volhoubaar.

Die afdeling se inkomste vir die jaar het met 20% tot R2 miljard gedaal.

Die impak van die pandemie op dié afdeling se bedrywighede beloop R46 miljoen. Daar was ’n verdere waardevermindering van R29 miljoen in klandisiewaarde en ’n ongekwalifiseerde waardedaling van R46 miljoen.

Die afdeling kon geen beduidende kontrak sluit nie, en die bestelboek is dus leeg.

Boonop verwag M&R nie dat daar enige groot tenders in die volgende ses maande uitgereik gaan word nie.

Hy verwag wel dat Eskom kleiner tenders sal uitreik, asook maatskappye in Mosambiek waar hy ook bedrywig is.

Syfers

Inkomste vir die jaar tot einde Junie uit voortgesette bedrywighede is R20,8 miljard, 3% hoër as ’n jaar tevore.

Die maatskappy het egter weens waardeverminderings en die impak van die pandemie op sy bedrywighede ’n verlies van R352 miljoen gely.

’n Jaar tevore het hy ’n wins van R337 miljoen getoon.

Die verwaterde wesensverlies per aandeel beloop 88c teenoor R1,14 ’n jaar tevore.

Die maatskappy se netto kontant het ook van R1,8 miljard in 2019 tot R700 000 in 2020 gedaal.

Van die waardedalings wat gemaak is, is R80 miljoen aan uitstaande verskaffer-krediet vir Gencor, die filiaal wat hy reeds ’n jaar gelede verkoop het. Gencor is egter sedertdien in sakeredding geplaas, wat die gevolg gehad het dat M&R dié koste moes dek.

’n Verdere R63 miljoen was ’n waardedaling in klandisiewaarde.

Geen dividend word uitgekeer nie.

Laas het gesê die maatskappy se bestelboek, wat tans R54,2 miljard beloop, is die grootste in 15 jaar. Volgens hom is hy boonop oortuig daarvan dat dit ’n “goeie” bestelboek is en dat die kontrakte gaan realiseer.

Aan die einde van die vorige boekjaar het die bestelboek R46,8 miljard beloop.

M&R se aandele verhandel Donderdagmiddag 8% laer teen R5,60 op die JSE.

Meer oor:  Bombela  |  Murray & Roberts  |  Covid-19  |  Gautrein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.