Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pandemie kos Capitec R4,2 miljard
Gerrie Fourie, uitvoerende hoof van Capitec Bank. Foto: Elvira Wood

Die Covid-19-pandemie het Capitec Bank R4,2 miljard uit die sak gejaag.

Gerrie Fourie, uitvoerende hoof, het Woensdagoggend die bank se resultate vir die ses maande tot einde Augustus bespreek.

Hy sê Capitec maak nou voorsiening vir altesaam R6,3 miljard se slegte skuld. Dit is teenoor die R2,8 miljard van ’n jaar tevore.

Die R4,2 miljard ekstra is onder meer vir R1,8 miljard se skuld wat kliënte nie gaan terugbetaal nie nadat hulle betaalvakansies aanvaar het.

Capitec waarsku hy vermoed weens die swak stand van die ekonomie gaan swak skuld in die oorblywende ses maande van sy boekjaar steeds styg. Dit is hoekom hy nou al met R1,1 miljard hiervoor voorsiening moet maak.

Capitec het skuldverligting ter waarde van R7,5 miljard aan kliënte gebied.

Capitec se bedryfswins het met ’n enorme 86% gedaal. Dit beloop nou R538 miljoen teenoor die R3,83 miljard van ’n jaar tevore.

Wesensverdienste per aandeel het met 78% tot R5,62 gedaal. Dit is teenoor die R24,45 van ’n jaar gelede.

Verdienste per aandeel is 79% laer op R5,37. ’n Jaar tevore was dit R25,49.

Geen tussentydse dividend is uitgekeer nie.

LEES OOK: Slegte skuld knou ook FirstRand se syfers

Capitec sê gedurende die staat van inperking het sy kliënte se inkomste in April met gemiddeld 25% gedaal teenoor wat hulle in Maart verdien het. Teen Augustus het hul inkomste egter herstel tot dieselfde vlak as voor die inperking.

Die bank sê sy kliënte het ook baie minder geld bestee gedurende die staat van inperking. In April het transaksies met sy kredietkaarte by verkoopspunte met 46% gedaal teenoor ’n jaar tevore.

Dié tendens het egter sedertdien herstel. Vir die ses maande het hierdie transaksies met 6% gedaal teenoor ’n jaar tevore.

Lenings

Capitec se bruto leningsboek het met 1,5% tot R63,4 miljard gedaal.

Lenings wat meer as drie maande agterstallig is en waar regstappe gedoen is om die geld in te vorder, het met 10% tot R8,1 miljard toegeneem.

5,5 miljoen kliënte het nou saam R97,6 miljard se deposito’s by die bank, 19% meer as die vorige boekjaar.

Kliënte het R2,2 miljard se rente in die ses maande tot einde Augustus verdien (R2,3 miljard ’n jaar gelede).

Die bank het nou 1,1 miljoen kliënte wat kredietkaarte by hom het.

Kliënte

Capitec het nou sowat 14,7 miljoen aktiewe rekeninge in sy afdeling vir kleinhandelbankdienste, 6% meer as ’n jaar gelede.

In die ses maande tot einde Augustus het 7,3 miljoen van sy kliënte digitale bankdienste gebruik, 9% meer as die vorige jaar.

Hiervan gebruik 4 miljoen die bank se app (2,9 miljoen ’n jaar gelede) en 5,2 miljoen gebruik USSD-kodes (4,7 miljoen).

Die getal digitale transaksies het in die halfjaar met 52% tot 556,2 miljoen gestyg.

Begrafnispolisse

Die bank se afdeling wat begrafnispolisse verkoop, vaar steeds uitsonderlik goed.

Inkomste uit dié afdeling het met meer as 100% tot R350 miljoen gestyg, teenoor R107 miljoen ’n jaar gelede. Capitec sê hy kon ongeag die staat van inperking steeds premies op dié polisse invorder. Die bank sê sy app wat mense toelaat om ’n begrafnispolis te koop en te bestuur, het gehelp om die invloed van die staat van inperking te verminder. In die ses maande is 21,5% van nuwe polisse juis via die app uitgeneem. Dit is teenoor die 15,4% van ’n jaar tevore.

Die bank het nou reeds sowat 2,1 miljoen begrafnispolisse verkoop.

Sakebankdienste

Dié afdeling het ’n verlies van R47 miljoen gely, maar het 14% meer kliënte bygekry.

“Ons het ongeag die pandemie steeds gesien dat ons sowat 3 000 nuwe kliënte per maand kry,” sê Fourie.

Wat betref hulp aan maatskappye as deel van die staat se gewaarborgde leningskema, sê Fourie die bank het teen einde Augustus 181 kliënte hiermee bygestaan. Die bank het lenings ter waarde van R500 miljoen as deel van dié skema goedgekeur.

* Capitec se aandele het teen 11:00 Woensdag bykans onveranderd teen R983,97 elk op die JSE verhandel.

Meer oor:  Capitec  |  Gerrie Fourie  |  Slegte Skuld  |  Covid-19  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.