Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pandemie lig Panado se verkope met 20%

Die farmaseutiese groep Adcock Ingram se verkope van Panado het in die boekjaar tot einde Junie met 20% gespring toe ’n ongekende vraag na die produk beleef is weens die koronaviruspandemie.

Panado is baie gewild gewees tydens die staat van inperking.

Andy Hall, uitvoerende hoof van Adcock, sê dit was ten spyte van probleme wat ondervind is toe Indië vir ’n wyle tydens die pandemie sy grense vir die uitvoer van parasetamol gesluit het.

Parasetamol, Panado se hoofbestanddeel, word as ’n noodsaaklike middel in die behandeling van Covid-19 beskou, volgens hom.

Die verkope van Panado het tot meer as R400 miljoen gestyg.

Die stewige verkope van Panado het gehelp om Adcock se bedryfsafdeling wat verbruikersprodukte verkoop wat op winkelrakke aangetref word, met 13% tot R892 miljoen te lig.

Dié afdeling het ook voordeel getrek uit die paniekaankope in Maart en April van immuniteitsaanvullers en ontsmettingsmiddels.

Die afdeling het met goeie kostebeheer sy handelswins met amper 16% tot R155 miljoen verhoog.

Adcock het ’n gesamentlike onderneming in Indië saam met ’n Japanse maatskappy.

Indië het van 7 Maart die uitvoer van 13 aktiewe bestanddele, insluitend parasetamol asook voltooide medisyne wat dit bevat, verbied. Die verbod is 6 April opgehef behalwe vir parasetamol en die malariamiddel chlorokien.

Volgens Hall kon die maatskappy daarin slaag om voortdurend voorraad in die pandemie te verskaf nadat aktiewe bestanddele van verskaffers in Suid-Afrika gekry is en vervaardiging plaaslik gedoen is.

Die beperkinge op die uitvoer van parasetamol is op 28 Mei opgehef en die verskaffingsketting het gou weer na normaal teruggekeer.

Van sy ander produkte waarvan verkope skerp gestyg het, is Corenza C. Die verkope van dié produk het vir die eerste keer tot bo R250 miljoen gestyg nadat verbruikers in Maart met paniekaankope ook hul voorraad hiervan opgebou het.

Geen griep

Die maatskappy het vier bedryfsafdelings wat almal verskillend beïnvloed is deur die pandemie.

Corenza C is in die bedryfsafdeling waarin produkte val wat oor die toonbank sonder ’n voorskrif gekry kan word en die grootste deel van die wins skep.

Die afdeling sluit in medisyne vir pyn, hoes, verkoue en griep asook antihistamiene.

In sy laaste kwartaal van sy boekjaar (April tot Junie) het die pandemie ’n negatiewe invloed op die afdeling gehad “weens die jaarlikse verkoue- en griepseisoen wat afwesig was”.

Ook Clicks en Dis-Chem het dít aangemeld.

Hall sê dit het die apteekgroepe in dieselfde mate as Adcock geraak.

“Die gebrek aan vraag het in Julie en Augustus voortgeduur en daar is nog geen verandering nie. Ons gaan beslis nie ’n verkoue- en griepseisoen in 2020 hê nie.”

Sowat 40% van die afdeling se portefeulje word deur produkte verteenwoordig wat vir griep en verkoue verkoop word.

Ten spyte daarvan het die omset van die afdeling met 2% tot R2 miljard gestyg.

Allergex het dubbelsyfergroei getoon en vir die eerste keer verkope van R250 miljoen verbygesteek.

Die bruto winsmarge is kleiner as verlede jaar weens die swak rand se invloed op invoerkoste asook die bykomende koste van Covid-19.

Goeie kostebeheer en omdat sekere bedrywighede, soos bemarking, weens die inperking verminder is, het gehelp om dié bedryfsafdeling se handelswins amper 10% tot R426 miljoen te verhoog.

Voorskrifte sukkel

Die bedryfsafdeling waarin voorskrifprodukte val, is die ergste getref deur die pandemie.

Die volumes wat verkoop is, het met 7% gedaal. Die inperking het “tot baie minder pasiënte gelei wat na dokters gegaan het, minder voorskrifte wat vervul is in apteke en die uitstel van beplande operasies asook opnames vir beserings en siektes.”

Die omset van die afdeling het vir die boekjaar met net 1% tot R2,7 miljard gestyg.

Ook dié afdeling se bruto winsmarge is laer as die vorige jaar weens die swak rand, die onverwagte uitgawes op Covid-19 en sy Wadeville-fabriek wat gesukkel het om aan die gang te kom ná talle gevalle daar.

Dit het meegebring dat die afdeling se handelswins met 30%, van verlede jaar se R310 miljoen tot R217 miljoen, gedaal het.

Minder operasies

Adcock is ook die grootste vervaardiger en verskaffer van produkte vir kritieke sorg in hospitale.

Die afdeling se omset het met amper 12% tot R1,6 miljard gestyg weens ’n goeie vraag na nierdialisestelsels en die strategiese aankope van vloeistowwe vir binneaarse voeding voor die pandemie.

Sy ontsmettingsmiddels wat aan hospitale verkoop word, het ook goed verkoop.

Die vraag na die produkte het vergoed vir die wesenlike daling in die vraag na produkte vir operasies en opnames vir beserings en siektes.

Die bedryfsafdeling se handelswins het skerp met 25% tot R140 miljoen gestyg. Dis toegeskryf aan winsgrense wat verbeter het weens meer produkte met ’n hoër winsmarge wat in die private sektor verkoop is.

Medisynepryse

Die groep se handelswins het in geheel met 1% gedaal ten spyte van omset wat met 4% gestyg het en bedryfsuitgawes wat laer is as die vorige jaar.

Dis toegeskryf aan die invloed wat die ongunstige wisselkoers op bedryfswinsmarges gehad het, verhogings in salarisse en nutsdienste asook die addisionele bedryfskoste wat Covid-19 meegebring het.

Die pandemie het addisionele bedryfskoste van R33 miljoen vir die maatskappy meegebring. Dit sluit in die

verskaffing van kos en vervoer aan werknemers tydens die eerste streng inperking, die addisionele higiëne en ontsmetting wanneer ’n infeksie voorgekom het, asook die bloedtoetse van personeel.

Die maatskappy het 262 positiewe gevalle onder sy personeel gehad, waarvan nog ses aktiewe gevalle is. Drie mense is dood.

Adcock is ’n essensiële diensverskaffer en sy fabrieke en verspreidingsnetwerk het tydens die inperking in bedryf gebly.

Vroeg in 2020 is staatsbeheerde prysverhoging van 4,5% aan farmaseutiese maatskappye gegee in ooreenstemming met inflasie.

Hall het gesê as daar nie nog ’n tussentydse verhoging in die staatsbeheerde prysverhogings van medisyne vir farmaseutiese maatskappye is nie, is dit onafwendbaar dat Adcock se winsmarge verder gaan krimp gegewe die wisselkoers.

’n Taakspan van die farmaseutiese bedryf het vroeg in Julie reeds met die pryskomitee van die departement van gesondheid vergader en versoek dat ’n verdere prysverhoging toegelaat word. Volgens hom wag hulle nog op terugvoering van die departement.

Ook die groep se direksie het besluit om versigtig te wees en nie ’n finale dividend te verklaar nie sodat kontant bewaar kan word tot wanneer die volle uitwerking van die pandemie beter verstaan word.

Meer oor:  Adcock Ingram  |  Dokters  |  Pandemie  |  Medisyne  |  Covid-19  |  Operasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.