Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pandemie pootjie stormlope op Swart Vrydag
Die Kolonnade-winkelsentrums in Pretoria Vrydag was maar stillerig. Foto: Deaan Vivier

Die koronaviruspandemie het vanjaar die stormlope en vertrappings, waaraan Suid-Afrikaners die afgelope jare op Swart Vrydag gewoond geraak het, suksesvol gepootjie.

Dit is te oordeel na die voorlopige terugvoer wat Vrydagmiddag van sekere van die groot genoteerde kleinhandelsgroepe gekry is.

Die winkelgroepe kan nog nie meer spesifiek wees oor die verkope nie, maar hul terugvoering stem ooreen met wat besoekers aan die winkels Vrydag ondervind het.

Die meeste meen die kleiner toeloop na die winkels was te verwagte vanweë die wyse waarop Swart Vrydag vanjaar gehanteer is om mense in die pandemie veilig te hou.

John Bradshaw, kleinhandelshoof van bemarking van Pick n Pay, sê Swart Vrydag moes vanjaar anders benader word om personeel en klante se veiligheid die topprioriteit te maak.

“Ons het ons Swart Vrydag-aanbiedings Maandag bekend gestel en gee klante twee weke om winkel toe te gaan om hul gunsteling-winskopies aan te skaf omdat ons nie wil hê dat mense net op een dag winkel toe storm nie.”

Hy sê omdat klante vroeër die week begin het met hul Swart Vrydag-inkopies, het dit beteken dat die toeloop Vrydag baie makliker was om te hanteer.

“Ons verwag meer klante wat ons winkels oor die komende naweek of volgende week ná betaaldag gaan besoek.”

Terselfdertyd was afleweringsdienste en aanlyn winkels glo baie besig.

“Nadat dié dienste gereeld tydens die inperking gebruik is, het klante verkies om op dié manier inkopies te doen omdat hulle ook nou baie gemakliker is daarmee en vertroue het om aanlyn inkopies te doen.”

Shoprite en Checkers het ook beaam dat die gebruiklike stormlope en toue mense van vorige Swart Vrydae vanjaar deur ’n “deurlopende en bestendige stroom besoekers” vervang is.

“Verbruikers het op ’n verantwoordelike wyse hul inkopies vir die Swart Vrydag-aanbiedings kom doen.”

Ook dié winkelgroep het winskopies vroeër en oor verskeie dae versprei en dit het verseker dat die supermarkte op enige gegewe oomblik minder klante as vorige jare in die winkels gehad het.

“Weens die pandemie is Swart Vrydag vanjaar baie anders as in vorige jare en sal onthou word vir die verhoogde vraag na aanlyn kruideniersware en klante wat gebruik gemaak het van die afslag op daaglikse noodsaaklikhede weens die druk waaronder huishoudings verkeer.”

Game het vanjaar sy promosies oor vier weke pleks van vier dae versprei.

Dié maatskappy is deel van Massmart, wat tans in ’n geslote tydperk is en niks oor verkope mag sê nie.

Die winkelgroep verwag wel op grond van navorsing dat baie klante tussen 27 en 29 November inkopies gaan doen. Die groep het daarom voorsiening gemaak daarvoor deur langer winkelure en meer sekerheid in te stel. Gewilde promosies is tot Sondag verleng.

Sy aanlyn winkels is ook goed ondersteun.

Die besigste winkels was Mall of Africa, Fourways, Gateway en Canal Walk.

Swart Vrydag was stiller as gewoonlik toe die winkels se deure vroegoggend in die Canal Walk-winkelsentrum oopgemaak het. Foto: Jaco Marais

Die Mr Price-groep het Donderdag met die bekendstelling van sy resultate vir die halfjaar gesê baie goeie verkope jaar tot jaar sedert einde September het verlede week begin afneem, en Swart Vrydag gaan vanjaar na verwagting baie minder besig wees as gevolg van die maatreëls wat winkelgroepe moes instel om die besoekerstalle te beheer.

Gewildste produkte

Ten opsigte van inkopietendense het Pick n Pay gesê dit was ’n moeilike jaar vir verbruikers en hulle het opgemerk dat klante meer inkopies doen om hul spense, yskaste en vrieskaste aan te vul.

’n Sekere kitskoffie was wel dié week so gewild dat genoeg daarvan verkoop is om meer as 3 miljoen koppies koffie te maak.

Ander gunstelinge het ingesluit grondboontjiebotter, toiletpapier, langlewemelk, televisies, lekkers en sjokolade.

Die Shoprite-groep het gesê die gewilde produkte was dié met die grootste afslag, soos Pampers Baby Dry-weggooidoeke en 2 kg-Omo-waspoeier in sowel Checkers as Shoprite.

In Shoprite was ’n liter Ultramel-vla en 500 g Rama baie gewild, terwyl die 200 g-houer Jacobs-kitskoffie en 2 liter-Sta-soft in Checkers gewild was.

Meer oor:  Pick N Pay  |  Makro  |  Aanlyn Inkopies  |  Swart Vrydag  |  E-Handelaar  |  Inkopies  |  Ekonomie  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.