Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pandemie se effek op banke minder erg as verwag

Die uitwerking van die pandemie is minder ernstig op die Suid-Afrikaanse banke en in ander groot ekonomieë in Afrika as wat aanvanklik verwag is.

Hoewel banke baie minder wins gemaak het in die Covid-jaar en swak skuld gestyg het, kon dinge erger gewees het. Foto: Unsplash

Die konsultasiegroep McKinsey sê in sy jongste verslag gegewe die belangrike ekonomiese rol wat banke in die ekonomie speel, kan dit dui op ’n vinniger ekonomiese herstel as wat verwag is.

Volgens McKinsey was die effek op banke minder ernstig vanweë faktore soos regerings se ingrypings om verbruikers met lenings by te staan en hoe die inperkings in sekere lande verslap is.

Suid-Afrika is die uitsondering weens die reeds swak ekonomiese groei, tesame met ’n streng nasionale inperkings wat tot ’n swakker uitslag gelei het.

Wat die terugkeer na winsgewendheid betref, meen McKinsey dat die gemiddelde opbrengs op ekwiteit (ROE) van banke in ontwikkelde markte in 2021 tot onder 1,5% gaan daal voordat dit teen 2024 tot die vlak van voor die krisis van 9% sal terugkeer. Dit kom neer op vyf jaar se opbrengste wat in wese in die banksektor verlore is, sê die ontleders François Jurd de Girancourt, Aalind Gupta, Shikha Gupta en Uzayr Jeenah in die verslag.

’n Vinniger herstel word in die winsgewendheid van banke in Afrika verwag.

Die gemiddelde opbrengs op ekwiteit vir Afrika-banke het tot 7% in 2020 van 14% in 2019 gehalveer.

Hulle verwag dit sal binne drie jaar tot naby aan die vlak van voor die krisis herstel.

McKinsey sê gegewe die onsekere trajek van die pandemie kan banke nie bekostig om hul herstel aan toeval oor te laat nie.

“As die risiko’s nie versag word nie, is ons ramings dat die banksektor meer as $48 miljard (R720 miljard) se gesamentlik inkomste teen 2024 kan verloor, wat sal beteken dat opbrengste lank onder die koste van kapitaal gaan wees.”

In Afrika is die verhouding van bedryfskoste in vergelyking met bates meer as twee keer die wêreldgemiddelde.

“Die effek hiervan op ROE word in ’n sekere mate deur die hoë marges verberg wat uit hoë rentekoerse gespruit het, maar noudat rentekoerse verlaag is, moet aandag gegee word aan die oorsaak van die wanbalans.”

McKinsey sê dit gaan vereis dat bedryfskoste met 20% tot 25% moet daal om tot die ROE van voor die krisis terug te keer.

Een manier om produktiwiteit te kan verhoog, is deur die fisieke netwerk te herstruktureer en die verskuiwing na digitale kanale te bespoedig.

Meer oor:  Mckinsey  |  Banke  |  Bankbedryf  |  Covid-19  |  Inperkings  |  Lenings  |  Staat Van Inperking  |  Krediet  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.