Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Papierspoor gevra vir vet fooi van Steinhoff

’n Papierspoor is deur die kommissie van ondersoek oor die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) gevra oor ’n groot kommissie wat ’n swart groep in 2016 verdien het in ’n reuse-transaksie met Steinhoff wat deur die OBK gefinansier is.

Jayendra Naidoo
Jayendra Naidoo, eienaar van die finansiëledienstegroep Lancaster. Hierdie is 'n skermgreep van hom op 'n Youtube-video van sy getuienis voor die Mpati-kommissie van ondersoek na bewerings van wanbestuur by die Openbare Beleggingskorporasie. Naidoo is tans meer bekend as die voorsitter van die Steinhoff-filiaal Pepkor.

Jayendra Naidoo het Woensdag getuig oor hoe sy Lancaster-groep die OBK vir finansiering genader het toe hy die geleentheid gekry het om ’n belang in Steinhoff te bekom. Naidoo is tans meer bekend as voorsitter van Pepkor, 'n filiaal van Steinhoff.

’n Onderneming Lancaster 101 is opgerig waarin die Lancaster-groep en die OBK ’n belang hou.

Lancaster 101 het in 2016 ’n belang van 2,7% van die uitgereikte aandele van Steinhoff bekom.

Die OBK het R9,4 miljard vir die transaksie verskaf.

Gill Marcus, assistentkommissaris, sê dit het uit getuienis geblyk die skuld aan die OBK het einde Februarie R11,6 miljard beloop.

Naidoo het bevestig dit sluit rente in wat opgeloop het.

Die aandele wat in Steinhoff verkry is, was 45% nuwe aandele wat uitgereik is en die balans was uit die mark verkry deur ’n internasionale bank.

Marcus het Naidoo oor die onderskrywingskommissie gevra nadat hy verduidelik het waarheen die geld van die OBK se lening op die transaksiedatum gevloei het.

Hy sê Steinhoff is betaal vir die nuwe aandele wat uitgereik is en die internasionale bank is betaal vir die addisionele Steinhoff-aandele wat verkry is en vir ’n afgeleide-instrumente-transaksie wat op dié aandele gedoen is.

Die adviseur wat die transaksie gestruktureer het, Symphony Capital, het R76,9 miljoen vir advies gekry en die oorblywende R22,8 miljoen is in die lopende rekening van Lancaster 101 inbetaal.

“Geen addisionele gelde is van dié leningsbedrag aan enige party betaal nie.

“Spesifiek het die Lancaster-groep nie enige betalings of geld van die OBK-lening gekry nie,” sê hy.

obk
Die OBK-kommissie van ondersoek. Van links is Gill Marcus, regter Lex Mpati en Emmanuel Lediga.Foto: Elvira Wood

Marcus het hom daarop gewys dat Steinhoff in September 2016 op die JSE se nuusdiens, Sens, in ’n verklaring na die 2,5% onderskrywingskommissie aan die Lancaster-groep verwys het.

Naidoo het self nie in sy geskrewe voorlegging wat hy voorgelees het daarna verwys nie.

Marcus sê die randbedrag van die kommissie sou in daardie stadium R110 miljoen tot R120 miljoen wees, wat Naidoo as korrek bevestig het. Naidoo sê die onderskrywingskommissie is deur Steinhoff aan die Lancaster-groep betaal en nie deur die OBK nie.

“Dit is op diskresie van Steinhoff betaal vir die moeite wat die Lancaster-groep gedoen het om by te dra tot sy kapitaalinsameling.”

Hy sê die transaksie wat Lancaster 101 gedoen het was deel van ’n groter kapitaalinsameling wat Steinhoff in daardie stadium gedoen het. “Dit was ’n betaling wat in goeder trou gemaak is.”

Marcus sê die vraag is of die OBK aandag gegee het aan die kommissie en tevrede was daarmee dat hulle die hele transaksie gefinansier het, maar dat R110 miljoen tot R120 miljoen na ’n begunstigde van die lening vir die onderskrywing gegaan het.

Marcus wou daarop weet: “Ten spyte daarvan dat die OBK die transaksie gefinansier het en jy daarsonder nie die transaksie sou kon doen nie, het dit (die kommissie) na Lancaster gegaan en die OBK was tevrede daarmee?”

Naidoo het hierop geantwoord: “Dit was iets waaraan Steinhoff op die laaste minuut gedink het en dit was ’n betaling ter goeder trou vanuit hul perspektief en ons het dit as reëling ter goeder trou beskou wat versoenbaar was met kommersiële logika.”

Volgens hom het hy die OBK daarvan verwittig.

“Daar was geen beswaar in enige stadium van die OBK teen die kommissie nie en ek het ook nie verwag dat daar ’n beswaar gaan wees nie.”

Marcus wou weet wie by die OBK hy daarvan verwittig het. Volgens hom is die transaksiespan van die OBK daarvan verwittig. “Ek het dit ook aan die OBK se uitvoerende hoof (Dan Matjila) genoem en hulle het almal die konsep Sens-verklaring en die finale Sens-verklaring gesien.”

“Hulle was ten volle ingelig,” het Naidoo weer gesê.

Volgens Marcus het Matjila in sy getuienis ontken dat hy enige iets daarvan geweet het.

“Het jy enige dokumentasie dat jy hom in kennis gestel het, of het jy seker gemaak daar is ’n papierspoor van die Sens-verklaring wat na die transaksiespan gaan?”

Volgens Naidoo bestaan daar beslis ’n papierspoor omdat die konsepte per e-pos versprei is.

Marcus sê die kommissie wil afskrifte daarvan hê omdat Matjila ontken het dat hy van die Sens-verklaring geweet het en dat die bedrag aan Lancaster betaal is.

Emmanuel Lediga, kommissaris, wou weet op watter waarde die 2,5% gegrond is.

Volgens Naidoo was dit gegrond op die waarde van die aandele waarvoor Lancaster 101 ingeteken het.

Lediga wou weet of daar nooit ’n siening was dat die geld na Lancaster 101 moes gaan nie.

“Daar was nooit ’n bespreking daaroor nie,” sê Naidoo.

dan matjila
Dr. Dan Matjila getuig by 'n vorige geleentheid voor die kommissie van ondersoek na gebeure by die Openbare Beleggingskorporasie.Foto: Elvira Wood

Volgens Naidoo het verskeie banke belang gestel om finansiering te verskaf. “Maar nie ’n enkele een het die vermoë gehad om hierdie hoeveelheid finansiering op sy eie te voorsien nie, gegewe hul beleggingslimiete.”

Die OBK was egter te vinde daarvoor om verder in Steinhoff te belê.

Marcus het hom verwys na sy oorspronklike voorlegging aan die kommissie dat hy gesê het hy het Matjila genader.

Sy wou weet of dit spesifiek met Matjila was.

“My eerste toenadering was aan die uitvoerende hoof, dr. Matjila,” sê Naidoo.

Marcus wou weet of hy voorheen met Matjila gehandel het. Volgens Naidoo was dit die eerste keer dat hy regstreeks met hom gehandel het.

Marcus wou weet of dit korrek is dat hy, soos elders getuig is by die kommissie, aanvanklik R10,4 miljard van die OBK wou hê.

Naidoo het lank nagedink.

“Ek kan nie die presiese bedrag onthou nie, maar dit sal rondom R10 miljard wees.”

Matjila het volgens Marcus getuig hulle het ingestem op R9,4 miljard omdat hy nie op sy eie magtiging vir iets bo R10 miljard kon gee nie en dit sou beteken hulle moes deur ander prosesse en rade gaan en daarom is dit met R1 miljard verlaag.

Sy wou weet of Naidoo bewus was van hoekom die bedrag verlaag is.

“Ek het dit nie as onvanpas gesien nie,” sê Naidoo.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.