Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Papierverkope val steeds
Sappi se Carmignano-papiermeule in Italië.Foto: Sappi

Die internasionale papiergroep Sappi se verkope van grafiese papier in Europa en Noord-Amerika het in sy tweede kwartaal met tussen 8% en 13% geval.

“Ons is genoop om ons produksie by al ons papierfabrieke in dié gebiede met 85 000 ton te sny,” het Steve Binnie, uitvoerende hoof van Sappi, Donderdag gesê.

Grafiese papier is die glanspapier wat gebruik word vir goed soos advertensie- en bemarkingsmateriaal, glanstydskrifte, brosjures, pamflette, koffietafelboeke of kalenders.

’n Ekonomiese insinking en verhoogde verkooppryse wat in 2018 ingestel is, kry die skuld vir die laer verkope van grafiese papier. Die algemene tendens in die verkoop van glanspapier is die afgelope paar jaar al laer weens die skuif weg van papier na digitale produkte.

Sappi se aandeelprys was Donderdagoggend byna 8% laer op R61,50 nadat die groep laer wins vir sy tweede kwartaal aangeteken het.

Sappi pluk wel die vrugte van sy diversifisering na verpakkingsmateriaal en spesialisprodukte, waar verkope met 18% gestyg het. Sy verkope van oplossende houthulp het met 16% gestyg van ’n jaar gelede.

Die tekstielbedryf gebruik oplossende houtpulp vir die maak van vesel wat uiteindelik in klere, handdoeke en beddegoed soos duvets, kussings en slaapsakke gebruik word.

Die vraag na oplossende houtpulp van sy groot klante bly gesond, sê Binnie.

Hy waarsku egter Sappi se verkooppryse vir houtpulp wat op kontrak verkoop word, is ’n kwartaal agter Chinese markpryse. Dit beteken die laer markpryse oor die afgelope paar maande tesame met beplande instandhouding by al drie van sy houtpulp-meule sal in die derde kwartaal sy winsmarge en winsgewendheid raak.

Die tekstielbedryf gebruik oplossende houtpulp vir die maak van vesel wat uiteindelik in klere, handdoeke en beddegoed soos duvets, kussings en slaapsakke gebruik word.

Die hele boekjaar, asook die tweede helfte van die boekjaar se winsgewendheid sal na verwagting laer wees as 2018 s’n, sê Binnie.

Sappi verwag om die res van vanjaar sowat $370 miljoen (R5,23 miljard) aan kapitaalbesteding uit te gee.

Sappi se verdienste voor rente, belasting, depresiasie en afskrywings vir sy tweede kwartaal tot einde Maart het gekrimp tot $187 miljoen (R2,69 miljard) teenoor ’n jaar gelede se $211 miljoen (R3 miljard). Sy wins het van $102 miljoen (R1,466 miljard) tot $72 miljoen (R1,035 miljard) gedaal.

Sappi se mededinger Mondi het ook Donderdag ’n handelsverslag oor sy eerste kwartaal tot einde Maart uitgereik. Mondi sê sy verdienste voor rente, belasting, depresiasie en afskrywings het met 16% tot 471 miljoen (R7,58 miljard) gestyg vergeleke met ’n jaar gelede, en is 6% beter as die vierde kwartaal van 2018.

Mondi is toenemend meer toegespits op verpakkingsmateriaal. Hy is besig met die modernisering van sy Steti-meule in die Tjeggiese Republiek teen 335 miljoen (R5,39 miljard), en vorder met kapitaalbeleggings by sy meule in Slowakye en Rusland.

Mondi se aandeelprys op die JSE was Donderdag 3,23% laer op R300,94. Mondi is ook op die Londense beurs genoteer.

Meer oor:  Mondi  |  Sappi  |  Resultate  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.