Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pepsi wil bekende SA kosgroep koop, denoteer

Die Amerikaanse koeldrankreus PepsiCo wil Pioneer Foods vir sowat R23 miljard uitkoop, is Vrydagoggend bekend gemaak.

Pioneer Foods het handelsname soos Sasko en Marmite in sy stal.

Dit sal van Suid-Afrika se bekendste kos- en koeldrankprodukte in Amerikaanse hande plaas, insluitend Marmite, Bovril, ProNutro, Weetbix, Sasko, Moir’s, Lipton, Peck’s Anchovette, Futurelife, Heinz en Mama’s. Dit sal tot die denotering van Pioneer Foods lei.

Pioneer het dié enorme aankondiging Vrydagoggend op Sens gedoen nadat hy vroeër die week die mark aan die gons gehad het met die aankondiging dat onderhandelinge aan die gang was wat sy aandeelprys kan beïnvloed.

’n Algemene vergadering waarop Pioneer se aandeelhouers oor die transaksie stem, word op 15 Oktober gehou. Daar word voorsien dat die transaksie teen 11 Februarie 2020 afgehandel kan wees. Heelwat speling word toegelaat vir besware, reguleerders se goedkeuring wat verkry moet word en so meer.

Die transaksie is volgens die Sens-verklaring een van PepsiCo se grootste verkrygings tot dusver buite die VSA en “demonstreer PepsiCo se geloof in Suid-Afrika se potensiaal en sy langtermynverbintenis tot die land.”

Volgens die lang Sens-verklaring het PepsiCo se filiaal PepsiCo Offeror, wat spesifiek vir die transaksie gestig is, ’n vaste voorneme gedoen om ál Pioneer Foods se aandele te koop.

Die aanbod is vir R110 kontant per aandeel, dus sowat 42% meer as Donderdag se sluitingsprys van R77,60. As die transaksie ná 30 September vanjaar plaasvind, sal aandeelhouers steeds ’n dividend ontvang, en as dit ná 31 Maart 2020 plaasvind, ’n tussentydse dividend.

Pioneer self sê die aanbod – wat nog verhoog kan word – verteenwoordig ’n premie van 56,5% op die 30-dae- volumegeweegde aandeelprys van R70,31, soos op 12 Julie gemeet. Die aandeelprys het ná Maandag se omsigtigheidsaankondiging begin klim.

Pioneer het ’n onafhanklike direksie van drie mense vanuit sy groter direksie geskep spesifiek om die transaksie te oorweeg en dié direksie beveel die transaksie eenparig vir aandeelhouers aan. Dit is Norman Thomson, Sango Ntsaluba en Lindiwe Mthimunye.

Aandeelhouers wat 52,85% van Pioneer se gewone aandele besit, het reeds belowe hulle sal die transaksie steun. Dit sluit in die beleggingsbeheerfirma Zeder, wat 28,23% van Pioneer besit. Coronation, wat namens sy kliënte 7,29% van Pioneer besit, Allan Gray, Sanlam en PSG Batebestuur, ook namens kliënte, steun dit ook.

Motivering vir die transaksie

PepsiCo besit buiten Pepsi ook koeldranke soos Mountain Dew en 7UP en skyfies soos Simba, Nik Naks, Doritos, Fritos en Lay's. Hy het bedrywighede in meer as 200 lande en grondgebiede.

PepsiCo neem ’n sterk politieke standpunt in deur te verwys na die verkiesing van pres. Cyril Ramaphosa onlangs.

“Te midde van ’n uitdagende wêreld- en plaaslike ekonomiese omgewing, verteenwoordig die transaksie ’n mosie van vertroue in die Suid-Afrikaanse ekonomie.

“Die regstreekse buitelandse investering wat die transaksie sal meebring, sal betekenisvol tot die groei van die Suid-Afrikaanse ekonomie onder sy nuutverkose leierskap bydra. Dit sal ook help om verdere regstreekse buitelandse investering te lok en herbekragtig die saak dat Suid-Afrika ’n aanloklike beleggingsbestemming vir multinasionale maatskappye is.”

PepsiCo het hom tydens die apartheidsjare aan Suid-Afrika onttrek en sukkel sedertdien om hond haaraf te maak teen Coca-Cola, wat in die land gebly het.

PepsiCo beskou Afrika as ’n “sleutelmark vir toekomstige groei” danksy die potensiaal vir groei “en die betreklike bekostigbaarheid en waardeproposisie van baie van PepsiCo se produkte”.

Hy beskou die verkryging van Pioneer Foods as ’n manier om sy teenwoordigheid “in ’n land en streek met hoë groeipotensiaal” te laat styg.

“Pioneer Foods se vervaardigings- en verspreidingsvermoëns sal die penetrasie van PepsiCo se produkte aan Suid-Afrikaanse verbruikers uitbrei. Pioneer Foods vorm ’n belangrike deel van PepsiCo se strategie om nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in Afrika suid van die Sahara uit te brei.”

Meer oor:  Pepsico  |  Pepsi  |  Pioneer Foods  |  Kos  |  Marmite  |  Kosvervaardigers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.