Die opgradering van ’n tweede spoorlyn in die vraghouerterminaal in die hawe van Port Elizabeth is reeds besig om wesenlike sakegroei in die Oos-Kaap teweeg te bring.
Die Nasionale Hawe-owerheid van Transnet (TNPA) meen dat dié opgradering teen ’n koste van R10 miljoen die deure sal open vir maatskappye soos Ford, wat logistieke oplossings vir die uitvoer van duisende voertuie ondersoek.
Ford het in die vorige finansiële jaar suksesvol motors deur die motorterminale in die hawe uitgevoer.
Sujit Bhagattjee, TNPA se bestuurder vir nuwe sakeontwikkeling, het gesê Ford se uitvoer bied aan hulle die geleentheid om die hawe strategies as ’n motor-uitvoersentrum te posisioneer.

Die Nasionale Hawe-owerheid van Transnet (TNPA) herstel spoorlyne in die hawe in Nelson Mandelabaai. Foto: Verskaf
Hy sê dit open ook meer deure vir vervaardigers wat komponente vir ander maatskappye se produkte vervaardig, en vir die hawe om saam aan logistieke oplossings vir die invoer en uitvoer van komponente en eenhede te werk.
Die impak van die Covid-19-pandemie het Ford genoop om die uitvoer deur die hawe in Nelson Mandelabaai te hersien en dit lyk of hy in die komende paar jaar heelparty meer voertuie gaan uitvoer.
Dit sluit in die uitvoer van motors en enjinkomponente na Turkye, Rusland, Thailand, Argentinië en Amerika.

Ford vind reeds baat by die opgradering van spoorlyne in die hawe. Foto: Verskaf
Theo Sethosa, hawebestuurder, sê as alles volgens plan verloop, sal die opgradering na verwagting teen die einde van November voltooi wees.
Die verdere opgradering sluit in die herstel van ’n spoorlyn oor 340 m. Dié spoorlyn het weens ’n jare lange gebrek aan aanvraag in onbruik verval.
“Die belegging is ’n bewys dat die hawe in Port Elizabeth oop is vir sake en dat ons handel fasiliteer en ekonomiese groei bevorder.
“Ons ontwikkel ’n hawe wat in die wêreldarena kan meeding,” het Bhagattjee bygevoeg.