Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pensioene vir SAL? ‘Dobbel is veiliger’

’n Enorme opstand dreig indien pensioenfondse gedwing word om in die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te belê ten einde die bankrot lugdiens se sakeredding te finansier.

Die regering wil moontlik pensioenfondsgeld gebruik om die SAL se reddingsplan te befonds. Foto: Reuters

“Dis mal,” sê Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za. “Dis eintlik nie net totale malligheid nie, dit is misdadig.”

Schüssler reken dit sou beter wees as sy pensioenfondsbestuursfirma eerder met sy geld gaan dobbel. “Hulle kan net sowel my pensioengeld in bitcoin of Crowd1 gaan ‘belê’ – dit sou eintlik ’n beter kans daar hê om ’n opbrengs te lewer.”

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, sê pensioenfondse sal beslis nie vrywilliglik in die SAL belê nie. Om hulle te dwing, sal regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse verander moet word, maar Roodt verwag ’n enorme opstand daarteen wat op verskeie hofsake kan uitloop.

Roodt verneem ook daar is steun vir ’n internasionale boikot van die SAL – wat dié lugdiens finaal kan knak –indien die regering pensioenfondse dwing om daarin te belê.

Dié vurige reaksie kom nadat Tito Mboweni, minister van finansies, in ’n beëdigde verklaring vyf moontlike bronne gelys het vir die R10,1 miljard wat nodig is om die SAL se sakereddingsplan tot uitvoering te bring. Die gebruik van pensioenfondsgeld is eerste uit dié vyf moontlikhede.

Mboweni se verklaring is in reaksie op die dringende hofaansoek wat die DA gebring het om te keer dat die tesourie art. 16 van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies gebruik om die R10,1 miljard uit die staatskas te haal.

Art. 16 is die enigste manier hoe die tesourie in ’n noodgeval geld mag bestee as dit nie in die nasionale begroting opsy gesit is nie. Geen bykomende geld is in Februarie se begroting óf in Julie se aanvullende begroting – die sogenaamde Covid-19-noodbegroting – aan die SAL toegewys nie.

Schüssler sê by die SAL is daar géén moontlikheid vir ’n opbrengs “ooit” nie.

As my fondsbestuurder geld in die SAL belê, sal ek hof toe gaan. Dit sou uit en uit misdadig wees. Ek sal nie toelaat dat dit ooit gebeur nie.
Mike Schüssler

“Hul bemarking is in die wiele gery, hulle het nie vliegtuie nie, daar is nog geen wins gemaak in meer as ’n dekade nie. ’n Opbrengs op enige ‘belegging’ gaan jy nie daar kry nie.”

Schüssler gaan so ver as om te sê hy sal homself werklik tot die hof wend indien die plan sou voortgaan.

“As my fondsbestuurder geld in die SAL belê, sal ek hof toe gaan. Dit sou uit en uit misdadig wees. Ek sal nie toelaat dat dit ooit gebeur nie.”

Regulasie 28 word gereeld aangehaal in die konteks van voorgeskrewe bates. Dit bepaal tans die maksimum wat ’n pensioenfonds in een bateklas of een maatskappy se aandele mag belê juis ten einde die fonds teen oormatige blootstelling aan een daarvan te beskerm.

Dis ANC-beleid dat regulasie 28 verander moet word om pensioenfondse te dwing om in infrastruktuurprojekte te belê, soos weer bevestig in sy beleidsdokument oor die heropbou van die ekonomie ná die Covid-19-krisis.

Dis egter die eerste keer nóg dat ’n spesifieke staatsonderneming geopper word as die een waarin moontlik belê sal moet word.

Die ander vier moontlikhede wat Mboweni opper, is:

  • Die staat sal dalk ’n deel van die uitgereikte aandelekapitaal in die nuutgestigte lugdiens behou.
  • Private vennote sal dalk genader word om ’n belang in die lugdiens te bekom.
  • Strategiese vennote sal dalk genader word om ’n belang in die lugdiens te bekom.
  • Plaaslike en internasionale beleggingsinstansies sal dalk genader word.

Die opsie dat die staat aandele in die “nuwe” SAL koop, kom neer op die gebruik van belastingbetalersgeld en verklaar steeds nie hoe dit wetlik buite die raamwerk van die nasionale begroting gedoen gaan word nie.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Sondagoggend op die eNCA-program The Fix aan die aanbieder, Karima Brown, gesê die regering “werk nog daaraan” om te bepaal waarvandaan die R10,1 miljard gaan kom.

“Ons sal die parlement en publiek ingelig hou,” het Gordhan gesê.

Hy het herhaaldelik beklemtoon “finansiering” moet “gemobiliseer” word, met die klaarblyklike implikasie dat die regering dalk net lenings gaan waarborg eerder as geld uit sy eie sak gaan betaal.

Hy het ook verseker geen van die geld wat by onder meer die Internasionale Monetêre Fonds of die Nuwe Ontwikkelingsbank geleen word, word vir die SAL gebruik nie. Dié geld is geleen juis op voorwaarde dat dit gebruik word vir ingrypings wat met die Covid-19-pandemie verband hou.

Gordhan het beklemtoon die volle R10,1 miljard word nie onmiddellik vereis nie. SAL-werknemers moet egter reeds Woensdag aandui of hulle die vrywillige skeidingspakkette wat die sakeredders aanbied, aanvaar. Nagenoeg R2,2 miljard is daarvoor nodig.

Luidens die sakereddingsplan het die SAL dringend R5 miljard nodig om weer op dreef te kom. Dit word as volg benodig:

  • R2 miljard om die “nuwe” SAL op dreef te kry;
  • R800 miljoen se skuld wat betaal moet word; en
  • R2,2 miljard vir skeidingspakkette aan werknemers.

Die res van die R10,1 miljard bestaan uit:

  • Aanspreeklikheid van R3 miljard vir kaartjies wat verkoop is;
  • R600 miljoen aan krediteure; en
  • R1,7 miljard vir huur.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.