Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pep, Ackermans se verkope skiet 96% op begin Mei

Die Pepkor-groep, wat Pep en Ackermans besit, het in April ’n beraamde R5 miljard se verkope verloor toe winkels gesluit was tydens die eerste deel van die nasionale inperking.

Leon Lourens, uitvoerende hoof van Pepkor. Foto: Verskaf

Die verkope van Pep en Ackermans het nadat hulle in Mei heropen het in die eerste week met 96% opgeskiet vergeleke met dieselfde week verlede jaar.

Leon Lourens, uitvoerende hoof, het die skerp styging in die eerste week toegeskryf aan die vraag wat tydens die inperking opgebou het. Die vraag het daarna begin afneem, maar nog steeds goeie groei word beleef.

Van die groep se winkels is nog gedeeltelik toe soos die meubelwinkels wat net aanlyn mag verkoop en bouwarewinkels wat net aan sekere klante mag verkoop.

Lourens meen weens die aard van die klere wat die groep verkoop – meer basiese klere en baie baba- en kinderklere – is daar ’n natuurlike aanvraag daarna in die toestande wat nou heers. “Ons is ook bekostigbaarder as ander en dit sal tot ons voordeel wees.”

Lourens meen die groep kan wesenlike markaandeel in dié toestande wen. Volgens hom trek die groep voordeel uit die groot aantal winkels in dorpe en woonbuurte omdat daar ’n behoefte van klante is om nader aan hul huis klere te koop.

pep

Die groep het Woensdag sy resultate vir die halfjaar tot einde Maart uitgereik. Die groep se inkomste het in die halfjaar met 6,5% tot R37,6 miljard gestyg. Die bedryfswins voor kapitaalitems het met net 0,3% tot R3,4 miljard gestyg.

Die belegging in twee verbruikerskuldboeke wat die groep onlangs begin bou het, het die bedryfswins afgetrek.

Lourens sê die verkope wat verloor is in die aanloop tot die inperking het in die halfjaar sy inkomste met R476 miljoen verlaag en sy bedryfswins met ’n beraamde R150 miljoen.

Verkope in die halfjaar

Só het sy verskillende bedrywighede se inkomste en bedryfswins in die halfjaar vertoon:

  • Klere en algemene handelsware
Klante wag buite ’n Pep-winkel nadat die winkels heropen het in Mei. Foto: Verskaf

Dié segment, waarvan Pep en Ackermans die grootste bydrae lewer, maar wat ook Dunns, John Craig, Refinery, Shoe City en Tekkie Town insluit, het met 5,4% tot R24,3 miljard gestyg. Pep en Ackermans se verkope in vergelykende winkels het met 3,6% gestyg en markaandeel is verhoog, volgens hom.

Die afdeling se bedryfswins is onveranderd op R3,1 miljard weens die swakker wins van Pep Afrika en die res van die winkels buiten Pep en Ackermans.

Lourens sê skoenwinkels word erger getref deur die swak ekonomiese toestande omdat die besteding daarop meer diskresionêr is. Die vergelykbare winkels se verkope het met 2,9% gedaal.

Dié bedyfsegment het 4 457 winkels nadat 105 nuwe winkels geopen is.

  • Meubels en elektroniese produkte

Dié segment sluit winkels soos Russells, Bradlows, Sleepmasters, Rochester, HiFi Corp en Incredible Connection in en sy inkomste het met 1,7% tot R5,1 miljard gestyg. Die bedryfswins het met 11,7% tot R67 miljoen gestyg.

pep

Verkope van meubels is van middel Maart af erg geknou in aanloop tot die inperking.

Volgens Lourens het elektroniese produkte sterk verkope aanlyn beleef van mense wat kantore by die huis moes inrig.

  • Bouware

Pepkor besig onder meer Buco, Timbercity en Tiletoria. Die segment se inkomste het met 5,1% tot R3,8 miljard gedaal weens die swak toestande in die konstruksiebedryf. Bedryfswins het tot R4 miljoen gedaal. Verkope is verder geknou in aanloop tot die inperking.

  • Finansiële dienste en tegnologie

Dié bedryfsegment, bestaande uit Flash en Capfin, se inkomste het met 36% tot R4,3 miljard gestyg. Die bedryfswins is onveranderd op R200 miljoen. Dit hou met die impak van Capfin se verbruikerskuldboek verband.

Klante van Ackermans wag in ’n ry nadat die klerewinkels weer heropen het in Mei. Ackermans se verkope het skerp opgeskiet in die eerste paar weke van Mei. Foto: Verskaf

Flash is betaalpunte wat in die informele mark deur handelaars gebruik word. Die omset deur die betaalpunte het met 20% gestyg in die halfjaar. Handelaars wat die betaalpunte gebruik, het van 156 000 tot 172 000 toegeneem.

Capfin het sy aktiewe rekeninge tot 333 000 verhoog.

Volgens Lourens is die kredietkrane skerp toegedraai teen die einde van Maart as gevolg van die Covid-19-krisis en daar word gefokus op die invordering van skuld.

Dringende stappe

Lourens sê die risiko van die pandemie vir die groep en sy bedrywighede het dringende en taktiese maatstawwe benodig om die impak te versag.

“Ons het ’n aantal maatstawwe in werking gestel, soos om bedryfskoste en kapitaalbesteding te verminder en voorraadvlakke vir die verwagte laer verbruikersvraag te bestuur.”

Die uitbreiding van winkels gaan beperk word tot Pep en Ackermans, wat self ook stadiger uitgebrei gaan word.

Die groep het ook met sy finansierders geskakel en het addisionele leningsgeriewe gereël. Gesprekke word gevoer met sy finansierders oor die bepalinge van kontrakte waaraan teen September gehoor gegee moet word.

Die groep se ambisie om sy skuldlas te verlaag, gaan nou langer neem om te bereik.

“Die groep doen voortdurend verskeie scenariobeplannings en strestoetse om seker te maak dat die gepaste finansiële stappe geneem word om koste te verlaag, kontant te bewaar en om toegang tot likiditeit te verseker en om die kapitaalstruktuur se buigsaamheid te verbeter in dié ongekende toestande.”

Geen dividend

Die groep gaan vir die nuwe, meer beperkte omgewing voorberei deur herstrukturering en konsolidering.

“Ons kostebasis is reeds van die laagste onder kleinhandelaars in Suid-Afrika, maar daar gaan ekstra druk op ons wees, en ons moet kyk watter funksies gekonsolideer kan word.”

Hy sê salarisbesnoeiings en werkverlies onder sy 50 000 werknemers is waar moontlik beperk.

Geen tussentydse dividend word verklaar soos in vorige tussentydse periodes nie. ’n Voljaardividend gaan waarskynlik ook nie later vanjaar verklaar word nie.

Meer oor:  Pepkor  |  Pep  |  Ackermans  |  Leon Lourens  |  Kleinhandel  |  Winkels  |  Inperking  |  Covid-19  |  Verkope  |  Winkelgroep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.