Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pep, Ackermans trek swaar tydens inperking

Die klerewinkelgroepe Pep en Ackermans se inkomste het sedert die inperking begin het, van April tot einde Junie, met 17,5% gedaal.

Pep
Pep het soos alle ander winkels swaar getrek weens die inperking.

Die Pepkor-groep het Vrydag ’n handelsoorsig uitgereik vir die nege maande van sy boekjaar van begin Oktober tot einde Junie. Dit toon hoe skerp sy inkomste in sy derde kwartaal gedaal het.

Klerewinkels moes vir weke gesluit word weens die inperking. In April het verkope met 93,8% in Pep en Ackermans geval.

Baie sterk verkopegroei is daarna in Mei en Junie beleef toe die inperking verslap is, en dit is toegeskryf aan die opgehoopte vraag en staatstoelaes wat aan sekere verbruikers betaal is.

Volgens Pepkor het verbruikers hul besteding aan klere geprioritiseer vir baba- en kinderklere. Dié verkope het in die winkels in die twee maande met onderskeidelik 20% en amper 13% gestyg.

Die inperking se invloed op die heropening van skole het tot swak skoolklereverkope gelei.

Die verlies aan verkope in April het uiteindelik die verkope in die derde kwartaal van die boekjaar afgetrek en vir die nege maande met 3,5%.

In Afrika het Pep se verkope in die lande se geldeenhede met amper 20% gedaal. Dié ander lande dra net 3% tot die groep se inkomste by.

In geheel het die groep se inkomste in die nege maande met 1,5% tot R52,3 miljard gedaal.

Die groep het na raming in April R5 miljard se inkomste verloor.

Die hele groep se inkomste het in sy derde kwartaal van April tot einde Junie met 17% geval.

Die verkope sluit in skoene van Pepkor Speciality (wat Tekkie Town insluit). Hier het die verkope vir die drie maande met byna 27% geval en vir die nege maande met bykans 10%.

Meubelverkope deur die JD-groep het in Junie met 30% gestyg toe meubelwinkels weer kon open, maar het steeds oor die drie maande met 25,6% gedaal weens winkels wat gesluit moes wees.

Elektroniese toestelle wat deur Incredible Connection en Hi-Fi Corp verkoop word, het nadat aanlyn verkope in Mei hervat kon word, met amper 40% gestyg, en in Junie het dié winkels se verkope met 46% gestyg.

“Nadat die inperking in Junie verslap is, is sterk verkope in die afdeling beleef. Die winkels het baat gevind by die sterk aanlyn verkope en die groot vraag van verbruikers omdat kinders van die huis af moes skoolgaan en kantore by die huis ingerig moes word.”

Pepkor sê die groep het in Julie voortgesette sterk groei in verkope beleef.

“Die groep fokus op sy aggressiewe groei in sy markaandeel omdat verbruikers gedwing word om hul besteding te verminder en te herprioritiseer.

“Die groep gaan kapitaliseer op sy posisie in die mark om afslagpryse en waarde te bied.”

Boonop is die groep se talle winkels hoogs bereikbaar vir verbruikers wat nou verkies om winkels nader aan hul huise te ondersteun.

Meer oor:  Pepkor  |  Pep  |  Ackermans  |  Kleinhandel  |  Klerewinkels  |  Meubelhandel  |  Kleinhandelaars  |  Meubels  |  Klerekleinhandel  |  Winkels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.