Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pep, Ackermans wen markaandeel

Die bekostigbaarheid van sy produkte en die verhoging in maatskaplike voordele wat arm mense ontvang, het Pepkor se winkels, soos Pep en Ackermans, die afgelope maande bevoordeel.

Die onlangse opening van 'n nuwe Pep-winkel in die Paarl Mall winkelsentrum in die Paarl.

Leon Lourens, uitvoerende hoof van Pepkor, sê die groep het sedert Mei wesenlike markaandeel gewen, deels omdat verbruikers in die moeilike ekonomiese tye na goedkoper basiese produkte soek.

“As jy kyk na al die resultate wat ander kleinhandelaars gepubliseer het die afgelope tyd, het ons verreweg beter as hulle presteer, en dit beteken ons vat markaandeel van almal in die mark weg.”

Die groep se verkope het in die vierde kwartaal van sy boekjaar, tot einde September, herstel en met 12% jaar tot jaar gestyg vergeleke met die derde kwartaal se daling van 15,9%.

Volgens Lourens het die sterk momentum in verkope in Oktober en November voortgeduur, met ’n dubbelsyfer-styging in vergelykbare verkope (dus uitgesluit nuwe winkels) wat deur Pep en Ackermans en van sy ander winkels aangemeld is.

Hy skryf dit toe aan die markposisie wat die groep het in die laerinkomstemark of die massamark, asook nuwe klante wat gewen is.

“’n Klomp verbruikers wat op soek is na waarde, goeie pryse en bekostigbaarheid het na daardie mark toe afgekoop.”

Hy sê die verhoging in maatskaplike toelae aan armes het ook gehelp.

“In daardie opsig het die regering se poging om die ekonomie aan die gang te hou ons ook indirek gehelp.”

Veral Pep en Ackermans het voordeel getrek uit die bykomende maatskaplike toelae wat betaal is.

Die ligging van die groep se winkels het gehelp omdat verbruikers winkelsentrums vermy het. Baie van sy winkels is naby sy klante geleë.

Lourens skryf ook die markaandeel wat gewen is toe aan hoe die groep sy voorraad bestuur het.

“Ons moes redelik vinnig aanpas by die veranderinge in die voorraadketting.”

Verloor miljarde se verkope

Die groep se inkomste het in die boekjaar tot einde September met 3,6% tot R63,7 miljard gestyg.

As nuwe winkels uitgesluit word, het verkope nie vergeleke met die ooreenstemmende tydperk gegroei nie.

In die eerste streng fase van die inperking het die groep R5 miljard se verkope verloor. Interne inflasie van 9% is beïnvloed deur die wisselkoers omdat baie aankope in dollar plaasvind en dit inflasie opstoot as die rand verswak.

Hy sê sowat 10% minder items is in die boekjaar verkoop.

Verbruikerskrediet

Die bedryfswins voor kapitaalitems het met 18% tot R5,3 miljard gedaal.

Pepkor se klerewinkelhandelsnaam Ackermans het te midde van die Covid-19 inperking goeie verkope behaal. Foto: Alet van der Walt

Dit is deels weens die R5 miljard se verkope wat verloor is tydens die eerste paar weke van die inperking, maar ook weens debiteurekoste wat skerp gestyg het.

Debiteurekoste het met 48% tot R1,7 miljard gestyg as gevolg van die toename in slegte skuld en die voorsiening vir moontlike slegte skuld in die verbruikerskredietboeke.

Lourens sê die voorsiening wat vir slegte skuld gemaak is, is baie konserwatief.

“Ons weet nog nie hoe dit gaan verloop en wat die rol gaan wees wat die Covid-19-pandemie gaan speel nie.”

Volgens hom is die slegte skuld erger as verlede jaar, maar beter as wat hulle verwag het in die lig van die hoër werkloosheid en mense wat hul poste tydelik verloor het.

Lourens glo die winsposisie is goed onder die omstandighede. “Ons is baie tevrede. As ons met ander kleinhandelaars vergelyk word, is dit ’n goeie prestasie.”

Afskrywings

Die groep se wins is ook getref deur ’n afskrywing van R4,8 miljard aan klandisiewaarde wat voortspruit uit die swakker groeiverwagtinge wat vir sy verskillende kettingwinkels in die vooruitsig gestel word.

’n Evaluering word elke jaar van die waarde van die ondernemings in die groep gedoen.

Lourens sê die verandering in die omstandighede weens Covid-19 het die verwagting vir verkope in die toekoms vir sekere ondernemings verlaag.

Die afskrywing sluit in Tekkie Town se waardasie, wat met ’n reusebedrag van R1,6 miljard verlaag is.

Pepkor het ’n nabelaste verlies vir die jaar uit voortgesette bedrywighede van R2,8 miljard getoon.

Die afskrywings het bygedra tot die verlies per aandeel van 62,5c. Die wesensverdienste per aandeel het met 21% gedaal omdat die afskrywings uitgesluit word.

Kontant styg skerp

Die kontant geskep uit bedrywighede het R9,2 miljard beloop ná proaktiewe kostebestuur, minder krediet wat aan verbruikers verskaf is en beter as verwagte skuldinvordering.

Tesame met nuwe aandele wat uitgereik is om geld van beleggers in te samel wat in Junie plaasgevind het, kon die groep sy netto skuld van R14,1 miljard einde Maart tot R7,1 miljard einde September verlaag.

Die groep het met sy halfjaarresultate einde Mei aangekondig geen dividend gaan verklaar word nie.

Meer oor:  Tekkie Town  |  Pepkor  |  Pep  |  Ackermans  |  Leon Lourens  |  Kleinhandel  |  Maatskappyresultate  |  Kleinhandelaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.