Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pepkor bly optimisties oor terug-skool-toe-verkope

Ouers se malle gejaag om skoolklere en skryfbehoeftes te koop, is vanjaar uitgestel omdat skole nie soos beplan in Januarie heropen het nie. Pep en Ackermans belowe egter dat hulle nog voorraad het, betyds vir die heropening van die staatskole op 15 Februarie.

Die verkope van skoolklere vind vanjaar later as in ander jare plaas omdat staatskole eers middel Februarie open.

Pepkor het Dinsdag in ’n handelsverklaring gesê hy het nie in Januarie die gebruiklike terug-skool-toe-inkopies gehad nie, maar verwag dat dit oor die volgende paar weke sal gebeur.

Die groep het – gegewe die swak ekonomie en voortslepende inperkings – bevredigende verkoopsyfers vir die laaste kwartaal van 2020 bekend gemaak. Dit het beleggers egter koud gelaat en die groep se aandeelprys het teen 11:30 met 0,72% tot R15,15 gedaal, teenoor die 0,64%-styging van die JSE se indeks van alle aandele.

Pepkor sit die tendens voort dat kleinhandelaars met billiker produkte op hul rakke markaandeel wen te midde van die hoër werkloosheid en druk op verbruikers se besteding wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is.

Daarby styg verkope van elektronika steeds soos wat mense aanhou om van die huis af te werk en hul tuiskantore opgradeer.

Pepkor het in die laaste kwartaal van 2020 ’n stewige R20,3 miljard verdien – 7,7% meer as in dieselfde kwartaal van 2019.

Vooruitsigte

Pepkor verwag “wisselvallige handelspatrone” in die tweede kwartaal van sy boekjaar, gegewe die voortslepende tweede vlaag van die Covid-19-pandemie. Pepkor bly optimisties dat hy veerkragtig sal bly “in ’n omgewing waar verbruikers bekostigbaarheid, gerief en waarde nodig het”.

Dit kom terwyl Pepkor se markaandeel met 270 basispunte gestyg het, volgens die onafhanklike Retailers’ Liaison Committee. Mr Price het ook onlangs bekend gemaak dat sy markaandeel gestyg het.

Klere en algemene handelsware

Die verkope van klere en algemene handelsware het met 8% tot R14,8 miljard gestyg. Dié segment sluit Refinery, Sergeant Pepper Clothing Co en Tekkie Town in, maar die grootste gewig word deur Pep en Ackermans gedra. Saam het die twee winkels ’n 8,9%-styging in hul verkope aangeteken. In vergelykbare winkels was dit 6,3%.

Die pryse wat verbruikers in Pep en Ackermans betaal het, was gemiddeld 5% hoër, wat Pepkor grootliks aan die swakker rand toeskryf.

Altesame 38 nuwe Pep- en Ackermans-winkels is in die kwartaal oopgemaak, wat volgens Pepkor ’n meer konserwatiewe uitbreidingsprogram is as wat voor die Covid-19-krisis beplan is.

In die res van Afrika, wat net 2,6% tot die groep se inkomste bydra, het klereverkope in randwaarde met 12,7% gedaal, hoewel dit in konstante geldeenhede met 3,8% gestyg het. Die groep se bedrywighede in Uganda is nou gesluit.

Die groep se spesialiteitsafdeling, wat onder meer Tekkie Town en Shoe City insluit, het verkoopsgroei van 10,2% aangeteken (vergelykbare verkope 9,2%).

Pepkor is besig om John Craig aan die ongenoteerde kleregroep Studio 88 te verkoop omdat hy glo die winkel vir formele mansdrag nie by sy model van billike produkte inskakel nie. Besonderhede oor die transaksie is nog skraps.

Meubels, toestelle en elektronika

Dié segment, wat onder meer Bradlows, Russells, Increcdible Connection en HiFi Corporation insluit, het verkope met 7,5% tot R3,1 miljard gelig.

Pepkor sê die tendens dat meer mense van die huis af werk of skoolgaan, het steeds die verkope van tegnologie en opgraderings aangedryf.

Finansiële tegnologie

Die afdeling se inkomste het met 5,8% gegroei.

Dit sluit Flash Group in, wat betalingsopsies vir informele handelaars skep. Flash het met 15,7% gegroei, ondersteun deur nuwe produkte wat vir kliënte ontwikkel is.

Capfin, ’n mikrolener, het nie veel gegroei nie, grootliks omdat kredietverlening streng was en rentekoerse deur die loop van 2020 gedaal het. Die kredietboek staan op R1,9 miljard, onveranderd sedert September.

Boumateriale

Hoewel Pepkor verlede jaar ooreengekom het om The Building Company (Buco) en Timbercity vir R1,1 miljard aan Cashbuild te verkoop, is dit steeds deel van sy syfers. Verkope het met 7,1%, en vergelykbare verkope met 9,3% gestyg.

Die transaksie is nog onderhewig aan voorwaardes en goedkeuring deur die mededingingsowerhede. Dit gaan na verwagting nog in die eerste helfte van 2020 voltrek word.

Meer oor:  Pepkor  |  Klere  |  Klerekleinhandel  |  Kleinhandelaars  |  Klerebedryf  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.