Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pepkor groet Steinhoff se omstrede Wands en Fulcrum

Die kleinhandelgroep Pepkor se weë gaan skei van die omstrede Fulcrum Financial Services en Wands Investments, wat albei die afgelope twee jaar die finansiering vir lenings aan sy klante verskaf het.

Pepkor gaan al die uitgereikte aandele in FGI, ’n Wands-filiaal wat versekeringsprodukte verkoop het, van Wands te koop vir R150?miljoen. Entiteite van Christo Wiese kan hieruit voordeel trek.

Pepkor het Vrydag op die JSE se nuusdiens, Sens, aangekondig hy het besluit om sy kommersiële verhouding met ’n filiaal van Wands Investments, Century Capital (Cencap), te beëindig. Die verhouding gaan uitgefaseer word totdat dit finaal in 2021 eindig.

Pepkor het in die aankondiging ter agtergrond ’n verduideliking van die historiese verhouding gegee wat in 2016 tussen sy filiale en filiale van Wands Investments begin het.

“Wands is verantwoordelik vir die finansiering van die kredietboeke wat finansiële dienste aan die klante van sekere van Pepkor se winkels verskaf.”

Wands Investments is op sy beurt ’n filiaal van Fulcrum Financial Services, het Pepkor gesê.

Die naam van Fulcrum en Wands het die afgelope jaar opgeduik in berigte oor beweerde verwante-party-transaksies en ondernemings wat Steinhoff van sy balansstaat geneem het ten einde sy inkomste en wins beter te laat lyk.

Dienste gelewer

Ter agtergrond is verduidelik Wands Investments het die volgende finansiële dienste aan Pepkor se filiale gelewer:

  • Cencap het krediet aan klante van JD Group (Bradlows, HiFi Corporation, Incredible Connection en ander winkels) verskaf.
  • Persoonlike lenings – wat as Capfin-lenings bekendstaan – is deur Cencap via Pep en Ackermans se winkels verskaf.
  • Versekeringsprodukte is deur FGI Holdings verskaf onder die handelsname Abacus Insurance en Abacus Life.

Pepkor het sy aandeelhouers in Mei met die uitreiking van sy tussentydse resultate daarop gewys dat Steinhoff se forensiese ondersoek na ongerymdhede met sy boeke onder meer handel oor die groep se bande met Fulcrum.

Pepkor het sy aandeelhouers nou weer op dié verklaring in Mei gewys waarin gesê is dat Steinhoff moontlik ’n wesenlike invloed uitgeoefen het oor die Fulcrum-groep van maatskappye en dat dit daartoe sal lei dat Pepkor die openbaarmaking oor verwante partye in sy geouditeerde jaarstate van 2017 sal moet verander om die verhouding met Fulcrum aan te dui.

Wands Investments se naam duik nou vir die eerste keer op in die aankondiging van Pepkor Vrydag.

Volgens Pepkor was daar onsekerheid oor Cencap se vermoë om voort te gaan met die finansiering van finansiële dienste vir Pepkor se klante omdat dit onseker is of Wands bykomende kapitaal aan Cencap sal kan gee. Wands het die finansiering vir al die krediet en lenings verskaf en het die kredietrisiko gedra.

Die die rede waarom Pepkor besluit het om nie die verbruikerskredietboeke wat deur Cencap besit word, te koop nie en eerder sy eie verbruikersleningsboeke te bou.

Die besluit om self die verbruikerskrediet te finansier, bring meer sekerheid aan die groep.

“Die besluit om self die verbruikerskrediet te finansier, bring meer sekerheid aan die groep.”

Dit sal Pepkor help om volle beheer van sy kredietafdeling te neem, wat hy buiten die finansiering reeds beheer.

Pepkor het ook ingestem om al die uitgereikte aandele in FGI, ’n Wands-filiaal wat versekeringsprodukte verkoop het, van Wands te koop vir R150 miljoen. ’n Noulettendheidsondersoek moet nog hieroor gedoen word.

Die aankondiging is vrywillig uitgereik om aan aandeelhouers te verduidelik watter kontrakte met Cencap beëindig word en watter kontrakte heronderhandel is.

“Die doel is om uiteindelik die kommersiële verhouding met Fulcrum, Wands en Cencap op ’n verantwoordelike wyse te beëindig.”

Leon Lourens, uitvoerende hoof van Pepkor, sê die transaksies is “konserwatief hanteer”.

Dit blyk daarmee word bedoel dat ’n onafhanklike kundige se mening ingewin is oor die transaksies en of dit billik is vir aandeelhouers om twee redes:

  • Die verhouding tussen Fulcrum en Steinhoff.
  • Die verhouding wat entiteite wat aan die familie van Christo Wiese behoort met Wands en Southern View Finance het. Wiese was tot Desember die grootste aandeelhouer van Steinhoff en die maatskappy se voorsitter.

Pepkor het by navraag laat blyk “die konserwatiewe roete is in die verklaring gevolg om alle partye verwant tot die transaksie in die Sens-verklaring openbaar te maak”.

In die verklaring word gesê dat entiteite wat beheer word deur die Wiese-familie voordeel uit die transaksies kan trek.

Die entiteite hou voorkeuraandele in Southern View Finance Holdings SA, ’n filiaal van Wands Investments.

Southern View het ’n lening aan Wands gegee.

Die Wiese-entiteite het ’n ooreenkoms met Wands Investments gesluit om Southern View en Cencap te koop in ’n poging om te verseker dat die voorkeuraandele aflosbaar sal wees.

Dié ooreenkomste is onderhewig aan opskortende voorwaardes.

Nuwe ooreenkomste met Cencap

Pepkor se interne oproepsentrum en skuldinvorderingsbedrywighede het reeds dienste aan Cencap ten opsigte van die Capfin-lenings en JD-kredietboek verskaf.

Die kontrakte wat heronderhandel word, hou verband met die dienste wat Pepkor reeds aan Cencap verskaf het.

“Die voorkeuraandeelhouers kan dus onregstreeks ’n finansiële voordeel kry as aandeelhouers van Cencap en as die opbrengs van die verkoop van FGI (aan Pepkor) aangewend word om die lening wat Wands aan Southern View skuld, terug te betaal.”

PSG Capital is aangestel as onafhanklike kundige en het bevind dit is wel billik teenoor aandeelhouers.

Pepkor wou nie by navraag sê wie Fulcrum se aandeelhouers is nie. “Ons stel voor jy kontak Fulcrum om dit uit te vind.”

Volgens Pepkor hou Wiese nie aandele in Pepkor nie. Daar word in die verklaring na hom verwys omdat hy in die afgelope 12 maande voorsitter van Steinhoff was en omdat Steinhoff 71% van Pepkor se aandele besit.

Sy seun Jakob Wiese is op Pepkor se direksie.

Christo Wiese het by navraag gesê hy het kennis gedra van die Sens-verklaring se inhoud: “Ons het besluit om ’n volledige verklaring uit te reik.”

Hy sê sy familie het deur hul voorkeuraandele die kredietboeke gefinansier. “Pepkor gaan steeds namens die mense wat die oorspronklike boek gefinansier het, die skuld invorder.”

Meer oor:  Steinhoff  |  Pepkor  |  Christo Wiese  |  Leon Lourens  |  Krediet  |  Kleinhandel  |  Finansiële Dienste  |  Kleinhandelaars  |  Lenings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.