Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pepkor reg vir stryd met nuwe tekkie-winkel

Braam van Huyssteen, stigter en voormalige mede-eienaar van Tekkie Town, gaan dalk die wind van voor kry in sy poging om ’n nuwe winkel, Mr. Tekkie, te open.

Die tekkie-oorlog tussen Mr. Tekkie en Tekkie Town gaan dalk nog ’n hofstryd oplewer.

Steinhoff Africa Retail (Star), wat Tekkie Town besit, het in reaksie op navrae oor dié verwikkeling gesê die maatskappy gaan sy “wetlike regte opdwing om ons onderneming en ons belange te beskerm”.

Jayendra Naidoo, voorsitter van Star (wat van volgende week af amptelik Pepkor word), het in antwoord op vrae oor die stigting van Mr. Tekkie gesê: “Die mense wat weg is, is onderhewig aan sekere wetlike verantwoordelikhede, insluitend, waar van toepassing, handelsbeperkings, en ons sal alle nodige stappe doen om te verseker dat mense hul verantwoordelikhede nakom.”

Dit was Star se bondige kommentaar toe die maatskappy gevra is hoe hy daaroor voel dat Van Huyssteen en Bernard Mostert, voormalige uitvoerende hoof, Donderdagaand aangekondig het hulle maak in November ’n klerewinkel in St. George’s Mall in Kaapstad oop. Dis op die perseel waar ’n tak van Tekkie Town tans is.

Naidoo het nie besonderhede gegee van die handelsbeperkings of ander wetlike “verantwoordelikhede” waaraan Van Huyssteen en Mostert onderhewig is nie. Mostert self ontken dat ’n handelsbeperking op hulle van toepassing is.

Mostert het Donderdag aan Nellie Brand-Jonker benadruk dat Mr. Tekkie, waarvoor ’n logo reeds ontwerp is, nie ’n nuwe Tekkie Town is nie.

“Ons begin van voor. Dis hoegenaamd nie ’n nuwe Tekkie Town wat begin word nie. Tekkie Town is ’n onderneming wat altyd na aan ons hart sal wees, want dit is iets wat Braam begin het en iets wat ons opgebou het. Maar ons begin nie ’n nuwe Tekkie Town nie.”

Van Huyssteen begin dié onderneming nadat sy verhouding met Star versuur het. Verskeie wedersydse hofgedinge is die afgelope ruk aanhangig gemaak.

Star is ’n filiaal van Steinhoff International wat verlede jaar op die JSE genoteer is. Star sluit in Pepkor, wat in 2015 oorgeneem is, en Tekkie Town, wat in 2016 deur Steinhoff International in ’n aandeelruiltransaksie gekoop is.

Van Huyssteen en sy jare lange bestuurslede, soos Mostert, wat die hoof van Star se spesialiteitsafdeling was, het onlangs bedank. Van Huyssteen dagvaar Star vir R42,6 miljoen-kontrakbreuk van sy dienskontrak.

Die voormalige eienaars van Tekkie Town het ook ’n eis van amper R1,9 miljard teen Steinhoff gebring vir die verlies wat hulle gely het.

Van Huyssteen-hulle het ook later ’n eis teen Star gebring in verband met ’n ooreenkoms oor ’n prestasiebonus.

Van Huyssteen het onlangs uitsettingsbevel teen Tekkie Town gebring om die maatskappy te dwing om die pakhuis en hoofkantoor op George te verlaat. Die geboue behoort aan hom.

Hieroor sê Naidoo: “Ons is glad nie van plan om uit te trek nie.”

Leon Lourens, uitvoerende hoof, sê hulle het op 25 Julie ’n hofaansoek gebring waarin hulle vra dat die hof Pepkor tot die regmatige okkupeerder van die eiendom verklaar totdat die dispuut in die hof besleg word.

“Tekkie Town het meer as 3 000 werknemers, baie van hulle in George. Ons het die voorkomende stap gedoen om helderheid te kry in ’n dispuut wat onnodig ingewikkeld geword het sodat mense se werk veilig is en ons kan aanhou om Tekkie Town uit te brei, sowel in die streek as nasionaal,” sê Lourens.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.