Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pepkor verras met styging in inkomste
Pep
Die Pepkor-groep sê hy het heelwat markaandeel danksy sy fokus op “minder diskresionêre en meer bekostigbare produkte en dienste” gewen.

Pepkor, die kleinhandelaar wat onder meer Pep, Ackermans, Shoe City en Tekkie Town besit, het die haas onmoontlike reggekry: Sy inkomste vir die boekjaar tot einde September is hoër as ’n jaar gelede, selfs al kon sy winkels weke lank weens die nasionale staat van inperking nie hul deure oopmaak nie.

Die groep sê hy het heelwat markaandeel danksy sy fokus op “minder diskresionêre en meer bekostigbare produkte en dienste” gewen.

“Pepkor se kleinhandelsname het voordeel getrek daaruit dat verbruikers waarde soek, terwyl sy uitgebreide voetspoor van winkels aftrek gekry het by klante wat in meer gerieflike liggings naby hul huis wou inkopies doen.”

Die maatskappy se totale inkomste het weliswaar met net 1,9% gegroei, maar dis teenoor klerekleinhandelaars wat die afgelope paar dae negatiewe verkoopsgroei aangekondig het. The Foschini Group (TFG) het onder meer 22% se omset en Truworths 10% verloor.

Die groep se aandeelprys het Vrydagmiddag in ’n stadium met 4,87% tot R13,78 gestyg nadat die handelsverklaring uitgereik is.

Pepkor se inkomste was R70,9 miljard. As net voortgesette bedrywighede in ag geneem word, het Pepkor se inkomste met 3,6% tot R63,7 miljard gestyg.

Pepkor het die boumateriaalwinkel Buco in Augustus verkoop. Dit het nagenoeg 10% tot die groep se inkomste bygedra. Hy het ook sy bedrywighede in Zimbabwe verkoop en hom aan dié land onttrek – ’n besluit wat al in 2019 geneem is, maar eers in September vanjaar uitgevoer is.

Die maatskappy sê in ’n handelsverklaring nagenoeg R5 miljard se verkope is in die eerste vyf weke van die inperking, van 27 Maart tot einde April, verlore. Al die maatskappy se winkels kon eers teen Junie al hul produkte verkoop.

Die afdeling klere en algemene handelsware, wat onder meer Pep en Ackermans insluit, kon sy inkomste met 1,4% lig. In die vierde kwartaal van die boekjaar (Junie tot September) was die groei 12,1%, teenoor die daling van 15,9% in die derde kwartaal (Maart tot Mei).

Pep en Ackermans se verkope het saam met 2,6% gestyg, maar dis grootliks danksy die opening van 145 nuwe takke.

Verkope van die spesialiteitsafdeling, wat onder meer Tekkie Town insluit, het met 3,6% gedaal.

Verkope van meubels, toestelle en elektronika, die afdeling wat Russells, Incredible Connection en HiFi Corporation insluit, het met 1,4% gegroei.

By die afdeling vir finansiële tegnologie, wat Capfin en Flash insluit, het inkomste met 20,4% gegroei.

Buco se verkope het met 12,6% gedaal.

Ondanks die styging in sy inkomste verwag Pepkor dat sy verdienste per aandeel met tussen 235% en 245% gaan val en sy wesensverdienste met tussen 28,2% en 38,2%.

Die maatskappy reik sy volledige resultate op 23 November uit.

Meer oor:  Pepkor  |  Pep  |  Ackermans  |  Resultate  |  Maatskappye  |  Klerewinkels  |  Kleinsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.