Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Pepkor wil tot R10 mjd. in mark leen

Pepkor het ’n skuldbriefprogram bekend gestel wat hom die geleentheid sal gee om met verloop van tyd tot R10 miljard in die plaaslike effektemark te leen.

Customers shop for garments at a Pepkor Ltd. store
Klante doen inkopies in een van Pep se winkels. Foto: Getty Images

Die genoteerde kleinhandelaar het onlangs vir die eerste keer ’n gradering van Moody’s gekry omdat hy oorweeg om geld in die mark te leen.

Pepkor het gesê hy wil sy finansieringsbronne diversifiseer en sy finansieringskoste verminder.

Die maatskappy moes in 2018 ná die ineenstorting van Steinhoff noodgedwonge ’n aandeelhouerslening van R16 miljard van Steinhoff met bankfinansiering herfinansier.

LEES OOK: Steinhoff gooi skadu oor Pepkor se gradering

Sy rentedraende skuld het einde September verlede jaar R17 miljard beloop.

Die maatskappy het Woensdag gesê hy het toestemming van die JSE gekry vir die program en sal van tyd tot tyd daarvolgens effekte uitreik tot ’n maksimum van R10 miljard.

Pepkor se aandeelprys het Woensdag in ’n stadium met meer as die res van die mark, naamlik met bykans 3% tot R15,98, gestyg. Dit het later effens teruggesak en was toe 2% hoër vir die dag op R15,88.

Sy aandeelprys het einde Februarie tot sy laagste vlak sedert sy notering in September 2017 as Steinhoff Africa Retail (Star) gedaal.

Dié vlak van R15,36 was selfs laer as die vlak waarheen dit in Desember 2017 geval het met die ineenstorting van Steinhoff.

Ander kleinhandelaars is ook op hul laagste vlakke in jare.

Wat is koronavirus se impak?

Pepkor het by navraag gesê hy verwag dat Covid-19 ’n impak gaan hê op sy verskaffingsketting, maar dit is in dié stadium te vroeg om die omvang daarvan te bepaal.

Die maatskappy het gesê sy produkte word gelukkig lank vooruit bestel voor dit op winkelrakke benodig word. Dit gee die aankoopspan meer tyd om takties te reageer op potensiële ontwrigting van die verskaffingsketting.

Verskeie stappe is geneem om die potensiële impak te versag, volgens die groep.

Pepkor, wat die winkelgroepe Pep, Ackermans, Bradlows, Russells, Dunns, Shoe City, Incredible Connection, JD Group en HiFi Corp besit, het einde September verlede jaar ’n inkomste van bykans R70 miljard gehad.

Einde September verlede jaar het die groep 56 000 werkers gehad.

Die inligtingsdokument oor die skuldbriefprogram verskaf algemene en spesifieke risiko’s wat beleggers in die oog moet hou wanneer belê word.

Agt spesifieke risiko’s word gegee, waaronder wat die impak kan wees as daar ’n ontwrigting in sy verskaffingsketting kom. Die maatskappy sê ’n “wesenlike deel van sy goedere kom uit China en enige ontwrigting aan sy verskaffingsketting, insluitende die verlies van belangrike strategiese geriewe, kan lei tot ’n ontwrigting van sake en ’n verlies aan inkomste”.

Pepkor wys ook voornemende beleggers op “verskeie regsgedinge met die voormalige eienaars en bestuur van Tekkie Town” waarin hy gewikkel is.

Tekkie Town is voorheen deur Steinhoff gekoop en is nou deel van Pepkor.

Beleggers word ook gewys op ’n klagte teen JD Group wat die Nasionale Kredietreguleerder na die nasionale verbruikerstribunaal verwys het oor kredietversekering wat aan verbruikers verkoop is.

Meer oor:  Steinhoff  |  Pepkor  |  Pep  |  Ackermans  |  Covid-19  |  Kleinhandelaars  |  Kleinhandel  |  Koronavirus  |  Winkelgroepe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.