Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Perlemoen verloor glans te midde van pandemie

Die Covid-19-pandemie het die gewoonlik lonende mark vir perlemoen swaar getref.

Die bekende Zoo-koekies van Bakers, wat deur AVI besit word. Mense het in die tweede helfte van 2020 minder koekies geëet.

Die vraag na perlemoen in China en Hongkong, waar dit uiters gewild is, het gedaal, en daarmee saam die prys daarvan, omdat restaurante gebuk gaan onder inperkingsregulasies. Aan die ander kant het uitvoerkoste die hoogte ingeskiet omdat handelsvlugte skaarser en duurder geword het.

Dit het I&J behoorlik seergemaak. I&J behoort aan die genoteerde firma AVI, wat ook eetgoed (Willards, Bakers), tee en koffie (Freshpak, Frisco), skoene en klere (Green Cross, Spitz) en kosmetiek (Yardley, Lenthéric) in sy stal het.

AVI het Maandag sy resultate uitgereik vir die eerste helfte van sy boekjaar, die ses maande tot einde Desember. Dit toon die hele groep se inkomste het effens, met 0,1%, tot R7,13 miljard gedaal teenoor 2019 se halfjaarinkomste.

Die groep het een van min genoteerde maatskappye geword wat ’n halfjaardividend uitkeer toe dit ’n enorme R4,40 uitgekeer het – R2,80 daarvan ’n spesiale dividend danksy die verlaging in die groep se skuldvlakke en sy stewige kontantreserwes.

AVI is uiters pessimisties oor verkope oor die volgende paar maande.

Verkope van versnaperinge en tee en koffie begin normaliseer, maar so lank as baie mense van die huis af werk, sal verkope van grimering en parfuum swak bly.

In syfers

AVI se syfers vir die eerste helfte van sy boekjaar, tot einde Desember 2020, vergelyk as volg met dieselfde ses maande van 2019:

  • Inkomste daal met 0,1% tot R7,13 miljard
  • Bedryfswins daal met 2,6% tot R1,42 miljard
  • Wesensverdienste styg met 1,2% tot 297,3c per aandeel
  • R18 miljoen se Covid-19-verwante koste is aangegaan
  • ’n Tussentydse dividend van R1,60 per aandeel en ’n spesiale dividend van R2,80 word uitgekeer.

Entyce Beverages

Suid-Afrikaners drink al hoe meer tee, sowel rooibostee as swarttee. Rooibostee se prys het gedaal, wat die volume verkope van Freshpak aangehelp het, en met swarttee het mense oorgeslaan na billiker handelsname soos Trinco. AVI het gevolglik 2,4% meer uit tee verdien.

Die hele afdeling vir koeldrank, water, tee en koffie se inkomste het met 0,7% tot R1,95 miljard gedaal, maar die bedryfswins het met 2,9% tot R473 miljoen gestyg en die bedryfswinsgrens kon met 0,8 van ’n persentasiepunt tot 24,2% gelig word, grootliks danksy prysverhogings en streng kostebeheer.

Die groep se koffieverkope was 13,8% minder as in dieselfde ses maande van 2019, grootliks omdat AVI se topverkoper gewoonlik Ciro is, wat in baie hotelle, restaurante en kantore gebruik word. Die verkope van kits- en filterkoffie, waaronder House of Coffees, Frisco en Koffiehuis, het wel gestyg.

Verkope van Ellis Brown-verromer het met 12,5% gestyg, danksy ’n styging van 4,2% in volume en prysverhogings.

Snackworks

Mense het minder koekies, maar meer skyfies en brosbrood soos Pro-Vita geëet. AVI besit Bakers, Willards, en Baker Street.

AVI merk ook op dat mense groter verpakkings verkies sodat hulle minder gereeld winkel toe hoef te kom.

Dié afdeling se verkope het met 5,4% tot R2,36 miljard gestyg en die bedryfswins het met 3,6% tot R506,7 miljoen gestyg. Die winsgrens het effens gedaal, met 0,4 van ’n persentasiepunt, tot 21,4%.

I&J

Die vissery I&J se inkomste het in die ses maande tot Desember met 4,5% tot R1,2 miljard gestyg, maar sy bedryfswins het met 25,5% tot R125,9 miljoen geval. Die bedryfswins het met 4,1 persentasiepunte tot net 10,2% gedaal.

I&J is besig met herstrukturering by sy perlemoenplaas by Danger Point in Gansbaai.

As perlemoen nie bygereken word nie, was visvangs soortgelyk aan dieselfde ses maande van 2019.

’n Styging in verkope onder verbruikers het vergoed vir die daling in verkope aan restaurante.

Persoonlike sorg

Verkope van grimering en parfuum het in 2020 gedaal en Yardley en Lenthéric was geen uitsondering nie. Die afdeling, wat sake doen as Indigo Brands, het met 6,6% tot R642,1 miljoen gedaal. Die groep sê teen Desember was verkope egter weer 97% van die verkope van Desember 2019.

Omdat nuwe produkte nie bekendgestel is nie, was die afdeling se koste byna 15% laer en kon sy bedryfswins met 17,3% tot R109,7 miljoen verhoog word. Die bedryfswinsgrens is ook heelwat hoër op 17,1%.

Skoene en klere

AVI besit Spitz, Green Cross en Gant. Die afdeling se inkomste het met 12% tot R934,6 miljoen gedaal, grootliks omdat skoenverkope met 13,7% in volume geval het.

Die inkomste het begin herstel na die einde van die jaar toe soos mense weer winkelsentrums begin besoek het en was teen Desember 90% van Desember 2019 se verkope.

’n Aantal Green Cross-winkels wat gesukkel het, is gesluit. AVI het verlede jaar die Green Cross-fabriek in Kaapstad gesluit en alle Green Cross-skoene word nou oorsee vervaardig.

Die afdeling se bedryfswins het met 15,6% tot R208,9 miljoen gedaal en die bedryfswinsgrens met byna ’n persentasiepunt tot 22,4%.

    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.