
Peter MoyoFoto: Argief
Peter Moyo, voormalige uitvoerende direkteur van Old Mutual, het as nie-uitvoerende direkteur by Nedbank bedank.
Nedbank sê Vrydagoggend in ’n kort verklaring op Sens, die JSE se nuusdiens, dat Moyo in 2018 ná die ontknoping van Old Mutual aangestel is as deel van ’n ooreenkoms tussen Old Mutual en Nedbank om een direkteur op die bank se direksie aan te stel.
Dié ooreenkoms geld vir solank as wat Old Mutual ’n belang van 15% of meer in Nedbank besit.
Moyo was die afgelope jaar gereeld in die nuus nadat Old Mutual hom in 2019 twee keer as uitvoerende hoof afgedank het.
In die mees onlangse verwikkeling in dié saak is Moyo se aansoek om te keer dat Old Mutual ’n permanente plaasvervanger vir hom kry op 17 Maart deur die hooggeregshof in Johannesburg van die hand gewys.