Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Markus Jooste stel ou vriend op familietrust aan
Rian du Plessis, uitvoerende hoof van Phumelela.

Vir die eerste keer sedert Desember het ’n vriend van Markus Jooste, wat onder ’n wolk as uitvoerende hoof van Steinhoff-groep bedank het, meer vrae beantwoord oor sy vriendskap met Jooste.

Rian du Plessis, uitvoerende hoof van Phumelela, het aan Netwerk24 verduidelik hoekom hy as ’n verteenwoordiger van Jooste se familietrust aangestel is.

Netwerk24 het Dinsdag berig oor die hofaansoek wat deur die Mayfair-beleggingsmaatskappye van Jooste in die hooggeregshof in Kaapstad ingedien is om die reëlingskema met sy skuldeisers goed te keur.

In die hofstukke is Mayfair Speculators beskryf as ’n maatskappy wat bedrywig is in die perdestoetery- en perdewedrenbedryf wat regstreeks of deur filiale sowat 400 perde vir teel en vir afrigting het. Die maatskappy het ook ’n belang in die Franse maatskappy Mayfair Speculators, wat 100 perde besit.

Die notules vir die skuldeiservergadering wat einde Maart gehou is, wat as aanhangsels tot die hofstukke by die hof ingedien is, wys Du Plessis het verskeie belange op die vergadering verteenwoordig:

  • Die Silver Oak Trust wat ’n ondergeskikte eis van R108,7 miljoen teen Mayfair Holdings het;
  • Pavilion Capital Investments Beperk, wat ’n ondergeskikte eis van R420 miljoen teen Mayfair Holdings het; en
  • Formal Holdings, wat ’n ondergeskikte eis van R867,5 miljoen teen Mayfair Speculators het.

Du Plessis, wat tans in Europa is, het per e-pos op navrae gereageer:

“Markus Jooste en ek het in Januarie 1979 as studente aan die Universiteit van Stellenbosch ontmoet. Ons en ons gesinne is sedertdien baie goeie persoonlike vriende.”

Volgens hom het Jooste hom onlangs gevra om ’n trustee van die Silver Oak Trust te wees.

Dit is ’n trust wat tot voordeel van lede van die Jooste-familie opgerig is, sê Du Plessis.

Hy is Februarie 2018 as trustee aangestel.

Na my mening is veral die ordelike verkoop van die perde die beste uitslag vir alle belanghebbendes in die perdewedrenbedryf in Suid-Afrika sowel as vir die perde wat betrokke is.
Rian du Plessis

Du Plessis sê die trust is die alleenaandeelhouer van Mayfair Holdings, wat op sy beurt weer die alleeneienaar van Mayfair Speculators is.

Du Plessis sê die Mayfair-maatskappye het die reëlingskema ingevolge art. 155 van die Maatskappywet aan hul krediteure voorgestel om die maatskappye genoeg tyd te gee om hul bates, insluitende talle perde wat afgerig word en deel van ’n stoet is, op ’n ordelike wyse te verkoop om sodoende alle krediteure ten volle te betaal.

“Na my mening is veral die ordelike verkoop van die perde die beste uitslag vir alle belanghebbendes in die perdewedrenbedryf in Suid-Afrika sowel as vir die perde wat betrokke is.”

Phumelela Gaming & Leisure is ’n genoteerde onderneming wat lisensies het om perdewedrenne en perdewedren-weddenskappe in sewe van die land se nege provinsies te bedryf.

Jooste was van Desember 2005 tot Desember 2017 ’n direkteur van Phumelela. Nadat hy by Steinhoff bedank het, het hy ook as direkteur van verskeie ander maatskappye bedank, waaronder die Mayfair-maatskappye.

Jooste het van 2006, toe hy 1,8% of 1,3 miljoen aandele in Phumelela gehou het, sy belang tot 4,6% of 4,7 miljoen aandele wat hy onregstreeks gehou het, opgestoot teen einde Julie 2017, waarskynlik deur Kalamojo Trading & Investments.
Kalamojo, ’n maatskappy wat hy saam met Bernard Kantor, besturende direkteur van Investec, besit, het einde Maart 9,4 miljoen aandele of 9,3% van Phumelela besit.

Du Plessis ontken Jooste is ’n aandeelhouer in Phumelela. Hy het egter nie op opvolgvrae gereageer of hy bedoel Jooste is nie ’n regstreekse aandeelhouer nie.

Dié foto verskyn op die webtuiste van Capethoroughbredsales waarin Mayfair van Markus Jooste 'n belang het. Die foto is geneem by Augustus 2016 se Equus-toekennings. Van links is Rian du Plessis van Phumelela, Pippa Mickleburgh, die perd Legal Eagle se teler, Sean Tarry, sy afrigter, en Markus Jooste, sy mede-eienaar in daardie stadium. Jooste het die perd saam sy vrou, Ingrid, besit.

Pavilion, een van die ander maatskappye wat Du Plessis op die vergadering met skuldeisers verteenwoordig het, dui sy kontakpersoon in die reëlingsooreenkoms aan as Malcolm King.

King se naam het die afgelope maande gereeld in berigte opgeduik as ’n vermeende sakevennoot van Jooste, maar niemand kan hom opspoor nie.

Oor hom het Du Plessis gesê: “Ek het Malcolm King in 1999 ontmoet en ons het goeie persoonlike vriende geword in die 17 jaar dat ek en my gesin oorsee gebly het.”

Volgens hom is King ’n direkteur van Pavilion Capital Investments én Formal Holdings.

King is ’n Britse burger.

“Hy kon nie die vergadering self bywoon nie en het my benoem om ten gunste van die reëlingskema te stem namens Formal en Pavilion.”

Meer oor:  Steinhoff  |  Mayfair  |  Markus Jooste  |  Trust
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.