Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Phumelela lag oor klag dat hy renbedryf ‘kaap’
Perde neem deel aan 'n wedren. Foto: Wikipedia

Die genoteerde perdewedrengroep Phumelela Gaming & Leisure sê ’n klag by die openbare beskermer (OB) oor die beweerde kaping van die wedrenbedryf deur hom en Markus Jooste, “ ’n aandeelhouer” is lagwekkend.

Rian du Plessis, uitvoerende hoof van Phumelela, sê hulle het geen formele kennisgewing gekry dat die OB openbare verhore hieroor gaan hou nie en weet dus nie waaroor dit gaan nie.

Die persoon wat glo die klag aanhangig gemaak het, het ’n lang geskiedenis van onsuksesvolle litigasie teen Phumelela, sê Du Plessis. Hy ontken ook dat Jooste, gewese uitvoerende hoof van Steinhoff en ’n groot rolspeler in perdewedrenkringe, aandele in Phumelela het. Phumelela se jongste aandeleregister wys egter wel dat Jooste steeds regstreeks en onregstreeks aandele in Phumelela het.

Sportingpost.co.za het berig dat die OB die beweerde wanadministrasie van perdewedrenne in Gauteng gaan ondersoek, asook die rol wat Jooste en Phumelela daarin gespeel het.

Jooste het sedert die Steinhoff-skandaal oopgevlek is, sy lidmaatskap van die Nasionale Perdewedrenowerheid prysgegee, sy wedrenkleure teruggegee en al die perde wat hy besit het, verkoop.

Die OB-ondersoek spruit glo uit ’n klag van Phindi Kema, stigter van die Africa Race Group.

Phumelela sê in ’n verklaring Kema het ’n geskiedenis van klagte en litigasie sonder enige meriete teen Phumelela.

Dit sluit in die appèl teen ’n bevinding van die Mededingingstribunaal wat sy sonder sukses na die mededingingsappèlhof en die konstitusionele hof geneem het.

Dit het haar ’n kostebevel van albei die twee howe op die hals gehaal wat meer as R250 000 beloop. Ten spyte van eise wat teen haar ingestel is, het sy dit nog nie betaal nie, sê Phumelela.

Volgens die groep is die oorspronklike klag reeds in 2013 by die OB ingedien.

'Regte proses nie gevolg'

Kema het beweer die Gautengse provinsiale regering het in 1997 die Arlington-renbaan in Port Elizabeth aan Phumelela oorgedra sonder dat die regte proses gevolg is.

“Die voor die hand liggende en onmiddellike vraag is hoe waarskynlik dit is dat die Gautengse regering ’n renbaan in Port Elizabeth besit? Die bewering is lagwekkend om die minste te sê,” sê Du Plessis.

Die maatskappy het bewyse aan die OB voorgelê dat Arlington nie deur die Suid-Afrikaanse regering of enige ander openbare owerheid besit is sedert minstens 1815 nie.

Phumelela het sy renbane bekom van perdewedrenklubs wat aan die lede behoort het.

“Geen renbaan is van die regering gekoop nie.”

Die maatskappy sê hy sal voortgaan om saam te werk met die OB se ondersoek wat betref sake wat met die staat of openbare administrasie verband hou.

Du Plessis sê hy is nie genooi om deel te neem aan die openbare verhore nie en hy weet ook nie wie die OB beoog om as getuies te roep nie.

Robin Bruss, ’n bekende agent van volbloedperde, het in kommentaar onderaan die berig op Sportingpost.co.za. bevestig hy is gevra om op die verhoor te getuig.

“Daar is geen twyfel dat die wedrenbedryf gekaap is nie en diegene wat verantwoordelik is, moet daarvan rekenskap gee,” het hy gesê.

Nog kommentaar van ene Jess K. lui: “Van ons sê al vir nagenoeg ’n dekade tot vervelens toe die bedryf is gekaap.”

Jooste word by name genoem as een van die betrokkenes in die sogenaamde kaping van die bedryf.  Hy reageer sedert Desember op geen medianavrae nie.

'Totale nonsens'

Du Plessis het oor die aantygings van kaping gesê: “Dit is totale nonsens.”

Hy sê Phumelela is in 1997 gevorm toe drie Gautengse renklubs – Turffontein, Newmarket en Gosforth Park – gekorporatiseer is. Phumelela het met onder meer aandele hiervoor betaal.

Die Gautengse regering se betrokkenheid by die korporatisering het “hoofsaaklik gesentreer om instemming om die belasting op perdewedrenne te verminder (wat in pas gebring moes word met ander vorms van dobbelary wat destyds wettig was) en om die Perdewedren-ontwikkelingsfonds te ontbind”, sê Du Plessis.

“Ek beklemtoon weer Phumelela het nie enige van die drie renbane in Gauteng van die Gautengse regering bekom nie.”

Volgens hom het Phumelela later bates van perdewedrenklubs van die Oos-Kaap, die Vrystaat en die Noord-Kaap bekom.

“Die Gautengse regering was nie betrokke by enige van die transaksies tussen die klubs en Phumelela nie.”

Die klubs se lede het die transaksies met die vereiste meerderheid goedgekeur.

Du Plessis weet nie of Jooste gaan getuig by die openbare verhore nie.

Jooste het in Desember ook by Phumelela bedank as direkteur nadat die bom gebars het oor sy beweerde betrokkenheid by ongerymdhede met Steinhoff se boeke en hy by dié maatskappy as uitvoerende hoof bedank het.

Jooste se aandeelhouding

Jooste is ’n mede-aandeelhouer in Kalamojo Trading and Investments saam met Bernard Kantor, ’n jare lange direkteur van Phumelela en sedert Desember ook die voorsitter.
Kantor is die besturende direkteur van Investec.
Luidens die jongste aandeleregister het Kalamojo einde Maart 9,2% van Phumelela se aandele gehou. Jooste hou dus deur Kalamojo aandele in Phumelela.
Ouer aandele-registers van die dataverskaffer Iress wys Jooste het tot onlangs ook in sy eie naam 4,7 miljoen aandele in Phumelela, of 4,6%, gehou. Die jongste aandeleregister wat deur Phumelela verskaf is, wys hy hou steeds 2 051 in sy eie naam.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.