Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Phumelela: Vakbond ‘praat twak’ oor afdankings

Die genoteerde perdewedrengroep Phumelela Gaming & Leisure is vies vir die Academic and Professionals Staff Association (Apsa) wat beweer dat dié maatskappy sy werkers sleg behandel.

Phumelela maak geld onder meer uit die regstreekse uitsending van Suid-Afrikaanse perdewedrenne na ses vastelande.

Die vakbond beweer ook in ’n mediaverklaring daar is tans ’n afdankingsproses by Phumelela aan die gang.

Rian du Plessis, uitvoerende hoof van Phumelela, sê die proses is reeds afgehandel en dit was ’n vrywillige afleggingsproses.

Sowat 230 werknemers het vrywillige afleggings- en vroeë aftreepakkette aanvaar.

Volgens hom is die afleggings genoodsaak deur die verliese wat Phumelela in sy plaaslike wedren- en wedderybedrywighede gely het.

Hy het gesê die pakkette is tussen September en Desember verlede jaar aangebied ná konsultasie met die South African Commercial, Catering and Allied Workers’ Union (Saccawu).

Hy ontken ook soos Apsa beweer dat werkers nie dienskontrakte, betaalstrokies, voorsorgfondse en mediese skemas het nie.

“Alle Phumelela-werkers het kontrakte, betaalstrokies, ’n voorsorgfonds en ’n opsionele mediese skema.”

Hy sê Phumelela is einde Junie, vroeg Julie, deur die departement van arbeid geoudit en geen nienakoming is gevind waarvan hy verwittig is nie.

Boonop het geen werker by Phumelela, insluitende bestuurslede, bonusse gekry in die 2017-boekjaar nie of ’n verhoging vir die 2018-boekjaar wat einde Julie eindig nie, volgens hom. Hy sê dit is uit simpatie met die werkers gedoen wat pakkette aanvaar het.

Du Plessis het die vakbond se bewerings as onwaar en lasterlik afgemaak.

Alle Phumelela-werkers het kontrakte, betaalstrokies, ’n voorsorgfonds en ’n opsionele mediese skema.

Volgens hom het Saccawu as die grootste vakbond in die bedryf regte om kollektiewe bedinging te doen. Twee ander vakbonde (Eccawusa en Ucimecshawu) het ook organisatoriese regte as vakbonde by die groep.

Du Plessis sê Apsa het onlangs aansoek gedoen om organisatoriese regte en dit sal ingevolge arbeidswetgewing oorweeg word.

Apsa sê hy is “geskok en getraumatiseerd” oor die toestande waaronder werkers van Phumelela werk.

Die vakbond het ook na die miljoene verwys wat topbestuur van Phumelela verdien.

’n Beroep is op die minister van arbeid gedoen om die maatskappy vir onwettige afdankings te ondersoek.

Du Plessis sê topbestuurslede se vergoeding word deur ’n onafhanklike vergoedingskomitee bepaal en word daarna deur die direksie goedgekeur. Dit is in ooreenstemming met goeie korporatiewe bestuur.

Volgens hom is die vergoeding van Phumelela se uitvoerende direkteure markverwant.

Meer oor:  Vakbonde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.