Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Phumelela val met 17% ná nuus oor verlies

Die aandeelprys van die perdewedren- en dobbelgroep Phumelela Gaming and Leisure het Maandagoggend met 17% getuimel nadat ’n handelsoorsig wys hy is in die knyp met sy skuld en gaan ’n verlies in die boekjaar tot einde Julie ly.

Phumelela maak geld uit die regstreekse uitsending van Suid-Afrikaanse perdewedrenne na ses vastelande.

Phumelela sukkel sedert einde Desember 2017 nadat een van sy invloedrykste aandeelhouers, Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, as direkteur bedank het. Dit was op dieselfde dag wat Jooste onder ’n wolk by Steinhoff bedank het.

Phumelela het Vrydag laatmiddag ’n handelsoorsig uitgereik waarin gesê is sy wins vir die boekjaar tot einde Julie is geknou deur die besluit van Gauteng se dobbelraad om regulasies te wysig wat ’n heffing wegneem wat die groep al vir 20 jaar van wengeld kry.

Gauteng belas wengeld met 6% en Phumelela het die helfte daarvan teruggekry.

Volgens Phumelela was die heffing deel van ’n ooreenkoms tussen die regering van Gauteng en die perdewedrenbedryf om die volhoubaarheid van perdewedrenne te verseker. “Phumelela moet die koste van perdewedrenne dra en die inkomste van ander bronne is nie genoeg om dit te dek nie.”

’n Aansoek is onlangs in die hooggeregshof gebring om die wysiging in die regulasie te laat hersien en ter syde te stel.

Die maatskappy het al met die aankondiging van sy halfjaarresultate gewaarsku oor hoe onseker toestande is. Volgens die maatskappy is die omstandighede in die tweede helfte van sy boekjaar erger as verwag, en dit word vererger deur die wysiging van die regulasie deur Gauteng se dobbelraad.

Die groep se perdewedren-bedrywighede ly op ’n alleenstaande grondslag reeds vir jare ’n verlies en dit vererger elke jaar. Die verlies is vererger deur die heffing wat verwyder is. Die groep voer aan dit ontneem hom van meer as R6 miljoen per maand se inkomste.

Hy gaan in geheel ’n verlies in die boekjaar tot einde Julie ly.

Phumelela sê gegewe die verswakking in sy wins en die heffing wat hom ontneem is, bevind die groep hom in ’n moeilike situasie.

Volgens die groep het dit veroorsaak dat hy sy leningsooreenkomste vir sy lenings van R300 miljoen geskend het.

“Phumelela se finansiële bestuur is gereeld in kontak met bankhoofde om hulle op die hoogte van die situasie te hou,” lui ’n verklaring op die JSE se nuusdiens.

Die groep het nie ’n dividend vir die halfjaar verklaar nie.

Geen dividend gaan ook vir die boekjaar verklaar word nie omdat die maatskappy nie in ’n posisie is om dit te doen nie, lui die verklaring.

Die groep moes reeds bates verkoop om te help met die kontant wat hy nodig gehad het vir sy bedrywighede en om die vorige boekjaar se finale dividend te betaal.

Die groep onderhandel tans om nog ’n bate te verkoop.

Die groep het ook die gesprekke hervat wat verlede jaar beëindig is om ’n realistiese en konstruktiewe plan te kry wat tot voordeel van die wedrenbedryf en sy aandeelhouers sal wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.